Wat jy moet weet oor werknemersbelastingrekonsiliasie

Deur Nicolene Steenkamp

Argieffoto

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het aangekondig dat die sperdatum vir die werknemersbelastingrekonsiliasie (EMP501-rekonsiliasie) vir die 2020-jaar van aanslag, ongeag die gevolge van Covid-19, steeds 31 Mei 2020 sal bly.

In Suid-Afrika strek die belastingjaar vir individue van begin Maart tot einde Februarie. Individue wat vir belasting geregistreer is, moet jaarliks ʼn inkomstebelastingopgawe indien. Wanneer ʼn individu ʼn werknemer is wat maandeliks ʼn salaris trek, speel die belastingsertifikaat (IRP5/IB3(a)) ʼn groot rol in die indiening van die inkomstebelastingopgawe.

Elke werknemer wat ʼn jaarlikse salaris van R79 000 (R6 583,33 per maand) of meer in die 2020-belastingjaar ontvang het, moet op ʼn maandelikse basis belasting betaal. Dit is die werkgewer se plig om hierdie maandelikse belasting (LBS) tesame met werkloosheidversekeringfonds (WVF) en vaardigheidsontwikkelingsheffing (VOH) van die werknemer se salaris te verhaal en aan SAID oor te betaal.

Die werkgewer moet maandeliks ʼn werknemersbelastingopgawe (EMP201) op hul e-Filing-profiel voltooi. Op hierdie EMP201 verklaar die werkgewer hoeveel LBS, WVF en VOH van die werknemers verhaal word en aan SAID oorbetaal moet word.

Aan die einde van die belastingjaar is die werkgewer daarvoor verantwoordelik om vir elke werknemer ʼn belastingsertifikaat (IRP5/IB3(a)) uit te reik. Op die IRP5/IB3(a) verskyn die vergoeding wat aan die werknemer betaal is, asook die totale aftrekkings wat van werknemers verhaal is. Hierdie aftrekkings sluit onder meer mediese fonds, pensioenfonds, uittreeannuïteitfonds, LBS, WVF en VOH in.

Wanneer die werkgewer die IRP5/IB3(a) uitreik, moet die LBS, WVF en VOH op die sertifikate ooreenstem met die EMP201-opgawes wat maandeliks by SAID ingedien is. Hierdie rekonsiliasie tussen die IRP5/IB3(a) en EMP201 word EMP501-rekonsiliasie genoem.

Die werknemersbelastingrekonsiliasie word op ʼn program genaamd [email protected]™ voltooi. Die program trek outomaties die werkgewer se EMP201-inligting in, en daar word dan van die werkgewer verlang om die belastingsertifikate (IRP5/IB3(a)) per werknemer uit te reik. Indien die werkgewer ʼn betaalstaatprogram gebruik kan ʼn dokument ingetrek word wat elke werknemer se IRP5/IB3(a) outomaties genereer. Indien die werkgewer nie ʼn betaalstaatprogram gebruik nie sal elke belastingsertifikaat apart voltooi moet word.

Indien daar ʼn verskil is tussen die maandelikse EMP201 wat ingedien is en die LBS, WVF en VOH wat op die werknemers se belastingsertifikate verskyn, sal dit op die EMP501-rekonsiliasie uitgewys word.

  • Nicolene Steenkamp is die programkoördineerder van die nagraadse diploma in belasting by die Afrikaanse hoëronderwysinstelling Akademia.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
marius

Kieswettter kan maar kom krap . Hy gaan nie geld kry nie en kan maar my yskas wat eskom opgefoeter het vat .