Wees op jou hoede vir werksoekslenters

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Unsplash)

Werksoekslenters lei jaarliks tot direkte verliese van tot $2 miljard (sowat R37 miljard) vir aansoekers en tot 14 miljoen mense is volgens Forbes.com in die eerste kwartaal van 2022 met werksverwante swendelary in die VSA ingeloop.

Die departement van arbeid het in ʼn onlangse verklaring op 5 Februarie gewaarsku dat werksoekers onder geen omstandighede vir werksgeleenthede moet betaal nie. Die departement het sy kommer uitgespreek oor slenters wat gereeld opduik, waar werklose mense teen ʼn fooi ʼn werk belowe word.

Die jongste voorbeeld hiervan is een wat die einste departement se naam gebruik om administratiewe poste te adverteer waar swendelaars aansoekers vra om ʼn fooi van R250 te betaal by Pep-winkels vir ʼn agtergrondondersoek wat hulle kwansuis sal help met die aansoekproses vir die pos.

Terwyl die wêreld van werk voortdurend verandering ondergaan en dit noodsaaklik vir werksoekers is om by die jongste tendense van die werksoekproses by te hou, is dit ook so dat ʼn uitdagende ekonomie werksoekers meer kwesbaar maak, veral in ʼn land soos Suid-Afrika waar die werkloosheidsyfer tans op 32,1% staan.

Swendelaars weet maar net te goed hoe om opreg voor te kom terwyl desperate werksoekers vatbaar is vir die mooi broodjies wat hulle bak.

Morné Venter, ʼn dosent in bestuurswetenskappe aan Akademia, beklemtoon egter die belangrikheid daarvan om waaksaam te wees teenoor werksoekslenters. Hy wys daarop dat twee aspekte, naamlik die pandemie en globalisering, ʼn groot invloed op die arbeidsmark het. Die pandemie het die aanwending van tegnologie versnel, wat op sy beurt ʼn impak gehad het op hoe werksaansoeke hanteer word.

Morné Venter, ʼn dosent in Bestuurswetenskappe, meen die aanlyn werwingswêreld vergemaklik die werksoekproses. Hy maan werksoekers egter om versigtig te wees vir werksoekslenters. (Foto: Verskaf)

Volgens Venter bied hierdie vinnige migrasie na tegnologie en die internet ʼn wye verskeidenheid geleenthede vir werksoekers. Dit sluit in makliker toegang tot beskikbare poste vir aansoekers oor die hele wêreld, vinniger terugvoer ná onderhoude, en ʼn minder tydrowende werksoekproses in geheel. Tog waarsku hy dat werksoekers hulself moet toerus met tegnologievaardighede en op hul hoede moet wees vir moontlike bedrog.

Venter benadruk ook die risiko van kuberskurke en kansvatters in die werksoekproses. Hy moedig werksoekers aan om deeglik navorsing te doen oor maatskappye en werwingsagentskappe, en om kritiese vrae te vra tydens onderhoude. Hy beklemtoon ook die belangrikheid van waaksaamheid teenoor onprofessionele praktyke, soos herskedulering van onderhoude of versoeke vir voorafbetaling van fooie.

Dié wenke kan werksoekers met die werksoekproses help:

  1. Hou die goue reël in gedagte: as iets té goed is om waar te wees, is dit waarskynlik die geval. Doen deeglik navorsing oor die maatskappy waar jy ʼn aansoek indien, asook die werwingsagentskap wat betrokke is.
  2. Vra al die belangrike vrae tydens die onderhoud, soos: “Is dit ʼn splinternuwe pos?” As dit wel die geval is, kan dit ʼn teken wees van groei. Aanvullende vrae oor moontlike groeigeleenthede kan belangrik wees. Indien die pos reeds bestaan, vra na die redes waarom die vorige werknemer bedank het, wat ʼn aanduiding kan wees van moontlike uitdagings.
  3. Indien die onderhoudvoerder onprofessioneel voorkom, is dit ʼn teken dat alles dalk nie pluis is nie. Dit kan byvoorbeeld insluit die voortdurende herskedulering van jou onderhoud, onvanpaste aanmerkings of dat hy of sy ander personeellede met jou bespreek. Wees ook op jou hoede as iemand ʼn onderhoud via e-pos of selfs ʼn SMS voorstel, óf dit stel dat ʼn onderhoud nie nodig is nie.
  4. Wees bewus van enigiets wat op bedrog of onetiese praktyke kan dui, soos die vereiste van ʼn voorafbetaalde fooi.
  5. Kontroleer die e-posadres van die personeelwerwer en verseker dat dit ooreenstem met die amptelike domein van die maatskappy. Wees krities hoe persoonlike inligting gedeel word wat nie relevant is vir die aansoekproses nie.

Hy beklemtoon dat suksesvolle werksoekers die regte werk moet nastreef en nie net enige werk moet aanvaar nie.

In ʼn wêreld waar die arbeidsmark vinnig verander, is dit noodsaaklik vir werksoekers om op hoogte te bly van die jongste tendense en om hulself te beskerm teen potensiële risiko’s in die werksoekproses.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.