Vra vir Ed: Wat is die verskil tussen trusts en testamente?

Capital Legacy is een van die toonaangewende verskaffers van testamente en boedels in Suid-Afrika met meer as 370 000 kliënte en voorsiening van spesialisdekking vir regsonkostes van bykans R80 miljard.

Eduann Vorster, bemarkingsdirekteur by Capital Legacy, antwoord ʼn paar lesersnavrae. Het jy ook ʼn vraag? Gebruik die vorm in dié artikel om jou vraag vir Ed te stuur.

  • Lesersvraag: Ek is onseker oor die verskil tussen trusts en testamente. Watter een moet ek kies?

Ed sê:

Trusts en testamente is twee verskillende dinge.

’n Testament is ’n dokument wat jou finale wense bevat oor hoe jy wil hê jou boedel versprei moet word wanneer jy sterf. Jou testament bevat besonderhede van wie jou bates gaan erf wanneer jy sterf. Dit sluit byvoorbeeld jou eiendom, motors, juweliersware en beleggings in. Sonder ’n testament is daar geen duidelike instruksies oor hoe jy wil hê jou boedel versprei moet word nie. Die Wet op Intestate Erfopvolging sal dan van toepassing wees, wat beteken dat jou boedel volgens ’n vasgestelde formule deur die regering versprei sal word.

’n Trust, aan die anderkant, is ’n regstruktuur wat gestig word om eiendom en bates aan begunstigdes oor te dra. ’n Trust vereis deurlopende bestuur deur trustees, maar kan ’n nuttige struktuur vir boedelbeplanning wees.

Testamentêre trusts is trusts wat jy deur jou testament skep, en as dit korrek opgestel is, bied dit finansiële voorsiening, beskerming van bates en sekerheid vir begunstigdes totdat die begunstigdes hul erfporsie effektief op hul eie kan bestuur. Dit beteken dat hulle finansiële voogdyskap vir jou begunstigdes moontlik maak, net soos ’n voog wat vir jou kinders sal sorg.

By Capital Legacy het ons sulke trusts verpak in doelgerigte trusts wat aan die unieke behoeftes van begunstigdes kan voorsien.

Legacy Childrens Trust™

As jy deur jou testament voorsiening maak vir ’n kindertrust, sal dit geskep word vir minderjarige kinders wat ten tyde van jou dood jonger as 18 jaar is, en dit sal duur tot hulle die ouderdom van 18 jaar bereik, of die ouderdom bereik soos deur jou testament bepaal word.

Minderjarige kinders mag nie direk erf nie, en die skep van ’n testamentêre trust verseker dat hul erfporsie nie in die hande van voogde of die voogdyfonds gelaat word nie, en dat enige eiendom wat hulle mag erf, verhuur of verkooop kan word.

Legacy Widows Trust™

Jy kan ’n trust stig om jou eggenoot of lewensmaat se erfporsie te beskerm en om te verseker dat die gedeelte van die boedel wat aan hulle nagelaat word nie deur ander vermors of wanbestuur word nie. Daar kan sodoende voorsiening gemaak word vir jou eggenoot of lewensmaat todat hulle sterf. Boonop verseker hierdie struktuur dat jou kinders of ander begunstigdes ook voordeel uit jou boedel sal trek wanneer jou eggenoot of lewensmaat eendag afsterwe.

Legacy Providers Trust™

’n Trust wat geskep kan word om die deurlopende finansiële ondersteuning te verseker aan ’n individu wat finansiële hulp nodig het, nie vir homself/haarself kan voorsien nie, of hul eie finansies kan bestuur nie. Ouers van kinders met spesiale behoeftes soos serebrale gestremdheid of outisme gebruik dikwels hierde struktuur in hul testament om te verseker dat daar na hul kinders omgesien word, selfs in hulle latere jare.

Kontak ons gerus by capitallegacy.co.za vir meer inligting – ons bied gratis testament-konsultasies.

  • Klik hier om te sien watter vrae Ed voorheen beantwoord het.
  • Klik hier om vorige artikels deur Capital Legacy op Maroela Media te lees.

Het jy ook ‘n vraag? 

Het jy ook ‘n vraag oor testamente, trusts of boedels? Voltooi hierdie vorm sodat Ed dit kan oorweeg vir ‘n volgende moontlike lesersnavraag.

Die vorm is gesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.