Waagkapitaal: Sewe dinge wat jy móét weet

Deur Liza-Mari Oberholzer

(Argieffoto: Pixabay)

Innovering is kern vir die groei en ontwikkeling van enige land se ekonomie, en vir innovering kort die meerderheid maatskappye kapitaal. Dit is soms waar waagkapitaalfirmas inkom om besighede te help ontwikkel, te laat groei en uiteindelik – só hoop almal betrokke – ’n industrie te laat oorneem.

Hier is sewe punte wat jy van waagkapitaal móét weet voordat jy daarvoor probeer aansoek doen:

  1. ’n Misverstand wat soms oor waagkapitaal ontstaan, is dat kapitaal lukraak aan klein besighede verskaf word om te kyk of iets êrens vrugte afwerp. In der waarheid spandeer die meerderheid waagkapitaalfirmas eerder hul geld aan reeds gevestigde idees en speel hulle eerder ’n rol in die volgende stadium van invasie. Volgens berekeninge spandeer waagkapitaalfirmas sowat 80% van hul kapitaal om infrastruktuur te bou om besighede te laat groei. Dit sluit in vervaardiging, bemarking, verkope, die aanskaf van bates en bedryfskapitaal.
  2. Waagkapitaalbeleggings is die meeste van die tyd nie langtermyn nie. Die idee is om in ’n maatskappy te belê totdat dit groot genoeg is en om dan, nadat ‘n wins gemaak is, te onttrek.
  3. Waagkapitaalfirmas bestaan omdat daar ’n gaping in die mark is – veral as dit kom by besighede met nuwe tegnologie. Besighede met unieke idees (veral in die tegnologie-industrie) het gewoonlik min ander opsies vir beleggings aangesien banke gewoonlik slegs finansiering aan besighede met bestaande bates sal verskaf waarteen hulle hul skulde kan vereffen. Daarteenoor het tegnologie-gebaseerde besighede gewoonlik min fisiese bates om lenings mee te verseker. Om hierdie rede vul waagkapitaal die gaping tussen selfbefondsing (persoonlike lenings, familie en vriende wat in die idee belê, ens.) en banke.
  4. Dit is ’n mite dat waagkapitaalfirmas in goeie entrepreneurs met goeie idees belê. Die realiteit is dat hulle eerder kies om in goeie industrieë te belê. Waagkapitaalfirmas het ten doel om in industrieë te belê wat volgens voorspellings waarskynlik in die volgende paar jaar gaan groei of ontwikkel, maar hulle belê ook nie te vroeg nie. Indien die konsep of behoefte nog nie heeltemal gevestig is nie, sal hulle moontlik wag tot die vooruitsigte beter lyk.
  5. Waagkapitaalfirmas beskerm hulself gewoonlik so goed as moontlik wanneer hulle ’n belegging maak. Indien hulle byvoorbeeld ’n belegging van R5 miljoen sou maak en die besigheid sou onsuksesvol wees, sal waagkapitaalfirmas probeer om hul uitset te herwin deur eerste aanspraak op die maatskappy se bates of tegnologie te maak.
  6. In ruil vir die befondsing van een of twee jaar se kapitaal vir besighede, verwag waagkapitaalfirmas gewoonlik tien maal die belegging in opbrengs.
  7. Waagkapitaalfirmas speel dikwels ’n baie kleiner rol in die daaglikse werking van die besighede waarin hulle belê. Omdat hulle op enige gegewe oomblik in verskeie besighede belê, staan dié firmas nie soveel tyd aan besighede af nie. Daarbenewens het die beleggers nie noodwendig die nodige kennis van die industrie nie en word die bestuur van die besigheid gewoonlik aan die entrepreneur oorgelaat.

Wenke vir entrepreneurs om waagkapitaal te bekom:

  1. Besef dat dit moeilik is om kapitaal te bekom. Minder as 1% van besighede kan aanvangskapitaal bekom. Maak jou aanbieding aantreklik vir die belegger en vra jouself die vraag af: “Sou ek self in hierdie besigheid belê het as iemand dit aan my voorgelê het?”
  2. Beleggers belê in spanne. Maak seker jy stel ’n goeie span saam wat werklik die besigheid kan help groei.
  3. Ken jou syfers en wees realisties. Ken jou besigheid se finansies soos die palm van jou hand, want dit is beslis die kern waarna potensiële beleggers gaan kyk. Blote skattings of raaiskote gaan geen belegger oortuig om te belê nie.
  4. Begin met min. Begin met die minimum persoonlike belegging voordat jy eksterne beleggings in jou besigheid soek. Deur dit aanvanklik self te befonds, sal jy verseker dat jy nie te veel aandeelhouding in jou besigheid weggee nie.
  5. Weet waarna jou potensiële belegger op soek is. Sekere waagkapitaalfirmas se kernfokus is jou span. Ander fokus op die industrie en ander weer op die idee – weet waarna hulle op soek is en fokus daarop.
  6. Wees ’n uitstekende verkoopspersoon. Dit is nodig om jou idee aan beleggers te verkoop – maak seker jy glo in jou eie idee sodat jy dit met oortuiging aan ander kan verkoop.
  • Die artikel is verskaf deur Stigter,’n Afrikaanse e-tydskrif wat jóú help om ’n beter leier, entrepreneur en bestuurder te wees. Elke uitgawe is tussen 28-34 bladsye en artikels handel oor finansies, leierskap, bemarking en vertel die stories en lesse van suksesvolle Suid-Afrikaanse entrepreneurs. Teken hier in en ontvang maandeliks jóú Stigter-tydskrif

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

SjN ·

Die belangrikste is as dit te goed klink om waar te wees moet die rooi ligte flikker en hoe groter die opbrengs, hoe groter die risiko. Daar is nie n vinnige manier om ryk te word nie, punt.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.