Wat beteken die 3 jaar-belastingreël vir ekspats?

skuld-krediet-afbetaling-belasting-sakrekenaar-rekenaar-boekhou

(Foto: FirmBee/Pixabay.com)

Pres. Cyril Ramaphosa het op 20 Januarie dié nuwe belastingwet bekragtig. Dit bepaal dat Suid-Afrikaners wat wil emigreer eers drie jaar nadat hulle nie meer in Suid-Afrika belastingpligtig is nie ’n enkelbedrag uit hul uittreeannuïteite en sommige bewaringsfondse in Suid-Afrika mag onttrek.

’n Enkele toegewing is egter gemaak: Diegene wat hul emigrasieaansoeke voor 28 Februarie 2021 indien, het tot 28 Februarie 2022 tyd om volgens die ou reëls goedkeuring te verkry vir die onttrekking van ’n enkelbedrag. Hierdie toegewing word verwelkom, aangesien baie potensiële emigrante steeds vertragings ondervind met die verkryging van die nodige permitte en ’n reisverbod in die land waarheen hulle emigreer.

Dit beteken Suid-Afrikaners wat in die buiteland werk, maar nog aftreebeleggings in Suid-Afrika het, het nog minder as ’n maand oor om aansoek te doen om finansieel te emigreer.

Wat dit beteken vir Suid-Afrikaners wat die land verlaat

Volgens Wêreldwyd, AfriForum se platform vir Suid-Afrikaners wat tans in die buiteland woon, het vroeër oor die driejaarreël berig. Ingevolge die voorgestelde wysiging in die Konsepwysigingswetsontwerp op belastingwette sal emigrasie verander van ʼn bankproses deur die Suid-Afrikaanse Reserwebank na ʼn belastingproses deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens.

Kyle Mandy, ’n belastingtegniese vennoot van PricewaterhouseCoopers (PwC), sê die driejaarreël sal bepaal wanneer emigrante geregtig is op toegang tot hul uittree-annuïteite en ook in sekere gevalle tot hul bewaringsfondse. Tans het emigrante ingevolge die valutabeheerreëls van die Suid-Afrikaanse Reserwebank onmiddellik toegang tot hul aftreefondse sodra die emigrasie formeel goedgekeur is.

Verskeie belanghebbendes soos PwC en bedryfsinstansies soos die Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (SAIGR) en die Suid Afrikaanse Instituut vir Belastingpraktisyns (SAIBP) het voorleggings gedoen om die impak te versag. Baie het aangevoer dat drie jaar te lank is en dat daar ander maniere is om vas te stel of iemand die land permanent verlaat het. Die Nasionale Tesourie het egter al die voorleggings van die hand gewys. Alhoewel die parlement se Staande Komitee oor Finansies (Skof) steeds die tesourie se voorstel kan verwerp of wysig, is daar geen aanduiding van die komitee dat dit sal oop wees vir wysigings nie, sê Mandy.

Mandy voeg egter by dat die implikasies dalk nie so ingrypend is as wat baie mense sê nie. Individue het toegang tot hul werk se aftree- en voorsorgfonds wanneer hulle uit hul huidige pos bedank. Dié fondse sal heel waarskynlik in ’n bewaringsfonds gehou word sodat belastingaftrekbare bydraes voortgesit kan word.

Persone wat geraak word

Joon Chong, belastingvennoot by Webber Wentzel, sê die driejaarreël sal almal raak wat beleggings in uittree-annuïteitsfondse het, ongeag of hulle reeds afgetree het of nie. Sy verduidelik dat individue een keer voor hul aftrede ’n onttrekking uit hul bewaringsfonds kan maak; hulle kan die volle bedrag of ’n gedeelte daarvan onttrek.

“As iemand verkies om 40% te onttrek, kan hulle eers op 55 toegang tot die oorblywende 60% in die bewaringsfonds verkry of deur die (huidige) finansiële emigrasieproses voltooi.”

Uittree-annuïteite bied nie so ’n opsie nie. Die individu verkry eers op 55 toegang en kan slegs een derde as ’n enkelbedrag onttrek; twee derdes moet in die annuïteitsfonds bly, sê Chong, wat ook ’n lid is van SAIBP se komitee vir persoonlike en werknemerbelasting.

Mense wat reeds die eenmalige onttrekking uit hul bewaringsfonds gemaak het, sal hulle in die driejaarreël vasloop as hulle ná Maart volgende jaar om emigrasie aansoek doen. Mandy sê afgesien van die drakoniese aard van die Wet kwel baie emigrante hulle omdat hulle toegang tot daardie fondse nodig het om hulle in die nuwe land te vestig, veral in ag genome hoe duur dit is.

Buitelandse aftreereëls

Die meeste lande het hul eie spesifieke reëls rakende aftreefondse. Australië laat nuwelinge byvoorbeeld toe om hul aftreefondse na ’n goedgekeurde Australiese aftreefonds oor te plaas, maar dit moet binne ’n beperkte tydraamwerk geskied. Mandy waarsku dat sulke kwessies in ag geneem moet word by die oordrag van fondse. Dit sal van land tot land verskil, afhangende van elke land se reëls rakende aftreefondse.

Enkele toegewings

Chong sê die Tesourie het aangedui dat alle volledige emigrasie-aansoeke wat die Suid-Afrikaanse Reserwebank vóór 1 Maart 2021 bereik volgens die huidige proses afgehandel sal word, selfs al word dit eers ná 1 Maart 2021 goedgekeur. Hierdie toegewing deur die Tesourie word verwelkom aangesien baie potensiële emigrante steeds vertragings ondervind met die verkryging van die nodige permitte en ’n reisverbod in die land waarheen hulle emigreer. Internasionale vlugte is steeds baie duur en nie vrylik beskikbaar nie.

Chong raai individue wat emigreer aan om hul aansoekvorms en stawende dokumente (onder meer belastingklaringsertifikate) so gou as moontlik by hul gemagtigde handelsbank in te dien.

  • Hierdie artikel is met die vergunning van Wêreldwyd geplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vrijburger ·

Mmmm maar net ‘n tipe valuta beheer. (Valuta beheer wat faalende state instel soos dit slegter gaan.)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.