Wat is ’n besigheid-ommeswaai en hoe doen jy dit?

Argieffoto ter illustrasie (Foto: Unsplash)

’n Ommeswaai van jou besigheid kan beteken dat jou besigheid ’n heel nuwe strategie volg, maar kan ook beteken dat een aspek van jou besigheid hersien word om groter langtermynsukses te verseker.

’n Ommeswaai kan ook, onder meer, een van die volgende veranderings in jou besigheid beteken:

  • Om een faset van ’n produk in die produk self te verander;
  • Om te fokus op ’n nuwe stel kliënte deur ’n nuwe mark te teiken;
  • Deur ’n nuwe befondsingsmodel in te stel; of
  • Om ander tegnologie te begin gebruik om vervaardigingskoste te verlaag of ’n meer doeltreffende produk te skep.

Hoe weet jy of jou besigheid ’n ommeswaai nodig het?

Omdat so baie besighede ’n ommeswaai ondergaan het en as gevolg daarvan groot sukses ervaar het, dink sommige entrepreneurs dat ’n ommeswaai ’n wonderkuur vir ’n besigheid se probleme is. So ’n drastiese aksie moet egter eers geneem word wanneer alle ander opsies probeer is. Hier is ’n paar wyses waarop jy kan verseker dat ’n ommeswaai die regte opsie vir jou besigheid is:

  1. Jou besigheid groei nie
    Indien jou besigheid te stadig groei vir die hoeveelheid werk wat jy daarin sit, is dit moontlik ’n opsie om eerder ’n ommeswaai te probeer. Probeer so min as moontlik impulsiewe of drastiese aksie te neem en oorweeg eerder om eers net jou befondsingsmodel, produk of mark aan te pas.
  2. Daar is te veel kompetisie
    Indien jou maatskappy nog klein is en die mark oorheers word deur ’n veel groter kompeteerder, is dit moontlik nodig vir ’n ommeswaai. Dit is nie nodig om heeltemal van industrie te verander nie – kyk dalk eerder hoe jou besigheid dieselfde diens of produk op ’n unieke wyse kan lewer om ’n nuwe hoek in die mark te bring.
  3. Een faset van jou besigheid kry meer aftrek
    Wanneer net een klein deeltjie van jou besigheid die meeste aftrek kry en die ander fasette faal, is dit moontlik ’n opsie om eerder net te fokus op dit wat werk.
  4. Luister na jou kliënte
    Die terugvoer wat jy van kliënte ontvang, is ’n goeie aanduiding om te bepaal of jy aan jou besigheidsplan moet verander of nie. Nou en dan gaan enige besigheid negatiewe terugvoer kry, maar as jy konstant terugvoer kry dat die produk te duur is of dat dit te kompleks is om te gebruik, is dit ’n aanduiding dat verandering nodig is.

Hoe om doeltreffend om te swaai

Wanneer jy besluit dat dit wel die regte keuse is om jou besigheid om te swaai, is dit nodig om in ag te neem wat nodig is vir ’n suksesvolle ommeswaai. Neem die volgende in ag om ’n doeltreffende ommeswaai te verseker:

  1. Doen dit so vinnig as moontlik
    Indien jy vasbeslote is om voort te gaan met ’n ommeswaai, is dit uiters belangrik om nie traag te wees om dit te doen nie. Hoe vinniger jy dit doen, hoe minder geld, tyd en moeite gaan die verandering verg. Onthou: Dit gaan dalk selfs nodig wees om meer as een maal veranderings te maak – of dit nou aan jou teikenmark, jou befondsingsmodel, produk of diens is.
  2. Stel nuwe doelwitte op
    Die doelwitte wat vir jou vorige besigheidsmodel gewerk het, gaan nie noodwendig vir die nuwe een werk nie. Maak seker dat jou doelwitte vir die besigheid steeds strook met jou nuwe plan.
  3. Moenie die werk weggooi wat jy reeds gedoen het nie
    Alle ommeswaaie vereis nie noodwendig radikale verandering nie, so moenie ontslae raak van al die werk wat jy reeds in jou besigheid ingesit het nie. Identifiseer watter aspekte van jou besigheid kan voortgaan soos normaal – moontlik het jy ’n uitstekende bemarkingspan, maar die produk was nie heeltemal wat die mark wou hê nie. Maak gebruik van die tyd en energie wat jy reeds aan jou besigheid spandeer het om só jou nuwe plan vinniger ’n realiteit te maak.
  4. Maak seker ’n ommeswaai is gelyk aan groei
    Dit help niks dat jy jou hele besigheidstrategie verander, maar dit lewer nie resultate nie. Dit is uiters belangrik om seker te maak dat daar geleentheid is vir groei in die rigting wat jy kies. Maak seker jy het ’n duidelike plan om te verseker dat enige verandering in jou besigheid direkte groei as ’n resultaat gaan hê.

Bekende besighede wat ’n ommeswaai ervaar het

Twitter

Een van die grootste ommeswaaie in sosiale media was die verandering van die maatskappy Odeo na Twitter. Odeo het begin as ’n platform waarop verbruikers podsendings kon vind, maar soos wat iTunes die mark begin oorneem het, het hulle vinnig hul inslag verander. Die Odeo-span het twee weke geneem om ’n nuwe idee vir die besigheid te skep en het met die idee vir ’n mikroblogplatform vorendag gekom, wat heeltemal die aard van hul besigheid verander het.

Starbucks

Die bekende internasionale koffiekettingwinkel het nie aanvanklik begin as ’n koffiewinkel nie, maar as ’n handelaar van espressomasjiene en koffiebone, wat reeds sedert 1971 bestaan. In 1983 het die huidige uitvoerende hoof, Howard Schultz, verlief geraak op die smaak van die koffiebone en ná ’n besoek aan Italië het hy besluit om ’n Europese-styl koffiewinkel oop te maak. Dit was so ’n groot sukses dat die koffiereus nou 31 256 persele het.

Nokia

Die selfoonreus, Nokia, was nie aanvanklik in die telekommunikasie-industrie nie. Nokia het in 1865 as ’n Finse papierfabriek begin. Toe die maatskappy hul tweede fabriek naby die Nokianvirta-rivier begin, het hul naam Nokia geword. Deur die twintigste eeu het hulle begin om rubber en elektroniese produkte te vervaardig voordat hulle in 1992 hul eerste selfoon gemaak het. In daardie jaar het hulle besluit om slegs op die vervaardiging van selfone te begin fokus en het die ander fasette van die besigheid verkoop.

Nintendo

Die videospeletjievervaardiger is bekend vir speletjies soos Super Mario en Donkey Kong, maar die besigheid is veel ouer as die video-era. Die maatskappy is reeds in 1889 begin as ’n speelkaartvervaardiger, maar het oor die jare verskeie produkte vervaardig – onder meer stofsuiers en kitsrys – en het selfs in ’n stadium ’n hotelgroep besit. Hulle het eers in 1966 begin om die elektroniese speletjies te vervaardig waarvoor hulle vandag bekend is.

  • Die artikel is verskaf deur Stigter,’n Afrikaanse e-tydskrif wat jóú help om ’n beter leier, entrepreneur en bestuurder te wees. Elke uitgawe is tussen 28-34 bladsye en artikels handel oor finansies, leierskap, bemarking en vertel die stories en lesse van suksesvolle Suid-Afrikaanse entrepreneurs. Teken hier in en ontvang maandeliks jóú Stigter-tydskrif

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jaco ·

Oppas net vir ‘n ommeswaai in wetgewing oor regstellende aksie en BEE. Daar is skuiwergate om dít wettig te omseil. Wees net paraat en slim.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.