“Ester – die musical” ʼn pluimpie in die hoed van die Afrikaanse teaterbedryf

Die produksie “Ester, die musical” het op 6 September in die Staatsteater, Pretoria geopen. Vir teaterliefhebbers wat dit deesdae nie meer kan bekostig om geleenthede in dié teater by te woon nie, is hierdie die groen lig. Dis een van dié produksies van die jaar wat jy nie kan bekostig om mis te loop nie.

“Ester, die musical” vertel die Bybelse verhaal van Ester, ʼn dapper jong Joodse vrou wat haar nasie van uitwissing red. ʼn Mens kan nie help om vooraf te wonder hoe die vervaardigers dit gaan regkry om die uiteenlopende elemente van ʼn eeue-oue Bybelse verhaal met ʼn Persiese ruimte, Afrikaanse dialoog en musiek wat op plaaslike bodem geskryf is, oortuigend te laat vermeng nie.

Die resultaat is iets wat jou hart laat swel van trots oor wat in die Afrikaanse teaterbedryf moontlik is. Daar is geen sprake van lompheid in die byeenbring van soveel elemente nie. Die verhaal van Ester word roerend maar realisties uitgebeeld, sonder om sentimenteel of dweperig te wees. Die kostumering en dekor is uitstekend, die toneelspel uiters professioneel met ʼn paar bekende akteurs wat op die verhoog te siene is, en die musiek en sang is uitmuntend.

Lindi Victor, wat die rol van Ester vertolk, verdien spesiale melding. Lindi oortuig met haar toneelspel en sang en laat nie net die streng koning Xerxes nie, maar ook die gehoor hul harte verloor. Ester se karakterontwikkeling van die naïewe jong Joodse meisie Hadassa tot die elegante koningin Ester word uitstekend uitgebeeld – nie net deur die dialoog en sang nie, maar ook deur Victor se interpretasie van die karakter.Joe Niemand, wat die rol van koning Xerxes vertolk en ook al die musiek geskryf het, bewys hom weer eens as ʼn liriek- en musiekskrywer van formaat.

Die vervaardigers van Ester verdien ʼn pluimpie vir die manier waarop hulle die Bybelse verhaal vir ʼn sekulêre én religieuse gehoor toeganklik gemaak het. Teatergangers se oë gaan oop vir dié interessante stuk geskiedenis en die vele wette wat die Persiese koninkryk tydens koning Xerxes (ook bekend as koning Ahasveros) se heerskappy (486 – 465 vC) gekenmerk het. Terselfdertyd staan gelowiges nederig voor die grootsheid van ʼn God wat die Joodse volk red wanneer geen uitkoms moontlik blyk te wees nie.

“Ester – die musical” wys nog tot 2 Oktober by die Staatsteater. Kaartjies is by Computicket beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.