Wysigings in belastingwetgewing waarvan jy moet weet

(Foto: pixabay)

Pres. Cyril Ramaphosa het onlangs ʼn reeks nuwe belasting- en finansiële wetsontwerpe onderteken, waarvan die belangrikste verandering is wat nou op alle belastingbetalers van toepassing is, is dat nalatige nienakoming strafbaar is.

Kortom beteken dit dat belastingbetalers nou ʼn hoër standaard sal moet handhaaf en meer eienaarskap van hul belastingsake sal moet neem.

Alhoewel die meeste van die wetsontwerpe hoofsaaklik oor administratiewe en tegniese aangeleenthede handel, bring die wette ook veranderinge mee waarvan Jan Alleman kennis moet neem.

Die wette het reeds op 20 Januarie in werking getree en sluit die Wet op Skale en Monetêre Bedrae en Wysiging van Inkomstewette, die Wysigingswet op Belastingwette en die Wysigingswet op Belastingadministrasiewette in.

Michelle Coetzee, ʼn geoktrooieerde rekenmeester en dosent in ouditkunde en belasting aan die Afrikaanse private hoëronderwysinstelling, Akademia, meen hierdie is van die belangrikste veranderinge waarvan Suid-Afrikaanse belastingbetalers moet kennis neem:

Belastingramings

Jan Taks se beraamde aanslag geld voorts namate ʼn belastingpligtige versuim om te reageer op kennisgewings of uitreikings vanaf die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).

Bona fide-beurse wat deur werkgewers toegeken word

Indien ʼn werknemer se vergoedingspakket onderworpe is aan ʼn element van salarisopoffering, sal geen belastingvrystelling voortaan voorsien word ten opsigte van ʼn studiebeursbyvoordeel nie.

Dag-tot-dag-uitgawes

Die Inkomstebelastingwet het voorheen voorsiening gemaak vir ʼn belastingverligting as ʼn werknemer noodgedwonge een of meer aande weg van die huis af moes deurbring. Maatskappye mag voortaan hulle eie beleid omtrent dag-tot-dag-uitgawes formuleer ten einde die uitgebreide belastingverligting optimaal te benut.

Strafregtelike vervolging vir geringe belastingoortredings

ʼn Belastingpligtige kan in die toekoms strafregtelik vervolg word vir ʼn onbeduidende belastingoortreding ondanks blote nalatigheid.

Onttrekking van aftreefondse met emigrasie

Vanaf 1 Maart 2021 sal emigrante slegs toegang tot aftreevoordele verkry indien hulle vir ʼn ononderbroke tydperk van drie jaar vir belastingdoeleindes as ʼn nie-inwoner beskou word.

Twyfelagtige skuld

Die twyfelagtige skuldtoelaag sal voortaan bereken word ná die berekening van enige sekuriteit wat beskikbaar is ten opsigte van daardie skuld. Hierdie oorweging belyn die belastinghantering van twyfelagtige skuld tussen ʼn belastingbetaler wat IFRS 9 toepas en ʼn belastingbetaler wat dit nie toepas nie.

Verligting vir Suid-Afrikaners in die buiteland

ʼn Suid-Afrikaner wat in die buiteland werksaam is en meer as R1,25 miljoen inkomste gedurende die 2021-jaar van aanslag gegenereer het, sal steeds kwalifiseer vir ʼn belastingvrystelling mits hulle minstens 117 dae buite Suid-Afrika deurgebring het. Hierdie tussentydse toegewing vanweë internasionale reisbeperkings te midde van die afsonderingstydperk geld met voorbehoud dat die bedoelde persoon minstens 60 van die 117 dae aaneenlopend buite Suid-Afrika moes deurbring.

Oordraagbaarheid van belastingaansporing vir indiensnemingseise (Employment Tax Incentive – ETI)

Geen oortollige nie-belastingvrye ETI-eise sal aan die einde van die lopende betaalstelselversoeningstydperk oorgedra word nie.

Weerhouding van terugbetaling

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens mag ʼn belastingpligtige se verskuldigde terugbetaling weerhou indien hulle strafregtelik ondersoek word.

Dit is raadsaam vir belastingbetalers om met hul adviseurs te praat sodat hulle die uitwerking van hierdie veranderinge ten volle kan begryp en spesiale aandag moet gegee word aan die administratiewe veranderinge wat nou wetlik verplig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Megan Swart ·

Dagsê Jakez
Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die artikel is gewysig.
Dankie! Groetnis
Megan
nms Maroela Media

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.