Wys my jou lisensie of bly buite…

Argieffoto

Identiteitsdiefstal gebeur al hoe meer met verbruikers en daarom is hulle maar steeks om sommer hul persoonlike besonderhede aan enigiemand te oorhandig. Verbruikers is dus ook tereg bekommerd daaroor om hul motor- en bestuurderslisensies te laat skandeer as hulle by sake- en woonkomplekse wil ingaan. Wat is jou regte as ʼn veiligheidswag jou lisensie wil skandeer? Ina Opperman verduidelik.

Jou reg en die kompleks se regte

Twee oorwegings speel ʼn rol wanneer jy by ʼn kompleks wil ingaan en die wag dring daarop aan om jou lisensie te skandeer: die reg van die kompleks se eienaars om te bepaal wie mag ingaan en jou reg op privaatheid. Tans speel jou reg tot privaatheid ongelukkig nog tweede viool aangesien die Wet op die Beskerming van Persoonlike Inligting (Popi) nog nie in werking getree het nie.

Terwyl die wet nog nie in werking getree het nie, is jy maar hoofsaaklik uitgelewer aan die reëls van die kompleks, wat die reg het om te bepaal wie kom in vir veiligheidsoorwegings. As jy dus iemand wil gaan spreek vir sake of daar wil gaan kuier, moet jy maar die skandering toelaat.

Wat gebeur met jou inligting?

Jy het egter die reg om te vra wat met jou inligting gedoen word en hoe lank dit gehou gaan word, maar niemand het juis tyd om met die wag te redekawel nie. Dit is in elk geval net sy werk en hy maak nie die reëls nie.

Gewoonlik doen die veiligheidsmaatskappy niks met die inligting nie, maar dit kan in ʼn databasis beland waar dit vir onwelkome bemarking gebruik kan word. Dit kan natuurlik ook gesteel word en gebruik word vir allerhande misdade. Wanneer die wet in werking tree, sal jy meer regte hê om jou inligting veilig te hou.

Dit is uiters belangrik om te verseker dat jou inligting nie gesteel of verkoop word nie, aangesien mens daagliks hoor van mense wat die slagoffers is van identiteitsdiefstal, bedrog en internetmisdaad, met niemand wat wil pa staan vir die inligting wat in die verkeerde hande beland het nie.

Jou reg op privaatheid

Jou reg op privaatheid word verseker in ons Grondwet en dit sluit jou persoonlike inligting in. Die Popi-wet is dus daarop gerig om jou regte te beskerm deur te reguleer hoe almal wat toegang tot jou persoonlike inligting het dit insamel, gebruik, deel, hou, argiveer, vernietig en uitvee.

Wanneer die wet in werking tree, sal daar ook ʼn reguleerder van inligting wees waar jy kan kla. As jou inligting dus vir ander doeleindes gebruik word wanneer jou lisensie geskandeer word, sal jy by die reguleerder kan kla, aangesien die kompleks dan geag word as die “verantwoordelik party”.

Persoonlike inligting sal dan ook net gebruik kan word vir die doel om te kyk wie ingaan en net as dit nodig is en nie buitensporig nie, soos om byvoorbeeld die ras van die persoon aan te teken. Dit moet ook vertroulik gehou word en nie langer gestoor word as wat nodig is vir die doeleindes waarvoor dit in die eerste plek ingesamel is nie.

Die inligtingreguleerder

Die kantoor van die reguleerder het reeds in Januarie verlede jaar vir die eerste keer vergader en het al insette gelewer in hofsake oor die gebruik van persoonlike inligting.

Die reguleerder werk ook aan die gedragskodes en riglyne vir die wettige prosessering van persoonlike inligting, wat verantwoordbaarheid, beperkings op prosessering, doeleindespesifikasie, gehalte van inligting, deursigtigheid, veiligheidsmaatreëls en deelname insluit.

Dit is nog nie bekend wanneer die wet in werking gaan tree nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Willie ·

Ek weier dat een of ander “guard” my persoonlike inligting scan, veral my kar se lisensie skyf – vir wat, werk hulle vir AARTO of ENATIS ?

As die kompleks dit vereis, gaan ek dood eenvoudig NIE soontoe nie – too bad.

Stefan ·

En as dit jou ouers, of jou kind is wat in die kompleks woon, dan gaan jy ook nie vir hulle kuier nie – too bad né?

Alias ·

Jy het ‘n moderne “dompas” soos bestuurlisensie/ID nodig om jou inligting vir hulle te gee.

Pieter ·

Die rede vir inligting insamel is as volg: Gewoonlik is die perseel ‘n “geslote” area, slegs 1 ingaan en uitkom punt. Indien iets sou gebeur, kan daar maklik bepaal word hoeveel mense/voertuie in in, hoeveel is uit, en as daar dan ‘n soektog van stapel gestuur moet word, weet die mense beter waarvoor om te soek. M.a.w, in ‘n kompleks, iemand kom in en maak amok, hopelik het die “guard” sy plig reg uitgevoer, en dit maak die soektog na die skuldige makliker, as ons liewe SAPS so voel…

nico k ·

Daar is nie ‘n enkele vorm waar jy nie in elkgeval jou persoonlik besonderhede moet invul nie. En met jou ID nommer kan hulle niks maak nie. Jy wys jou bestuurderlisensie by elke padblokkade. So ek dink julle gaan te kere oor onnodige goed. Ek is heeltemal aan die kompleks se kant. Ons noem dit veiligheid. (So ver as moontlik. Natuurlik ook maar nie onoorkombaar nie.) So Willie as jy nie dit wil doen nie is dit jou vrye reg om buite te bly. Dit is immers privaat eiendom.

Chris ·

The Justice project het ‘n in diepte studie oor die aangeleentheid gedoen. Gaan lees meer daaroor op hulle webwerf. Hierdie artikel is uiters gebrekkig oor die onderwerp. Daar is baie meer hier ter sprake as wat in die artikel vervat is.

Riaan ·

Is die skrywer van die berig korrek deur te meld dat die POPI act nog nie in werking getree het nie. ?

Korrek ·

Riaan, die skrywer is wel korrek. Sover ek verstaan is daar slegs enkele dele wat reeds in werking getree het, soos byvoorbeeld die definisies. Die grootste gedeelte van die wet sal eers later in werking tree en die datum is nog onbekend. Dit was aanvanklik einde 2018, maar dit lyk nou of dit eers in 2019 of selfs 2020 kan wees.

Meisie ·

Ek sal dit se as ek weer gevra word vir my lisensie!

hahahaha!

Karl ·

Die hoeveelheid inligting wat ontvang word gedurende die in gang by n kompleks met die masjien is nie genoegsaam on te gebruik vir identiteits diefstal.

Met n lisensie is dit voorletters en van, nie volle voorname, en die skandeerder is nie gekoppel met enatis so hulle kan nie ander inligting soos adres ens bekom.

Vir veiligheid en as jy bang is vir identiteits diefstal registreer by Transunion

Martin ·

Wil hulle nou toelaat dat onwelkome gaste kan inkom met die nuwe reels?

Johnna ·

Ek het gewonder toe ek vanoggend hoor dat daar vir n motorbestuurder gevra is vir sy rybewys by n bekende hotelgroep se ingang.,moet se hy was heel verbaas gewees maar het dit gewys.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.