Vermy die slaggat van impulsiewe aankope

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

Menige Suid-Afrikaner slyp al heel jaar lank hul tande vir die winskopies en aanbiedinge wat vanjaar tydens Swart Vrydag aangebied gaan word. Baie mense is bereid om lang ure in die verkeer en toue in die winkels deur te bring en trap dikwels in die strik om meer uit te gee as wat hulle wou of om geld te bestee wat hulle nie eintlik kan bekostig om te verkwis nie.

Yanga Nozibele, ʼn beleggersvennoot by Cannon-batebestuurders, raai verbruikers aan om eerder hul geld te spaar en te belê, om sodoende werklike rykdom te bou, as om impulsiewe aankope te doen.

Sy voer aan dat Suid-Afrikaners al hoe meer in die slaggat van skuld trap, omdat hulle bo hul inkomste leef en eerder hul onmiddellike behoeftes wil bevredig as om op langtermyndoelwitte te fokus. Die probleem is egter dat Suid-Afrikaners wat in ʼn afwaartse skuldspiraal vasgevang is, dikwels sukkel om selfs net die rente op hul skuld te betaal, wat hulle dan dieper in die finansiële verknorsing laat beland.

Volgens die jongste statistiek van die Suid-Afrikaanse Reserwe Bank, blyk dit dat die verhouding van huishoudelike skuld tot besteebare inkomste in die tweede kwartaal van 2019 tot soveel as 72,7% is. “Dit wys dat huishoudings in die land tans besig is om te verdrink in hul skuld,” sê Nozibele.

Tog is dit makliker gesê as gedaan om aanloklike aanbiedinge te vermy en Nozibele stel dus voor dat Suid-Afrikaners hulself voorberei deur die volgende stappe te doen:

Vra jouself die belangrikste vraag: het ek dit werklik nodig

Nozibele verduidelik dat Swart Vrydag vir die meeste kleinhandelaars die kans bied om ontslae te raak van voorraad wat deur die jaar opgegaar en onverkoop gebly het. Baie van die items, meen sy, is dus goed wat jy nie normaalweg sou oorweeg het om te koop nie.

Sekere kleinhandelaars, veral in die VSA, is ook al uitgevang waar hulle die oorspronklike prys hoër weergee as wat dit werklik was en verbruikers dan laat glo dat hul winskopie eintlik groter is as wat dit werklik was. Talle kleinhandelaars in die VSA is in 2016 oor dié slenter hof toe gesleep.

Besluit vooraf wat jou prioriteite is

Hoewel dae soos Swart Vrydag ʼn aansienlike duik in jou beursie kan maak as jy nie reg beplan nie, is dit onmoontlik om die besparingsgeleenthede wat dit bied, te ignoreer.

Dit mag dalk ʼn sitkamerbank wees wat jy nodig het, maar nog nie kon bekostig nie, wat nou op afslag is.

“Die kern van die saak is om ʼn balans te vind en te beplan voor jy koop. Stel vir jou ʼn begroting op, skryf jou inkopielys neer; met die belangrikste items bo-aan die lys en hou daarby en doen jou navorsing oor pryse van items,” stel Nozibele voor.

Kyk uit vir slenters

ʼn Vol parkeerarea in Johannesburg op Swart Vrydag. Foto: ANA

Sy verduidelik dat as verbruikers seker maak wat die werklike pryse van items is, sal hulle nie maklik met ʼn slap riem gevang word nie. “Wees ook op jou hoede vir aanlyn slenters, wat verbruikers se gierigheid uitbuit en hulle lok om vir aanbiedings te betaal wat nie bestaan nie.”

Dan is daar ook dikwels gemorspos en SMS’e wat mense lok om ʼn skakel te volg wat vervalsde geskenkbewyse aanbied, of inskrywings op sosiale media wat mense indoen. Sommige swendelaars gebruik byvoorbeeld Facebook om ’n groot gehoor te bereik deur klik-aas-titels en opvallende poste om individue te oortuig om hul persoonlike inligting (wat dan verkoop word) te deel, of anders ’n skakel te volg na ’n webwerf wat virusse op hul rekenaars of skootrekenaars aflaai.

“As jy verkies om jou inkopies eerder aanlyn op Swart Vrydag te doen, maak net seker dat dit slegs handelaars is wat jy kan vertrou. Doen navorsing oor die geloofwaardigheid van die onderneming as jy onseker is,” sê Nozibele.

Moenie koop omdat almal dit doen

Handelaars misbruik dikwels die kudde-mentaliteit en mense se vrees om iets mis te loop, om kopers te lok, waarsku sy. “Onthou, November is maar net die begin van die feesseisoen, so daar sal nog baie winskopies in die winkels wees.

“In plaas daarvan dat jy die nuwe jaar met skuld begin, weerhou jouself daarvan om impulsiewe aankope te doen en doen jouself eerder die guns om die nuwe jaar met minder skuld en minder spanning in te gaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Judge Dredd ·

Nee – julle ouens moet gaan koop die swart Vrydag – dan kan ek die daaropvolgende 3 maande my inkopies in rus en vrede geniet.
Want daar is mos nog vakansie, Kersfees, nuwejaar, back to school uitgawes waarvan mense eers so teen Maart Maand begin herstel.

NeeBroer ·

Ek gaan net mooi niks koop vrydag nie – en gaan glad nie naby enige winkel kom wat die ingevoerde amerikaanse nonsens bemark of beoefen nie.

Dis simpelgeid

MJ ·

Ek stem saam… Gaan nie deel wees van daardie vertrapping nie. Daar is in elkgeval nie geld vir ditjies en datjies nie.

Schalla ·

Dis nou preek vir die verkeerde koor. Hoekom nie skuld maak nie en eerder spaar? Links en regs word mense wat nie kan betaal nie se skuld deesdae afgeskryf, watse boodskap stuur dit uit? Leef bo jou vermoeens en maak maar skuld, dit sal afgeskryf word en as dit nie afgeskryf word nie dan brand jy net alles af totdat dit afgeskryf word – dis hoe dit werk in die R S A ! Om te werk en finansieel te beplan en te spaar en belê vir die toekoms en ‘n erflating vir jou onmiddelike nasate agter te laat is ‘n koloniale konsep en alles moet mos decolonize word.

emily ·

Black Friday is net soos al die kastige Specials. As jy jou pryse van die winkel ken waar jy elke maand koop, sal jy wel sien, van die sg. Specials is duurder as jou gewone produk.
Mense val te maklik vir die strooi.

jaco ·

waar is die ekonomiese resessie en rommelstatus van ons ekonomie dan nou???

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.