Watwou weggooi! Hergebruik en spaar

Slegs 10% van die geraamde 108 miljoen ton rommel wat jaarliks gegenereer word, bereik herwinningsaanlegte in Suid-Afrika. (Foto: iStock)

Suid-Afrika is besig om in sy eie afval te verstik. Slegs 10% van die geraamde 108 miljoen ton rommel wat jaarliks gegenereer word, bereik herwinningsaanlegte, terwyl die meerderheid van die land se 826 stortingsterreine kritieke kapasiteit nader.

Ons is meesters van mors. Van die sowat 30 miljoen ton voedsel wat jaarliks plaaslik geproduseer word, beland 10 miljoen ton daarvan in die vullisdrom. Met kospryse wat nie brieke het nie, sal ons vinnig van fiemies en foefies moet begin vergeet om ons begroting oor die maandeindstreep te abba.

Waar daar egter ’n spaarwil is, is daar ’n weg! Probeer gerus dié hergebruikwenke en laat die omgewing én jou beursie ʼn bietjie asemskep.

  1. Skink nóg enetjie

Die meeste mense gebruik ’n teesakkie net een keer, terwyl die meerderheid teesakkies vir ten minste twee koppies tee gebruik kan word. Sit jou gebruikte teesakkie in ’n piering of koppie met ʼn bietjie water vir ’n vars koppie later. Laat die sakkie (ná jou tweede koppie!) uitdroog, skeur dit oop en strooi die teeblare in die tuin. Nog ʼn opsie is om ʼn klomp ou teesakkies in ’n toeskroefbotteltjie met ’n bietjie paraffien te sit. Twee of drie sakkies sal jou braaivleisvuur behoorlik laat vlamvat.

  1. Hou my dop!

Eierdoppe hoort nie in die asblik nie. Gebruik dit, nes teeblare, as kompos vir plante. Dit sal slakke en snywurms sommer die hasepad laat kies. Meng baie fyngemaakte eierdoppe met voëlsaad en sit dit in die tuin. Dit is veral goed vir wyfievoëls wat gereedmaak om eiers te lê. Jy kan ook ’n lepelvol met jou hond se kos vir ’n kalsiumhupstoot meng. Gemaalde eierdoppe is boonop ’n kragtige skuurmiddel om hardnekkige vuilheid uit potte en panne te verwyder.

  1. Verder met foelie

Daar is geen rede waarom jy nie aluminiumfoelie, plastieksakkies (soos Ziploc-toebroodjiesakkies) en selfs waspapier meer as een keer kan gebruik nie. Vryf die foelie en waspapier plat, vee dit goed af en vou op vir hergebruik. Bêre jou foelie- en waspapierboksies en koop eerder ’n los hervulrolletjie as ’n splinternuwe boksie – dis veel goedkoper. Spoel die plastieksakkies goed met warm water uit, hang oor die droograk of wasgoedlyn en jy’s reg vir môreoggend se Marmite-broodjies!

  1. Punte vir plastiekplan

Ek onthou hoe die yskas en vrieskas in ons kinderjare propvol plastiekhouers met blou-en-wit skoolboek-naamplakkers op was. Alles van ou botterbakkies tot leë roomyshouers. Elkeen was mooi op die etiket gemerk volgens datum en inhoud. Nóg kos, nóg bakkies het in die asblik beland. Tensy jy duur plastiekbakkies verkies, is dié plastiekplan steeds ’n randrekker soos min. Jy kan ook leë jogurtbakkies gebruik om jellie in te maak. Roomkaas- en suurroombakkies kan ook weer en weer gebruik word.

  1. Met my geskeurde jean

Ofskoon inkopiesakke teen 2025 uit minstens 75% en teen 2027 ten volle uit herwinde materiaal moet bestaan, bly dit ’n duur en onnodige item om by die kasregister voor op te dok. Moenie van daardie denim ontslae raak wat verbleik het of nie meer pas nie; omskep dit in ’n modieuse inkopiesak. Sny die pype af en werk die onderkant toe. Knip ’n strook uit een van die pype en werk vas om as handvatsel te dien. Versier met krale, knope of gekleure blokkies afvallap.

Eierdoppe hoort nie in die asblik nie. Gebruik dit, nes teeblare, as kompos vir plante. (Foto: iStock)

Nog vyf vinnig wenke

  • Gaan groot met glas. Dis elke organiseerder se droom. Of dit ’n koffie- of konfytbotteltjie is, jy kan die etiket in ’n japtrap met warm seepwater verwyder en die bottel vir ’n nuwe missie merk. Van Pa se skroewe en spykers, tot Ma se mooimaakkwassies, boet se boublokkies en sus se skryfbehoeftes.
  • Dink voor jy druk. Boeke se bladsye word weerskante gedruk, tog druk die meeste mense steeds dokumente op slegs een kant. ’n 50%-vermorsing! As jou werksplek of skool (nog) nie papier herwin nie, neem ou dokumente vir die kleinspan huis toe om op (die skoon kant) te teken, of sny dit in blokkies en gebruik as notapapiertjies.
  • Een-vou-dig. Dink net hoeveel geskenkpapier, -sakkies en lint ’n mens in ’n jaar ontvang en weggooi. Moenie dié papier en sakkies weggooi nie. Maak die geskenke versigtig oop en vou die papier netjies op vir hergebruik. Jy kan selfs die kinders se skoolboeke kleurvol daarmee oortrek.
  • Bli(n)k plan! ’n Mens hoef nie sakke vol geld uit te gee om ʼn bietjie kleur in en om die huis te skep nie. Verf en versier ou blikkies, Pa se ou stewels of ou motorbande, en plant dit vol blomplante en kruie. Laat die kleinspan saadjies in eierdoppe in ’n leë eierhouer plant. Dis leersaam én lekker om te sien hoe die piepklein saadjies ontkiem, eers ’n stingeltjie en dan ʼn klomp groen blaartjies uitstoot.
  • Toor met toiletrolletjies. Daar is letterlik honderde kunsaktiwiteite wat ’n mens met leë toiletrolletjies kan aanpak. Snuffel gerus hier vir ’n paar kreatiewe idees.

Daar is letterlik honderde kunsaktiwiteite wat ’n mens met leë toiletrolletjies kan aanpak. (Foto: iStock)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eclectus ·

In Suid-Afrika word ‘n derde van voedselproduksie vermors, maar die meeste hiervan vind plaas op produksie en kleinhandel fase so huishoudings is nie die werklike skuldiges nie. In ons huis word feitlik niks vermors nie want alles gaan deur iets se maag, al is dit die hond. Selfs my papegaaie wat slegs groente en vrugte kry se oorskiet gaan vir die wilde voëls. Dit gesê wil ek tog ‘n kat in die duiwehok gooi. Wat het die grootste impak op die omgewing, ‘n bord kos in die asblik of die riool na daardie bord kos geëet is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.