Wenke om jou dié maand uit die verknorsing te help

geld ekonomie suid-afrika

Argieffoto

Met die Desembervakansie agter die blad is die beursies in talle huishoudings effe dun. Daar is egter talle oplossings vir dié penarie en selfs die kleinste verstellings kan op lang termyn ʼn betekenisvolle verskil aan jou finansies maak.

Graham Craggs, ʼn woordvoerder van Budget-versekering, sê die eerste stap in die regte rigting is die opstel van ʼn begroting.

“As jy nie seker is waar om te begin nie, is ʼn begroting altyd ʼn slim eerste stap. Dit sal jou help om meer in beheer te voel, te weet waar jou geld maandeliks heen gaan en te verseker dat jy binne jou vermoë leef”, sê Craggs.

Hy sê dit is veral in moeilike ekonomiese tye, soos wat Suid-Afrika tans beleef, belangrik om te weet waarheen elke sent uit jou maandelikse inkomste gaan. “Met die moeilike ekonomiese klimaat is dit absoluut noodsaaklik vir verbruikers om hul geld slim te bestuur en hulle skuld te beperk sodat hulle hulself nie finansieel in die knyp bevind nie. As jy daarin misluk, kan jy jouself in allerlei finansiële probleme bevind.”

Gebruik dié nuttige wenke:

  • Wanneer jy ʼn begroting opgestel, begin eers met ʼn lys van vaste uitgawes en ander maandelikse aftrekkings. Kyk deeglik na die items waarop jy jou geld uitgee en identifiseer plekke waar jy dalk geld onnodig uitgee – sny dan dié uitgawes.
  • Kanaliseer die ekstra geld wat jy het om skuld vinniger af te betaal en begin by die skuld met die hoogste rentekoers. Soos jou skuldbetalings begin afneem, sal jy meer geld beskikbaar hê om aan ander meer belangrike sake – soos om te spaar vir jou aftrede, ʼn deposito op ʼn nuwe huis of ʼn vakansie – toe te ken.
  • Wees eerlik oor jou skuldverpligtinge en jou uitgawes sodat jy ʼn duidelike en realistiese beeld van jou werklike maandelikse besteding het. Wees kreatief wanneer jy na maniere kyk om koste te besnoei. Jy kan byvoorbeeld saamryklubs daarstel om geld op brandstof te bespaar en jou gesin aanmoedig om ligte in kamers wat nie gebruik word nie af te skakel om te spaar op elektrisiteitsonkoste.
  • Hou jou kredietkaart ver weg gebêre. Moet dit nie met jou saamdra in jou beursie of handsak nie, aangesien dit kan lei tot ʼn versoeking om te bestee. Hou eerder ʼn debietkaart vir alledaagse aankope en spaar eerder vir die duurder dinge wat jy graag wil hê.
  • Stel ʼn spaar-doelwit vir jouself en dink aan spaar as ʼn nie-onderhandelbare, noodsaaklike “uitgawe” op jou maandelikse begroting. Wat ook al jou doelwit is, reken dit in by jou begroting en hou daarby.

Dié wenke is saamgestel deur Budget-versekering. Vir meer inligting besoek Budget se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jacques venter ·

As jy kan, betaal ietsie ekstra op jou huislening af. Op die lange duur spaar jy duisende

Wys-Wyser ·

Ek Stem heeltemal saam met hierdie Wyse raad hoe om Slim te werk met jou finansies.
ek het n Budget al vir die Afgelope 23Jaar en dit Werk! Gelukkig raak ek ook Glad nie “koopmal” oor Feestye nie want ek STICK TO THE BUDGET.
Ek het ook Glad nie N krediet kaart nie wat my baie pyn spaar.
ek voel ook glad nie die resessie en weet nie waarvan praat die koerante as dit n “droe tyd” is soos hulle dit noem.
my sakke is vol en my beursie loop oor ten alle tye want as jy slim werk wen jy al die pad.
Sterkte aan almal wat dat Single mammas is en “swaar” kry,. ek was daar en weet hoe dit voel.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.