Verlaging in brandstofprys, rentekoers ʼn hupstoot vir verbruikers

Argieffoto.

Suid-Afrikaanse huishoudings wat onder finansiële druk verkeer, sal ʼn afname in beide die brandstofprys en rentekoerse verwelkom.

Dit is die mening van dr. Christoph Nieuwoudt, uitvoerende hoof van First National Bank (FNB) se verbruikersafdeling. FNB het vroeër vanjaar bevind dat verbruikers met ʼn gemiddelde inkomste sowat ʼn kwart van hul salarisse spandeer net om rente op skuld te delg.

Die Automobiel-Assosiasie (AA) het Donderdag aangedui hy verwag ʼn daling van 86 sent per liter in die prys van petrol, ʼn daling van 68 sent in die prys van diesel, asook ʼn daling van 58 sent in die prys van paraffien. Die departement van energie moet nog die beraamde vermindering bevestig.

“Vervoerkostes, of dit nou openbare vervoer of die gebruik van ʼn privaat motor is, neem nog ʼn groot hap uit Suid-Afrikaanse verbruikers se rekeninge. Ná die skerp toename in die brandstofpryse in die eerste helfte van die jaar, sal talle verbruikers uitsien na finansiële verligting as daar ʼn afname in dié pryse na die einde van die jaar is,” het Nieuwoudt gesê.

Die ander brokkie goeie nuus vir verbruikers is dat die Suid-Afrikaanse Reserwebank se monetêre beleidskomitee sy besluit oor rentekoerse in Julie sal bekendmaak en die ekonomie is optimisties oor die moontlikheid van ʼn rentekoersverlaging.

“Rentekoerse is al vir ʼn geruime tyd stabiel en dit gee verbruikers ʼn mate van sekerheid oor die hoeveelheid skuld wat hulle moet betaal, asook die rente wat op spaargeld verdien kan word.

“ ʼn Rentekoersverlaging kan op die kort termyn ʼn goeie aansporing vir verbruikers wees om hul begroting te hersien sodat hulle hul skuld kan verminder en hul kapasiteit om te spaar, kan vergroot,” het Nieuwoudt bygevoeg.

Verbruikers se vraag na krediet bly hoog

TransUnion, wat oor ʼn nasionale databasis van verbruikers se krediet beskik, het onlangs hul verslag wat na skuldvlakke in Suid-Afrika kyk, vir die eerste kwartaal van 2019 uitgereik.

Volgens die verslag bly die vraag na krediet hoog terwyl die uitstaande saldo’s op skuld oor al die hoofkredietkategorieë in vergelyking met ʼn jaar gelede toegeneem het.

Hierdie toename word waarskynlik gedeeltelik gedryf deur Suid-Afrika se sukkelende ekonomie en dit lyk of verbruikers krediet gebruik as ʼn manier om hul daaglikse uitgawes te finansier.

Kredietkaarte en persoonlike lenings se uitstaande balanse het beduidend in die eerste kwartaal van 2019 gegroei. Kredietkaarte se uitstaande balanse het met 6,6% toegeneem terwyl banklenings en persoonlike lenings wat nie by banke voorsien word nie, onderskeidelik met 7,2% en 11,4% in vergelyking met ʼn jaar gelede, gegroei het.

Terselfdertyd het die verslag getoon dat groei vir veilige kredietprodukte soos die finansiering van huise en voertuie veel meer gedemp was. Huishoudelike lenings se uitstaande balanse het met 3,1% in die eerste kwartaal van 2019 toegeneem, terwyl finansieringskoste vir voertuie net met 0,2% gegroei het.

Nuwe lenings vir hierdie produkte was ook swakker, wat ʼn aanduiding kan wees dat verbruikers groter aankope, soos huise en voertuie, vanweë ekonomiese onsekerhede uitstel.

“Beide verbruikers en leners sukkel met die volgehoue onbestendigheid in die land se ekonomiese toestande,” het Carmen Williams, TransUnion Suid-Afrika se direkteur van navorsing, gesê.

ʼn Onseker pad vorentoe

Alhoewel Suid-Afrika uit die tegniese resessie in die tweede helfte van 2018 beweeg het, het die onlangse BBP-syfers (bruto binnelandse produk) verder kommer gewek.

“Kredietverskaffers sal voortaan belangrike ekonomiese maatreëls moet instel soos om werkloosheidkoers in ag te neem.

“Die verskaffers het tradisioneel op ʼn bepaalde tydperk op  ʼn verbruiker se finansiële posisie gefokus eerder as om te oorweeg of dit oor die langer termyn sal versleg of verbeter.

Williams meen gevorderde kredietdata en -verslae kan kredietverskaffers help om ʼn kritieke rol te speel om die ekonome te ondersteun deur toegang tot krediet te voorsien terwyl verskaffers se balansstate en verbruikers se finansiële gesondheid steeds beskerm word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Swannie ·

En die winkeleienaars glimlag breed. Wanneer brandstof se prys styg, verhoog winkelgoedere se pryse onmiddellik… en wanneer brandstofprys daal…bly die winkel prys dieselfde vir `n kort tydperk voor dit weer styg.

Gewone burgers kan maar net nie wen nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.