1 000 vetkoeke, 1 300 liter melk en 3 000 eiers vir dié kamp

Foto: Facebook/Swartvlei Seekamp

Foto: Facebook/Swartvlei Seekamp

Daar is min dinge so lekker soos ʼn seevakansie – veral as jy ʼn kind is. Nietemin verg ʼn vakansie altyd goeie beplanning en moet die “grootmense” kophou – veral as jy vir 700 mense moet sorg.

Die Voortrekkers hou jaarliks ʼn seevakansiekamp vir laerskoolkinders by die Swartvlei-meer by Sedgefield tussen Knysna en George. Vanjaar se kamp het ongeveer 700 mense geakkommodeer en dit is ongelooflik om te sien wat alles nodig is om só ʼn kamp te reël.

Dr. Danie Langer, besturende direkteur van die FAK (Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge) en hoofleier van die Voortrekkers Transvaal, het die volgende statistieke oor dié kamp op sy Facebook-blad gedeel.

“ʼn Kamp soos Swartvlei van 700 Voortrekkers se omset beloop R1,2 miljoen. Aangesien hier geen infrastruktuur, buiten die badkamers is nie, word 70 tente, twee reuse-sirkustente en 39 karavane opgeslaan. Vyfhonderd meter se elektriese kabels is aangelê. Die brandweer en munisipaliteit word genooi om veiligheidstelsels te ondersoek. Die dienste van professionele lewensredders word ingekontrakteer. Die kampbeveiligingspan sorg vir ʼn 24 uur-veiligheidsdiens. Vyf noodhulptannies en een dokter deel daagliks 83 kinders se medikasie uit en sorg vir professionele noodhulpsorg.”

Langner skryf die skeepsargief bied ook daagliks seekuns-aktiwiteite en kompetisies aan. “Hulle huisves ook ʼn see-biblioteek. Die kombuisspan, bestaande uit ouers en vrywilligers, het al 23 kg springmieliepitte geskiet, 110 kg wors gebraai, 180 brode en 3 600 hamburgerbroodjies gesmeer, 240 kg aartappels geskil, 1 000 vetkoeke gemaak en 1 800 hoender-patties gebraai. Tot op hede is 6 kg se Nescafé-koffie, 18 kg Ricoffy, 1 300 liter melk en 105 kg Hot Chocolate gedrink en 3 000 eiers geklits vir roereier.

“Die Vlei-uile het al 9 000 foto’s geneem, 3 000 minute se videomateriaal opgeneem waarvan hulle daagliks hoëkwaliteitvideo’s vervaardig. Voortrekkers beplan haarfyn en streef daarna om ʼn uitnemende diens aan ons jeug te lewer. Dankie vir julle harde en werk wat dikwels ongesiens verby gaan,” het Langner bygevoeg.

“Ons jongste kampeerder was 18 maande oud en die oudste kampeerder was 74 jaar oud,” sê Tekkies Kotze, kampleier van Swartvlei-seekamp. “Daar was ongeveer 550 kinders en die res was ouers en lede van die Voortrekkers wat gehelp het om die kamp seepglad te laat verloop.”

Hierdie kamp sal volgende jaar sy 25ste bestaansjaar vier. Besoek gerus die Voortrekkers se webtuiste vir meer besonderhede oor volgende jaar se kamp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hendrik Havenga ·

Ons kinders moet by die beweeging aan sluit dis goed vir alle Fasette van die lewe

Esmé ·

Ons kinders keer en beleef die wonderlikste lewenservarings. My oudste graad 11 en sou nie een dag verruil nie. My kinders leef. Dankie aan Die Voortrekkers vir wat ons kinders gebied word.

Thelani Wentzel ·

Swartvlei kamp is die beste. So lief vir die kamp en sy mense. Dis n absolute belewenis.

Mariska ·

Was ons dogter se eerste Swartvlei kamp en verseker nie die laaste nie. Dankie aan Tekkies en die res van een standard voorslag span. Ons kinders is verseker baie ryker na hierdie kamp. God bless!

Piet Snot ·

Voortrekkers is een vd beste dinge wat ‘n ouer sy kind kan gee.
Modern, op die bôl, wêreldklas.

Estelle de Kock ·

Ons dogter was by die Seejol kamp van die Voortrekkers by Hartenbos die afgelope week, en dis die wonderlikste geleenthede wat vir die jeug aangebied word. Vir almal wat nog nie deel is van die Voortrekkerbeweging nie, sluit gerus aan. Dis ‘n belewenis!

Johanni ·

die Voortrekker beweging is modern, byderwets met al die geleenthede van lewensvaardighede en blootstellings waaraan jy kan dink, omring deur “sout van die aarde mense” met waardes en normes wat enige een van ons sy/haar kinders mee wil toerus. Beter lewensmentors sal jy moeilik vind. Ons kinders word daar bemagtig vir die uitdagings van die lewe en die wat uit baie bevoorregte huise kom leer om dit te waardeer en omgee harte te ontwikkel.

Ada ·

My kind is nou ‘n Staatmaker en saam met mede-studentee geniet hulle dit terdee. Dit geet geen hulle ‘n voorsprong en dit is ‘n feit.
Wonderlik!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.