Deur Nicolene Steenkamp
Spaar is makliker gesê as gedaan. Waar moet ek begin spaar as ek soveel skuld het om af te betaal?
Skuld in Suid-Afrika het astronomies toegeneem en huishoudings is in die algemeen in die knyp. Onlangse navorsing toon dat ongeveer tien miljoen mense slegte skuld het, met meer as drie maande lange agterstallige betalings.
Skokkend genoeg toon die statistieke dat mense gemiddeld agt lenings het. Hulle bestee meer as 70% van hul besteebare inkomste aan skuld wat terugbetaal moet word en verkeer dus in ʼn skuldstrik. Hierdie hartseer neiging het te midde van die Covid-19-pandemie toegeneem met skuld-tot-inkomste-verhoudings van meer as 100%.
Skuld ontstaan wanneer mense meer geld gebruik om ʼn spesifieke lewenstandaard te handhaaf wat nie deur hul inkomste toegelaat word nie. Wanneer jy jou oë uitvee, sit jy in ʼn skuldpandemie en weet nie hoe om daar uit te kom nie. Die groot nadeel van skuld is dat rentekoerse ontsaglik hoog is.
Hier is ʼn paar wenke hoe om jou skuld onder beheer te kry:
Bepaal die omvang van jou skuld
Voordat jy jou skuld kan begin afbetaal, moet jy weet hoeveel jy vir wie skuld. Om hierdie inligting op skrif voor jou te sien, gaan jou help om jou volgende stappe te beplan.
Maak ʼn lys van die volgende:
- jou krediteure (almal vir wie jy geld skuld);
- hoeveel jy vir elkeen skuld;
- die betaaldatum van die uitstaande paaiemente;
- die rentekoers wat jy betaal; en
- boetes vir laat betalings.
Die onderstaande formaat kan jou help om die volgende te bepaal:
Krediteur | Totale skuld | Betaaldatum | Rentekoers | Boetes |
Stel doelwitte
Stel vir jou realistiese doelwitte soos: “Voor die einde van die jaar gaan ek een van my kredietkaarte se skuld afbetaal.” Deur doelwitte te stel gaan jy jouself motiveer om die skuld af te betaal. Skryf die doelwitte saam met jou algehele skuldlas neer.
Bepaal jou alledaagse besteding
Stel vir jou ʼn maandelikse begroting op. Die doel van die begroting is tweeledig.
- Om vas te stel hoeveel jy kan bekostig om op jou skuld af te betaal.
- Waarop jy jou inkomste uitgee en waar jy moontlik koste kan besnoei om eerder jou skuld af te betaal.
Indien jy onseker is oor wat alles in ʼn persoonlike begroting ingesluit moet word, kan jy hierdie begrotingstemplaat soos deur Akademia opgestel is, gebruik.
Betaal die duurste skuld eerste af
Jy het reeds vasgestel watter rentekoers jy op jou skuld betaal. Betaal die skuld met die hoogste rentekoers eerste af. Kyk wat jy kan bekostig nadat jy jou persoonlike begroting opgestel het en betaal meer as die minimum paaiement af op die skuld met die hoogste rentekoers.
Moenie nog skuld maak nie
Moenie nog skuld maak voordat jy nie jou doelwitte bereik het nie. Los jou kredietkaart en klererekeningkaarte by die huis wanneer jy inkopies gaan doen. Stel jou kredietkaart so dat jy nie oorplasings na jou spaarrekening kan maak nie.
Gebruik ekstra inkomste om skuld af te betaal
Wanneer jy ʼn ekstra inkomste verdien, gebruik dit om skuld af te betaal. As jy bevoorreg is om ʼn bonus of dertiende tjek by jou werkgewer te ontvang, gebruik dit om jou skuld af te betaal eerder as om iets te gaan koop.
Verander jou leefstyl en gewoontes
Een van die groot redes hoekom skuld ontstaan, is om ʼn sekere lewenstandaard te handhaaf. Bepaal wat jy regtig nodig het en probeer afskaal op dit wat jy nie nodig het nie. Vra jouself af of dit regtig nodig is om elke dag op pad werk toe ʼn koffie te koop of elke dag middagete te koop eerder as om self jou middagete in te pak. Stel vas watter klein gewoontes jy kan verander sodat jy geld kan spaar.
Vergoed jouself
Beloon jouself wanneer jy jou doelwitte bereik het. Jy gaan meer gemotiveerd wees om jou skuld af te betaal wanneer jy nie daaraan dink as ʼn straf nie. Die enigste manier hoe jy jou skuld gaan afbetaal, is as jy aanhou met jou plan en gemotiveerd bly. Maak net seker jou beloning veroorsaak nie weer onnodige skuld nie.
- Nicolene Steenkamp is die programkoördineerder van BCom (Finansiële Beplanning) by die Afrikaanse hoëronderwysinstelling Akademia.
Dankie. Ek is seker die wenke sal my help!
As jy net R50 per maand kan spaar beteken dit R600 vir n jaar. Die onverwagte uitgawe is altyd daar, en die 600 kan dalk help.