Waarom hoes- en pynmedikasie nou in kleiner dosisse verpak word

Marilise van Biljon van Medipost. (Foto: Verskaf)

Marilise van Biljon van Medipost. (Foto: Verskaf)

Medikasie wat kodeïen bevat en oor die toonbank beskikbaar is vir aankope, kan doeltreffende korttermyn-verligting van pyn en hoes meebring, maar dié aktiewe bestanddeel kan verslawend wees indien dit nie korrek toegedien word soos deur ʼn opgeleide mediese praktisyn aanbeveel nie.

“Dit is belangrik dat Suid-Afrikaners kennis neem van die redes waarom hoeveelhede verminder is van dié medikasie wat deur apteke verskaf mag word sodat hulle verantwoordelike keuses kan maak betreffende medikasie wat oor die toonbank beskikbaar is,” het Marilise van Biljon, apteker en operasionele bestuurder by Medipost Pharmacy, luidens ʼn mediaverklaring gesê.

“Kodeïen is ʼn opiaat en behoort tot dieselfde chemiese familie as narkotiese dwelms soos heroïen en opium, en kan op dieselfde wyse verslawend wees indien dit vir ʼn lang tydperk gebruik word,” verduidelik Van Biljon.

Kodeïen word gemetaboliseer in die lewer waarna dit in morfien, ʼn baie sterk pynstiller, omgesit word. In laer dosisse, soos in medikasie wat by apteke beskikbaar is, kan kodeïen hoogs doeltreffend aangewend word om simptome soos matige pyn en hoes te verlig.

Regulasies

“In 2015 het die Medisynebeheerraad, wat nou as die Suid-Afrikaanse Gesondheidsprodukte-reguleringsowerheid (Sahpra) bekendstaan, voorgestel dat regulatoriese maatreëls ingestel moet word in ʼn poging om mense te help om nie afhanklik van kodeïen te raak en gevolglik ʼn verslawing te ontwikkel nie.”

Die nuwe regulasies plaas ʼn beperking van maksimum 80 mg van die aktiewe bestanddeel, beperk tot ʼn vyfdagkursus, wat oor die toonbank beskikbaar gestel mag word. Sedert dié regulasies in 2016 ingestel is, is ʼn aantal farmaseutiese vervaardigers genoop om die verpakking van medikasie wat kodeïen bevat en oor die toonbank te koop is, te verminder.

Gevolge vir die publiek

“Die publiek sou moontlik al agtergekom het: Waar dit byvoorbeeld voorheen moontlik was om ʼn pak van 100 kodeïenbevattende skeduletwee-pyntablette aan te koop, is dit nou net in pakke van 40 beskikbaar. Sekere hoesstrope wat dié aktiewe bestanddeel bevat, word nou in 100 ml-botteltjies verkoop teenoor die groter hoeveelhede waarin dit voorheen beskikbaar was,” het Van Biljon gesê.

“Dosisse vir medikasie in tabletvorm mag, byvoorbeeld, uit slegs twee tablette wat elkeen 10 mg kodeïen bevat, vier keer per dag, bestaan. Aptekers moet die gebruiker se identiteitsnommer, adres en foonnommer op rekord plaas en mag nie binne vyf dae nog kodeïenbevattende medikasie aan dieselfde persoon verkoop nie.”

Gevare van kodeïenverslawing

Volgens Van Biljon skaf verbruikers hoofsaaklik kodeïenbevattende medikasie aan vir die verligting van pyn.

“ʼn Persoon wat elke dag rugpyn ervaar, kan dalk vind dat ʼn kort kursus oor-die-toonbank-pynpille die pyn doeltreffend verlig. Die gevaar sluip in wanneer die persoon herhaaldelik die apteek besoek vir nóg medikasie, en dan mettertyd afhanklik raak daarvan.

“Namate die persoon se liggaam ʼn toleransie vir die medikasie opbou, neem hy of sy hoër dosisse om dieselfde vlak van pynverligting te bereik, en kort voor lank begin mense voel asof hulle die tablette moet gebruik om ‘normaal’ te voel,” verduidelik sy.

Voorkoming en ingryping

“My raad aan mense is om bewus te wees van die potensiële gevare wat kodeïenverslawing, wat langdurige newe-effekte tot gevolg kan hê, inhou. Wees bewus van watter medikasie potensieel verslawend kan wees en bespreek eers toepaslike alternatiewe met jou apteker as jy agterkom dat jy ʼn tweede of derde pakkie kodeïenbevattende medikasie wil aanskaf,” het Van Biljon bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Nettie ·

As ek kodeïen-bevattende medisyne wil kry, sal ek dit kry – hierdie wetgewing gaan dit nie verhoed nie. Ek stap net van die een apteek na die ander. In ons dorp is daar 11 apteke, waarvan drie in ons winkelsentrum is – wie gaan weet watter ánder apteek het gister, of eergister vir my kodeïen-bevattende medikasie gegee?

JH ·

Jy het n probleem as jy dit doen. Ek is seker daarvan in die artikel staan daar oor die afhanklikheid van dit of hoe? Kry hulp!

Papa G ·

Waar ń wil is is daar altyd ń weg. Ek het eens ń buurman gehad wat swartsakke vol leë hoesstroopbotteltjies weggegooi het; die met kodeïen in. Ja, ek praat in die verlede tyd van hom. Medikasie is gevaarlik en moet oordeelkundig gebruik word!

Piet Snot ·

In sommige lande is kodeïen onwettig.
In Dubai sluit hulle jou vinnig toe as jy gevang word.

HESTER NEL ·

Ek dink is ‘n baie goeie idee, maar ongelukkig is daar Apteke wat nie eers vra vir ‘n ID nommer ens nie. Jy kan nou ‘n boksie van ACURATE bv koop oor drie dae weer en hul verkoop dit aan mense.

Ek sal graag wil sien dat Apteke baie strenger sal word wanneer dit kom by sekere pynmedikasie.

koos1 ·

MAAR dagga is gewettig, en daar lê jou oplossing vir pyn en kroniese siektes. En baie goedkoper! Met baie minder newe efekte.
Nee moenie dit rook nie, maak vir jou dagga olie en neem dit in kapsules.

linda ·

ek gebruik die olie vir 3 chroniese siektes wat ek blykbaar het
dankie vir die tip dis baie sleg kapsule sal dit beter laat afgaan

Christelene ·

Baie bly dat daar iewers begin word met beperking van verslawende medisyne. Ek stem saam met Nettie. Ek ken ‘n persoon wat verslaaf is aan Benzodiazepine. Kan dit nie ook gedoen word met medikasie wat hierdie bestandeel bevat nie. Die persoon wat verslaaf is gaan net van apteek tot apteek, of van dokter tot dokter. Sommige dokters gee sommer voorskrifte vir herhalings. Is daar nie ‘n netwerk wat aan alle apteke gelink is met ‘n persoon se naam, van en id nommer nie? Dit behoort van groot hulp te wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.