Wys jou geld wie is baas

Argieffoto (Foto: Steve Buissinne/Pixabay)

Baie Suid-Afrikaners kan daarvan getuig dat hulle nie meer by stygende lewenskoste kan kers vashou nie. Voedselpryse styg, salarisverlagings en afleggings staar werknemers in die gesig en steeds moet in basiese behoeftes soos kruideniers- en toiletware, versorging en behuising voorsien word.

Sak jou moed ook in jou skoene wanneer betaaldag nader kruip, terwyl die geld in jou bankrekening al vinniger verdamp? Hier is ʼn paar wenke om jou geldsake beter te bestuur.

  • Beplan vooruit

Stel aan die begin van die maand ʼn begroting op sodat jy deeglik bewus is van wat met jou geldsake aangaan en hoeveel geld jy op wat kan uitgee. Op die manier weet jy hoeveel geld beskikbaar is vir inkopies, geskenke en ander uitgawes.

Stel ʼn weeklikse of maandelikse spyskaart op, wees op die uitkyk vir winskopies en probeer om jou kruideniersware in groot hoeveelhede aan te koop. Gesels met jou bure of vriende en deel die grootmaat-aankope of ondersteun ʼn plaaslike verskaffer eerder as om vars produkte by ʼn supermark aan te koop. Bespaar ook deur self jou middagete vir werk in te pak en nie by die snoepie of kafeteria op die perseel te koop nie.

Vermy geriefswinkels by vulstasies, want buiten dat basiese produkte duurder is, is dit boonop baie aanloklik om laataand ʼn sjokolade of smulhappie in te laai.

Uiteet is dalk ʼn luuksheid, maar dit hoef nie die bank te breek nie. Verminder dit na een of twee keer per maand en kyk vooraf of daar enige spesiale aanbiedinge by jou plaaslike restaurant is.

Geskenke hoef jou nie bankrot te maak nie. Deur vroegtydig daaraan te dink, kan jy probeer om self iets te maak of aan goedkoper idees te dink.

  • Oor supermarkte en lojaliteitsprogramme

Vergelyk supermarkpryse en maak seker dat jy nie voor die versoeking van “winskopies” swig nie. Bestudeer advertensieblaaie en doen moeite om te kyk waar jy die beste waarde vir geld sal kry.

Oorweeg dit ook om by ʼn lojaliteitsprogram met beloningstrukture in te skakel. Daar is heelwat van hierdie programme wat verbruikers met ʼn kontant-​terug-voordeel en bykomende afslag beloon.

  • Vermy kitsbevrediging

Wanneer jy daardie bevordering by die werk gekry het, ʼn groot projek afgehandel het of iets nodig het om jou op te beur, is dit maklik om in die strik van kitsbevrediging te trap. Vir sommige mense lê die troos in ʼn enorme stuk sjokoladekoek en ander beloon hulself met klere of ʼn nuwe motor.

Wees in daardie oomblik bewus van jou finansiële sake. Dink vir ʼn oomblik of jy dit regtig kan bekostig: ʼn sjokolade sal jou dalk nie in die skuld dompel nie, maar jy gaan waarskynlik daardie nuwe paar skoene later berou.

  • Verkoop items wat jy nie gebruik

Ruim tyd in om jou huis uit te sorteer en items wat jy nie gebruik nie te identifiseer. As dit nog in ʼn bruikbare toestand is, kan jy hierdie items op sosiale media adverteer of by jou plaaslike tweedehandse goederewinkel verhandel.

  • Ken jou beperkings en pas jou leefstyl daarvolgens aan

Om bo jou finansiële vermoëns te leef kan later ʼn enorme skuldlas op jou skouers plaas. Het jy regtig daardie koppie wegneemkoffie op pad werk toe nodig of kan jy ʼn rukkie wag en eerder die R20 of R30 bespaar? Voel jy gedruk om klere van ʼn spesifieke handelsmerk te dra sodat jy nie by vriende of kollegas afsteek nie? Is die luukshede dit regtig werd as jy dan nagte gaan wakker lê oor die skuld wat jy as gevolg hiervan moes aangaan?

Moet niks koop wat nie noodsaaklik is nie of skuld tot gevolg het. Werk ʼn spaarplan uit vir vakansies en luukshede en fokus op dit wat wel binne jou finansiële vermoë moontlik is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
S'kgaapie

Waar is ‘n lekker veilige plek waar ek my geld kan spaar, wat is al die opsies? Die gelukkige R50 wat in die rekening oor is voor jou volgende salaris inbetaal, waar kan ek hom sit?

Cheryl

Geen beplanning, maak nie saak hoe fyn jy dit doen nie, kan opmaak vir buitensporige pryse nie. In kleiner dorpies is ons uitgelewer aan die plaaslike winkels en het nie die luuksheid van verskeidenheid en prysopsies nie. Verbruikers bly maar aan die korste ent trek.

Jerry

Sal vreeslik baie help as jy eers n werk het, ek kan net my kop skud regtig. Dis disgusting.

Debby

Wie het geld vir uiteet ????? Daar is skaars gelk vir kos