Voorkom só dat vals advertensies jou fop

slenter aanlyn bedrog

Argieffoto.

Selfone en ander elektroniese toestelle, meubels, motors, troeteldiere, vakansies en meer word menigmaal aanlyn teen ongelooflike en aanloklike pryse aangebied en soms is dit wérklik goeie kopies. Ongelukkig gebruik misdadigers egter gereeld fop-advertensies om niksvermoedende winskoopjagters enigiets van ʼn paar honderd, tot tienduisende rande te laat opdok vir ʼn kat in die sak.

Virseker maan Suid-Afrikaners om waaksaam te wees. “Daar is min dinge erger as om te besef dat jou hardverdiende geld in ʼn boef se beursie opgeëindig het, terwyl jy leë hande staan,” sê Ricardo Coetzee, woordvoerder van Virseker.

“Dit is maklik om ʼn vals advertensie aanmekaar te flans, dit professioneel te laat lyk en so aanloklik te maak dat dit ʼn mens ‘winskoopblind’ maak. ’n Oortuigende booswig gekombineer met ’n tekort aan gesonde skeptisisme aan die kant van die slagoffer maak hierdie soort misdaad ʼn baie gereelde verskynsel.”

Virseker bied die volgende wenke om vals advertensies uit te ken en jouself te beskerm:

Doen jou huiswerk: Doen deeglike navorsing oor die spesifieke item wat jy graag wil koop, maak seker wat die spesifikasies daarvan is en vind uit wat redelike pryse daarvoor is.

Gebruik betroubare platforms: Gratis advertensieplatforms is volop, so gebruik eerder dié wat gedetailleerde inligting van verkopers vereis, verkopers verifieer en aktief op fop-advertensies toeslaan.

Te goed om waar te wees: Wanneer ʼn winskopie te goed lyk om waar te wees, is dit waarskynlik. Dit is beter om verby te hou. Wees veral paraat op “teruggeneemde” items en “dringende verkope”.

Duiwel in die detail: Advertensies met breedvoeriger en akkurate besonderhede is gewoonlik meer betroubaar. Maak seker dat die item, beskrywing en foto ʼn honderd persent ooreenstem met mekaar én dit wat jy van die item weet. As die model van ʼn item byvoorbeeld verkeerd aangedui is of as die advertensie aandui dat dit ʼn private verkoper is, maar die foto is by ʼn handelaar geneem, wees versigtig. Hoe meer foute, hoe groter die kans dat dit ʼn slenter is.

Vra die nodige, basiese vrae met die intrapslag: Wanneer jy die verkoper kontak vra die volgende belangrike vrae:

  • Vra of die item nog beskikbaar is.
  • Bevestig die besonderhede en kry verdere, relevante inligting wat dalk nie in die advertensie verskaf word nie, soos prys, ouderdom, toestand, diensrekord, ondersteunende dokumentasie, waarborge, vorige skade of probleme ensovoorts.
  • Vra of, waar en wanneer jy die item kan besigtig.

Belangrik: Indien ʼn verkoper huiwerig is om enige van die bostaande vrae te beantwoord, of die gesprek in ʼn ander rigting stuur en druk op jou plaas, hou verby.

ID: Verifieer die verkoper se besonderhede waar moontlik en gaan – veral in die geval van ʼn handelaar – hulle tevredenheidstelling en terugvoer van kliënte wat voorheen met hulle te doen gehad het na. Selfs ʼn vinnige Google-soektog behoort te help.

Veiligheid eerste: Vermy dit om verkopers by plekke wat onveilig voorkom te ontmoet, veral verkopers wat ongemaklik is daarmee of weier om jou in ʼn openbare ruimte te ontmoet.

Met jou eie oë: Neem jou tyd om die item na te gaan en maak seker dat alles is en werk soos wat dit geadverteer is. Neem ʼn vriend of vertroueling saam net vir veiligheid. As die item en verkoper ver van jou af geleë is, vra iemand wat jy vertrou om dit namens jou te gaan besigtig.

Swart op wit: Versoek die item se handleiding of papierwerk waar dit van toepassing is.

Private inligting: Moenie persoonlike inligting – soos jou woonadres – met ʼn verkoper deel voordat jy sy besonderhede behoorlik nagegaan het nie.

Hou jou beursie toe: Moet nooit jou kredietkaart- of bankbesonderhede aan ʼn verkoper gee, of kontant saam met jou neem die eerste keer wanneer jy hom/haar ontmoet nie. Nadat jy seker gemaak het dat dit ʼn goeie en wettige kopie is, kan jy die nodige kontant by ʼn nabygeleë OTM onttrek of ʼn elektroniese oorplasing doen. Vermy dit om ʼn “hou deposito” – waar verkopers ʼn item vir jou reserveer – te betaal.

Twyfelagtige transaksies: Vermy verkopers wat daarop aandring om internasionale betalingsdienste te gebruik. Hulle sal jou meestal van vervalste fakture met die logo’s van bekende diensverskaffers, maar hulle eie bankbesonderhede, voorsien.

Klikbek: Rapporteer verdagte verkopers onmiddellik aan die owerhede en/of die eienaars van webtuistes waar die item geadverteer word.

“Die belangrikste reël is om niemand te vertrou nie en jou vertroue moeilik te maak om te wen,” sê Coetzee. “Die gesegde is nie verniet ‘Haastige hond verbrand sy mond’ nie. Boewe maak daarop staat dat jy hulle goedsmoeds sal vertrou, oorhaastige besluite sal neem en op dié manier vir hulle ʼn lekker betaaldag sal verseker. Wees eerder skepties, neem jou tyd, pas hierdie reëls toe en doen só jou deel om ʼn verrassingsvrye transaksie te verseker.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.