Zuma: Rand byt nog vas

geld ekonomie suid-afrika

Argieffoto

Die rand het vanoggend in verhandelinge in Asië effens teruggesak nadat die ANC se nasionale uitvoerende komitee (NUK) glo pres. Jacob Zuma 48 uur kans gegee het om te bedank of herroep te word.

Volgens berigte wou Zuma nog vir drie maande as president aanbly. Ontleders sê Zuma veg terug om moontlike vervolging op talle klagte vry te spring.

Reuters berig dat die rand stoom teen die Amerikaanse dollar verloor het. Die geldeenheid het vroeër winste wat in handel in Asië behaal is, stelselmatig prysgegee. Valutahandelaars sê die ultimatum wat aan Zuma gegee is, kan moontlik tot ʼn uitval tussen Zuma en die nuwe ANC-president, Cyril Ramaphosa, lei.

“Dit kan waarskynlik tot ʼn onstuimige tydperk in die land en in die ANC lei,” sê handelaars. In een stadium het die dollar teen R11,95 verhandel. Die swakste vlak wat vanoggend bereik is, was R11,99. Die geldeenheid het gisteraand in New York teen R11,89 gesluit.

Sedert Ramaphosa, die land se adjunkpresident, in Desember tot ANC-president verkies is, het oproepe dat Zuma as staatshoof moet bedank, toegeneem. Die rand het ook in dié tydperk sy kop gelig oor optimisme dat korrupsie wat onder die Zuma-administrasie gedy het, drasties beperk kan word.

Dawie Roodt, hoofekonoom by die Efficient-groep, sê die rand het reeds Zuma se vertrek verdiskonteer. Staatseffekte het ook vanoggend bestendig geopen.

Roodt sê die uitdaging nou is om die plaaslike ekonomie op ʼn stewige groeipad te kry. Met die regte beleid en benadering kan die land dus reeds moontlik vanjaar ʼn groeikoers van 2% bereik. Sy konserwatiewe raming is dat groei van 1,5% behaal kan word.

Dit is beter as die Wêreldbank se voorspelling en wat Malusi Gigaba, minister van finansies, in die mediumtermynbegroting beraam het.

Roodt sê egter dat dit ʼn lang tydperk sal duur voordat die ekonomie ten volle herstel het. Hy meen dat die Zuma-regering die land baie geskaad het.

Hy voeg by dat beleggersvertroue herwin moet word en daar weer gekyk word hoe die regering, sake- en arbeidsektor saam kan werk tot voordeel van die land.

Die vorige pakt tussen die drie sektore is verbreek nadat Pravin Gordhan die trekpas as minister van finansies gekry het. Sowel die sakesektor as arbeidsgroepe het hul wantroue uitgespreek teenoor Gigaba weens sy beweerde betrokkenheid by staatskaping.

Thabo Makgoba, Anglikaanse aartsbiskop van Kaapstad, het die jongste verwikkelinge rakende Zuma verwelkom. Hy sê die “dekade van korrupsie” is hopelik verby en het die hoop uitgespreek dat die nuwe ANC-leierskap kwessies soos dienslewering, onderwys en gesondheid sal aanpak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Vermeende ·

Moenie lieg nie, die Rand byt nie vas nie, die Dollar verswak teen alle eenhede en dit skep die elusie dat die Rand presteer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.