Voorgeskrewe bates: Dit is hoe dit jou sal raak

uurglas-geld-rande-rand

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Die Suid-Afrikaanse regering sal ernstige stappe moet doen om die land se ekonomie om te swaai, wat baie ongewilde besluite gaan insluit en al die heilige koeie van die regering se tafel moet stoot.

Drikus Combrink, die bestuurshoof by CapiCraft Investments in Pretoria verduidelik dat Suid-Afrika tans in ’n baie moeilike fiskale posisie is en dat die idee van voorgeskrewe bates al hoe meer aanloklik vir die regering begin word as ’n uitweg om sy skuld te delg.

Die ANC het op 12 Januarie 2019 in sy verkiesingsmanifes bekendgestel dat dit dié beleidsmaatreël sou ondersoek.

Wat min Suid-Afrikaners weet, is dat daar reeds voorgeskrewe bates bestaan. Regulasie 28 in die Pensioenfondswet laat die regering toe om voor te skryf aan fondsbestuurders (soos pensioenfondsadministrasie- en lewensversekeringsmaatskappye) waar hulle hul bates mag belê, wat grootliks staatsbeheerde instellings en staatseffekte behels.

“Die klousule is eintlik daar om die verbruiker te beskerm en seker te maak dat fidusiêre verpligtinge van die maatskappye nagekom word,” verduidelik Combrink.

Tans word dié maatskappye voorgeskryf om 75% van hul beleggings in die binneland te belê, terwyl 25% in die buiteland belê kan word.

“Die idee is om risiko’s vir beleggers te verminder.”

Wat ’n toename in voorgeskrewe bates egter sal beteken, is in teenstelling hiermee en sal ’n verhoogde risiko vir beleggers inhou.

“As die regering sou reguleer dat omtrent 5% meer in die staat se skuld belê moet word – soos Eskom se bouende skuld wat nou al meer as R420 miljard beloop, met die kragvoorsiener wat reeds stoei om selfs net die rente op die skuld te delg, of die Suid-Afrikaanse Lugdiens of munisipaliteite se skuld – beteken dit dat ons nie optimale beleggingsportefeuljes sal bereik nie. Die voorgeskrewe bates sal ook beteken dat die opbrengste per belegging per eenheid van risiko laer sal wees, wat minder uitbetalings kan beteken.”

Combrink verduidelik dat die probleem ontstaan dat die regering nie kan aandui waar die voorgeskrewe bates se persentasie sal stop nie.

“Hulle doelwit gaan heeltyd skuif en daar is geen formele kontrakte om hulle in te perk nie. Om 5% se blootstelling aan ’n maatskappy soos Eskom onder dwang te hê, is alreeds 5% te veel.”

Verder sal dit ook staatseffekte beïnvloed.

“Die 10 jaar staatseffek se koers is tans 8,4%. As daar geforseerde kopers in die mark is en as hulle gedwing word om staatseffekkoerse te koop, kan hulle veiling hou en laer koerse realiseer as wat hulle anders sou. Dit kan lei tot staatsskuld in die pensioenfonds wat nie gedelg kan word nie, en uiteindelik kan lei tot ’n staat wat vou.”

Nog ’n risiko wat voorgeskrewe bates inhou, is dat die regering die Reserwebank sal gebruik om geld te druk en inflasie te gebruik om staatskuld af te betaal.

“Daar is ’n baie klein kans dat dit gaan gebeur, maar elke mark wat tot dusver hierdie stappe gedoen het, sit tans met hiperinflasie.”

Tog is daar sekere kenners wat meen dat Suid-Afrika reeds eenkeer vantevore voorgeskrewe bates ingestel het én dat die land dit destyds “oorleef” het.

“Die verskil is dat in die 1980’s, toe die vorige regerende party die instellings gemaak het om likiditeit te verseker, daar baie internasionale sanksies teenoor Suid-Afrika ingestel was en kon die land glad nie geld op internasionale vlak leen nie.

“Destyds het die regering bepaal dat alle pensioenfondse minstens 77,5% in voorgeskrewe bates moet belê. Die ander verskil is dat die regering ook die skuld ten volle terugbetaal het, maar dat daar tans, as gevolg van persepsies rakende korrupsie, nie baie vertroue in die regerende party is dat die skuld ten volle terugbetaal sal kan word nie.”

Combrink meen dat Suid-Afrika wel tans nog “maklik” befondsing van internasionale kapitaalmarkte ontvang, meestal van Westerse institusies. Hy wys egter daarop dat die lenings, as gevolg van die huidige finansiële ekonomiese vooruitsigte, baie duurder is as wat dit onder “normale” omstandighede sou wees.

“Maar die punt bly staan, Suid-Afrika kry nog befondsing vanaf internasionale markte en dus het dit nie nodig om na voorgeskrewe bates as ’n opsie te kyk nie. Nie gou nie.

“Die regte manier om die ekonomie reg te ruk, is om staatsfinansies onder beheer te kry en uitgawes te sny, maar word dit in isolasie gedoen, word die ekonomie in resessie gedruk, wat dinge gaan erger maak. Dit moet gepaardgaan met strukturele hervorming en die verwydering van die heilige koeie, soos swart ekonomiese bemagtiging, wat tans klein besighede knak, die Mynbouhandves, die minimumloon, die nasionale gesondheidsversekering en onteiening sonder vergoeding.

“As die skuldvlakke in ’n ekonomie tot ’n sekere punt gekom het, soos ons nou staan, gaan ons nie daaruit sonder een of ander vorm van pyn nie. Baie beleggers en instansies skroom weg van die idee dat Suid-Afrika om hulp klop by die Internasionale Monetêre Fonds om skuld te delg, maar dit is ’n goedkoop bron van kapitaal en hulle forseer sekere veranderinge as voorwaardes af, wat dan ’n moontlike ekonomiese ommeswaai na vore kan bring,” het Combrink afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Tino ·

En net daar verstaan ek hoekom die IMF vermy word want een van die vereistes om met BEE weg te doen sal die beste ding vir die land wees maar nie vir die wat aanbewind will bly nie.

Ekt gelukkig my pensioen in eie hande geneem, ek stel voor julle maak dieselfde planne.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.