Waarom word verbruikers gestraf?

  • Fanie Brink is ‘n onafhanklike landbou-ekonoom. (Foto: Facebook)

    Deur Fanie Brink, onafhanklike landbou-ekonoom

Die Reserwebank het vandeesweek ʼn verhoging in sy uitleenrentekoers aan handelsbanke van 25 basispunte tot 3,75% aangekondig, wat ook die oortrokke rentekoers tot 7,25% sal verhoog, asook alle ander rentekoerse van die handelsbanke, met onmiddellike inwerkingtreding.

Die Reserwebank, net soos die meeste ander sentrale banke in die wêreld, waaronder die federale reserweraad in die VSA en die Europese sentrale bank, glo dat sy rentekoersbeleid pryse tussen sy inflasieteikens van 3% tot 6% kan stabiliseer (“anker”), die wisselkoers kan beskerm en ekonomiese groei stimuleer.

Dit is die grootste enkele dwaling in ekonomiese wetenskap, aangesien daar absoluut geen bewyse is om hierdie aansprake te staaf nie. Dieselfde geld vir die jongste voorstel van die goewerneur van die Reserwebank, Lesetja Kganyago, om die bestaande inflasieteikens na ʼn vaste teiken van 3% te verander.

Die inflasiekoers word bepaal deur al die plaaslike en internasionale politieke en ekonomiese faktore wat ʼn invloed op die vraag en aanbod van goedere en dienste en die waarde van die geldeenheid het. Ekonomiese groei word geskep deur die vraag- en aanbodkant van die ekonomie, soos elke kwartaal deur Statistieke SA bewys word, wat deur die winsmotief gedryf word.

Die eerste vraag wat gevra moet word, is hoekom die Reserwebank verbruikers straf vir prysstygings waarvoor hulle nie verantwoordelik is nie. Wat kan dié bank doen aan die stygings in die internasionale ruolieprys, ʼn verswakkende wisselkoers wat verder sal verswak weens die vernietigende politieke en ekonomies-sosialistiese ideologie van die ANC-regering, asook al die belastings en heffings op plaaslike brandstof wat deur die regering beheer word op die basis van ʼn vaste formule en jaarliks ​​verhoog word? Dit het niks te doen met die verbruik van brandstof deur verbruikers nie.

Die prys van ruolie het verlede jaar weens die Covid-19-pandemie gedaal, tot by die punt waar sommige internasionale olieprodusente, wat verantwoordelik was vir die laer ruolievoorraad, finansieel ondergegaan het.

Noudat die grootste gevaar van die pandemie verby is, het die vraag weer skerp gestyg, iets waaraan die petroleumuitvoerlande (Opul) en Rusland nog nie kon voldoen nie. Die prys van Brent-ruolie het in 2021 met meer as 60% gestyg en het verlede week ʼn driejaarhoogtepunt van $86,70 bereik, weens die aanvraag wat herstel het. Opul en Rusland het rekord-produksiebesnoeiings in 2020 ingestel wat stadig verligting gebring het en geleidelike maandelikse produksieverhogings ingestel, ondanks oproepe vir meer ruolie van die VSA en ander verbruikers.

Die internasionale prysstygings van ruolie is gevolglik buite beheer van die sentrale banke, wat steeds glo dat hulle klaarblyklik die wanbalans in die mark kan oplos deur rentekoerse te verhoog. Dit is betekenisloos, maar straf weereens plaaslike verbruikers vir prysstygings waarvoor hulle geensins verantwoordelik is nie.

Die tweede vraag wat gevra moet word, is: Wat kan die bank doen aan die toenemende en buitensporige winsmarges wat deur die vervaardigings- en handelsbedrywe op voedsel geplaas word, waarvoor verbruikers nie verantwoordelik is nie en wat geensins met die vraag na voedsel verband hou nie?

Die pryse van landbouprodukte word verhandel in ʼn termynmark, naamlik die South African Futures Market (SAFEX), wat uitsluitlik deur die markkragte van vraag en aanbod in die mark bepaal word.

Die pryse wat plaaslike produsente kry, is in werklikheid die internasionaal afgeleide pryse van landbouprodukte wat op die Amerikaanse termynmark, naamlik die Chicago Board of Trade, verhandel word en wat ook suiwer bepaal word deur die werking van die markkragte van vraag en aanbod.

Internasionale landbouprodusente- en voedselpryse het die afgelope jaar skerp gestyg weens die internasionaal groter vraag na voedsel, maar merendeels weens die “ontwrigting van die wêreldwye voorsieningsketting”.  Volgens die hoof- uitvoerende beampte van Cargill Inc., David MacLennan, die landboureus in die VSA, sal dit tot in 2022 voortduur. Hy het arbeidstekorte uitgelig as een van die grootste risiko’s wat die bedryf in die gesig staar.

Hy sê dat “wêreldvoedselpryse in Oktober tot die hoogste vlak in die dekade geklim het, soos in die volgende grafiek aangetoon word, wat hoër kruidenierswarerekeninge van huishoudings verhoog en wêreldwye hongersnood moontlik vererger het”.

Wêreldvoedselpryse in Oktober het tot die hoogste vlak in die dekade geklim. (Grafiek: Verskaf)

 

Slegte weer het oeste getref, vragkoste het die hoogte ingeskiet en arbeidstekorte het die voedselvoorsieningsketting in die wiele gery.

ʼn Energiekrisis het ook ʼn dramatiese toename in kunsmispryse vir boere oor die hele wêreld veroorsaak. Selfs met die “onvermydelike natuurrampe wat uit klimaatsonbestendigheid voortspruit”, het die voedselvoorsieningsketting oor die afgelope jaar, of tydens Covid-19, oor die algemeen redelik goed gefunksioneer, maar dit is nietemin iets wat ons nie as vanselfsprekend kan aanvaar nie.

Die soektog na “groener” voertuie, vliegtuigbrandstof en biodiesel vir produksie en padvervoer ding ook mee met voedselproduksie, wat aanleiding kan gee tot beperkte eetbare olievoorrade. Pryse vir palmolie, die mees verbruikte plantaardige olie ter wêreld, het die afgelope jaar met sowat 50% gestyg, terwyl sojaboonolie met 60% gestyg het. Kanola-olie is naby ʼn rekordvlak.

Die “voedsel-teen-brandstof-spanning” sal ook, volgens MacLennan, meer intens word as wat dit ooit oor die afgelope 15 jaar was. “Die dag sal aanbreek wanneer meer landbouprodukte vir skoon energie as voedsel gebruik sal word, so dit sal landbouprodusente in die wêreld se plig wees om nuut te dink en meer produktief te word.”

Dit is wel iets wat internasionale en plaaslike boere die afgelope dekade of twee reeds begin doen het met behulp van die talle nuwe internasionale tegnologiese ontwikkelings in die wêreld.

Dit word van die landboubedryf verwag om “goedkoop” kos vir arm mense te produseer, luidens die jongste nuusbrief van Agri SA, terwyl geen boer ter wêreld kos kan produseer teen pryse wat die armste mense kan bekostig nie. Voedselsekerheid kan slegs volhoubaar wees as die produksie van voedsel winsgewend is. Dit is egter nie boere se verantwoordelikheid nie, maar dié van die regering, wat die makro- en landbou-ekonomiese beleid van die land bepaal.

Die derde vraag wat gevra moet word, is waarom die internasionale sentrale banke glo dat verbruikerspryse slegs aan die vraagkant bepaal word en nie ook aan die aanbodkant van die ekonomie, soos deur ruolieproduksiebeperkings, of natuurrampe wat onder meer erge droogtes en vloede kan veroorsaak nie.

Die meeste verbruikers sukkel nou al maande lank finansieel en kan weens die hoër werkloosheid nog nie hul verbruiksbesteding tot dieselfde vlakke as voor die pandemie verhoog nie.

In sy voorlopige finansiële begroting wat verlede week in die parlement ter tafel gelê is, het die regering dit duidelik laat blyk dat hy nie in ʼn posisie is om die ernstige fiskale en maatskaplike probleme aan te pak en om sy skuld te konsolideer nie. Hierdie kwessie sal baie duideliker word tydens die hoofbegroting in Februarie 2022.

Die rentekoersbeleid van die Reserwebank kan nie die inflasiekoers beheer, die waarde van die geldeenheid beskerm en ekonomiese groeikoers stimuleer nie, omdat hierdie ekonomiese veranderlikes almal deur die werking van die markkragte van vraag en aanbod in die ekonomie bepaal word. Om die fokus van die bank, naamlik om die inflasiekoers te beheer, op die besteding van verbruikers te plaas, wat geensins verantwoordelik is vir die stygings in brandstof- en voedselpryse nie, is die verkeerde teiken.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Eclectus ·

Ek dink die dag wat ons van aandelebeurse ontslae raak sal die wêreld ‘n heel ander plek wees.

Adriaan ·

As jou enigste stuk gereedskap n hamer is, is alle probleme spykers. Dieselfde met die reserwebank: die rentekoers is hulle hamer en hulle dink alles kan reggedruk word deur die rentekoers op of af te verander.

Harley Davidson ·

Wanneer jy ‘n besigheid het en jy bestuur dit swak gaan jou besigheid ondergaan ongeag hoe goed die besigheid is dieselfde gebeur in Suid-Afrika.

Jack ·

Rentekoerse is die prys van geld. As die vraag na geld hoog is behoort die prys te styg, as die vraag laag is behoort dit te daal. Ongelukkig is daar te veel mense wat die vraag na geld wil stimuleer onder die wanindruk dat dit ekonomiese groei sal aanwakker, sonder om daaraan te dink dat diegene wat die geld moet verskaf – die spaarders – se skaars hulpbron se prys noodwendig moet styg. As pensioenaris is dit werklik ‘n saak van kommer as die opbrengs op jou beleggings met 50% daal en jy noustrop trek net omdat die reserwebank en ekonomiese kundiges altyd net die belange van verbruikers voorop stel en lae rentekoerse bepleit. Daar moet ‘n balans wees, sonder spaarders kan daar nie leners wees. Die enigste wenner is die belasting gaarder, hy belas besteding via BTW en hy belas besparing op rente en dividende verdien. Dan belas hy werkende mense ook nog op hulle inkomste. Dis ‘n absolute skande!!!

Pietertjie ·

Die gebruikers betaal uiteindelik vir alles. Dis hoe die stelsel werk. Anders sou hulle nie gebruikers gewees het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.