Wees bedag op dié OTM-slenters

Argieffoto

Die feesseisoen wat dikwels gepaard gaan met talle slenters om hardverdiende geld uit Suid-Afrikaners se bankrekeninge op onwettige maniere te verkry is al op ons stoep. Een van die grootste teikens van dié slenters is outomatiese tellermasjiene (OTMe), waar verbruikers se aandag dikwels afgelei en hulle beroof word.

Volgens die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) het landsburgers verlede jaar as gevolg van kaartbedrog verliese van sowat R873 miljoen gely. Verder was 70,5% van bedrogverliese met verlore of gesteelde debietkaarte uitgevoer tydens OTM-onttrekkings.

“OTMe bly ʼn gewilde teiken vir kriminele aktiwiteite, met booswigte wat altyd op die uitkyk is vir nuwe maniere om tegnologie, aandagafleiding, swendelary, verrassing, intimidasie en selfs brute geweld in te span om geld te steel.

“Die enigste manier om dit te bestry is om ingelig, deeglik bewus en voorbereid te wees, want dis nie ʼn vraag van óf hulle weer gaan toeslaan nie, maar waar en wanneer hulle dit gaan doen,” sê Ricardo Coetzee, woordvoerder van Virseker.

Susan Potgieter, Sabric se waarnemende uitvoerende hoof stem saam. “Hoewel misdadigers altyd op die uitkyk is vir geleenthede om jou te bedrieg, het jy die vermoë om jou geld te beskerm deur net bedag en oplettend te wees. Jy is jou geld se beste verdediging.”

Om hierdie slenters te voorkom gee Coetzee ʼn paar praktiese veiligheidswenke.

Hou jou oë oop

Wees altyd deeglik bewus van jou omgewing. Wees paraat wees op die uitkyk vir verdagte individue wat in die omgewing ronddrentel. Beperk aandag-afleiers, soos om te veel aandag aan jou foon te bestee. Beweeg doelgerig en kry jou kaart vinnig gereed.

Jou PIN is slegs vir jou oë bedoel – moet dit met niemand anders deel nie, nie eens werknemers van die bank nie. Wees op die uitkyk vir mense wat loer wat jy op die masjien doen, staan naby aan die OTM en bedek die sleutelbord met jou hand terwyl jy jou PIN insleutel.

Wanneer jy die OTM verlaat, loop vinnig na waar jy volgende moet wees en maak seker dat jy nie gevolg word nie. Met kontant in jou hand is jy ʼn ideale teiken.

Ondersoek jou OTM

Foto ter illustrasie: Pixabay

Maak seker dat niks op die OTM self uit plek is nie. Waarskuwingstekens sluit gewoonlik in panele wat nie behoorlik vas is aan die OTM nie, ʼn kaartgleuf wat uitsteek, ʼn sleutelbord wat dikker as normaal lyk, drade wat uit plek is en klein kameralense wat op die sleutelbord gerig is. Wees ook versigtig vir masjiene waar jy sukkel om die kaart in die gleuf in te druk of dié wat nie werk soos gewoonlik nie. Vermy dit eerder.

Maak seker dat wanneer jy die transaksie voltooi het, jy jou kaart (en jou strokie, waar van toepassing) geneem het en dat die OTM die volgende gebruiker vra om sy of haar kaart voordat jy die area verlaat.

As ʼn masjien nie werk soos dit moet nie, of ʼn situasie laat jou ongemaklik voel, kanselleer die transaksie onmiddellik en probeer ʼn OTM elders.

Maak verder seker dat jy presies weet hoe om ʼn OTM te gebruik, veral wanneer nuwe masjiene in diens geneem word. Volg die instruksies op die masjien. Indien jy onseker is, besoek eerder jou bank en vra ʼn teller om raad.

Moenie hulp van vreemdelinge aanvaar nie en hou ʼn ogie oop vir mense wat jou persoonlike ruimte betree by ʼn OTM.

Lewe kontantloos

Die beste wenk om OTM-misdaad te voorkom is om OTMe geheel en al te vermy. Meeste winkels aanvaar debiet- en kredietkaarte, so moenie kontant onttrek tensy jy regtig móét nie. Vermy ook OTMe na kantoorure, veral dié in afgesonderde, hoë-risiko areas.

Vermeld verder ook enige verdagte aktiwiteite onmiddellik aan die owerhede. Indien jou kaart in ʼn masjien vassit, of gesteel word, stel bankbeamptes dadelik in kennis. Indien hulle nie naby is nie, maak seker dat jy eers by ʼn veilige plek uitkom en bel dan jou bank se noodnommer, of gebruik jou bank-app om jou kaart te kanselleer. Hou hierdie besonderhede byderhand en maak seker dat jy bekend is met die noodprosedures wanneer dit by jou kaart kom.

“Enigiemand kan steeds ʼn teiken wees, selfs al het ʼn mens die beste voorsorgmaatreëls getref. Onthou dat jy in ʼn konfrontasie met booswigte nie ʼn held moet probeer wees nie. Tree eerder terug, want jou lewe en dié van jou geliefdes is meer werd as enige bedrag geld,” sê Coetzee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.