Verbruikersinflasie styg matig

inflasie

Foto: Pixabay.com

Suid-Afrika se verbruikersinflasie het in Junie matig gestyg, maar bly gerieflik binne die inflasie-teiken van 3 tot 6% wat die Reserwebank moet handhaaf.

Volgens Statistiek Suid-Afrika het die inflasiekoers op ’n jaargrondslag in Junie tot 4,6% gestyg. Dit het 4,4% die vorige maand beloop. Op ’n maandgrondslag het die VPI-koers met 0,4% gestyg.

Statistiek Suid-Afrika sê die grootste sondaar was vervoerkostes wat met 0,7% gestyg het. Ekonome skryf dit toe aan die rits brandstofprysverhogings wat sedert April in werking getree het.

Luidens ekonome is die syfer steeds gemaklik vir die Reserwebank, maar dat die bank ’n meer versigtige houding gaan toepas om inflasie hok te slaan.

Die Suid-Afrikaanse finansiële markte se aandag sal Donderdag op die SA Reserwebank se rentekoersbesluit toegespits wees. Beide die inflasiesyfer en rentekoersbesluit kan veral ’n groot impak op die rand hê.

NKC African Economics sê dat die sentrale bank waarskynlik die repokoers onveranderd sal laat. Dit beteken handelsbanke sal nie met die prima-uitleenkoers peuter nie.

Volgens die ekonomiese agentskap kan rentekoerse op huidige vlakke vir ’n lang ruk bly.

’n Ontleder by First National Bank (FNB) Wayne McCurrie, het op ’n radioprogram gesê die Reserwebank het twee opsies, en albei is op die tweede kwartaal se groeikoers geskoei.

Hy sê sou die groeikoers swak bly, die bank nie nou rentekoerse sal opstoot nie. Maar hy waarsku dat indien die groeikoers ’n verbetering toon, ’n klein rentekoersverhoging  later vanjaar moontlik is.

Intussen het die rand se blink lopie vanoggend tot ’n verposing gekom. Valutahandelaars skryf dit toe aan twee faktore. Die eerste was positiewe kommentaar van die Amerikaanse Federale Reserweraad dat Amerika oor die volgende paar jaar bestendige groei kan toon. Dit het die Amerikaanse dollar ’n hupstoot gegee wat oor ’n breë front geklim het. Die tweede was dat verkopers die rand verkoop het voor die inflasiegegewens uitgereik was en ander in afwagting op die Reserwebank se rentekoersbesluit.

En daar was ’n tikkie goeie nuus vir markontleders. Die Buro vir Ekonomiese Navorsing en First National Bank het bevind dat verbruikers steeds optimisties oor die ekonomie en hul verbruikersbesteding is. Die verbruikersvertroue-indeks het 22 in die tweede kwartaal beloop. Dit was effens laer as die 26 wat in die eerste kwartaal behaal is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.