1902: ’n Bittere vrede word voltrek

‘n Kunstenaar se voorstelling van die ondertekening van die Vrede van Vereeniging. (Foto: Kraal Uitgewers.)

Die datum 31 Mei is ʼn belangrike herdenkingsdag in Suid-Afrika se geskiedenis. Op dié datum is die Vrede van Vereeniging in 1902 gesluit, die Unie van Suid-Afrika in 1910 gevorm en die Republiek van Suid-Afrika in 1961 tot stand gebring. Die een gebeurtenis het onvermydelik ʼn invloed op die volgende uitgeoefen.

Kennis van dié en ander geskiedkundige gebeure is belangrik, want, soos die Spaanse skrywer Miguel de Cervantes dit stel, die geskiedenis is die bewaarder van die herinneringe van grote dade en die getuie van die verlede, die voorbeeld en die leermeester van die hede, en die waarskuwing vir die toekoms.

Die volk vergader oor vrede

Byna drie jaar nadat die Anglo-Boereoorlog aan die einde van Oktober 1899 uitgebreek het, het sestig Boereleiers in die tweede helfte van Mei 1902 met Britse verlof by Vereeniging vergader om oor vrede te besluit. Elkeen was ʼn gevolmagtigde wat self kon besluit of hy en sy kommando sou aanhou veg of vrede maak. Die Vrystaters was nog steeds gekant teen vrede sluit, maar hul saak is baie verswak deurdat president Steyn se gesondheid amper heeltemal in dui gestort het en hy hom moes onttrek.

Op Maandag 19 Mei het generaals Botha, De la Rey, De Wet, Smuts en regter Hertzog in Pretoria ʼn vredesvoorstel aan die lords Milner en Kitchener voorgelê, wat dit summier verwerp het. Die twee Britte het ʼn ontwerp voorgestel, wat ingehou het dat die republieke onvoorwaardelik oorgee. Hiertoe was die Boereleiers nie bereid nie, en Kitchener het voorgestel dat hy, Milner, Hertzog en Smuts ʼn nuwe dokument opstel.

Ná harde onderhandelinge is ʼn nuwe ontwerp op 21 Mei voor die afgevaardigdes gelê. Milner was daarvoor verantwoordelik dat die uiteindelike taalbepaling in die vredesvoorwaardes strenger was as in die Middelburgse voorwaardes van 1901. Hertzog het later vertel: “Lord Milner het alles opgestel. Toe ons by die punt van die taal kom, het hy vlotweg geskryf wat daar nou in die traktaat staan en gesê ‘Ek wil slegs een taal in Suid-Afrika hê’. Ek het geantwoord: ‘Ek ook!’”

Die Britse regering het die nuwe ontwerpverdrag aanvaar, maar aangedring op ʼn spoedige antwoord. Daar is toe ooreengekom dat die Boere voor 31 Mei sou antwoord.

President Steyn het op 29 Mei sy teenkanting teen die verdrag uitgespreek en aangekondig dat hy weens siekte as president aftree. De Wet sou as president waarneem.

Toe die vergadering op 31 Mei begin, het die afgevaardigdes van die twee republieke afsonderlik beraadslaag. Ds. Kestell was by toe De Wet die Vrystaters toegespreek het.

“Ek sien hom nog, die onbuigbare man met sy deurdringende oë, sy sterk mond en ken – ek sien hom nog daar soos ʼn leeu in ʼn hinderlaag vasgekeer. Hy wil nie, hy kan nie, maar hy moet die stryd opgee. Ek het daar die lippe gesien beef van manne wat nooit vir ʼn vyand gebeef het nie. Ek het daar trane gesien wat opwel in oë wat droog was toe hulle hul dierbaarste in die graf gesien wegbêre het. Voor die onvermydelike het die manne, met hul hoofkommandant, die hoof gebuig.”

Smuts en Hertzog het die vergadering daarna gewys op die algehele verwoesting van die republieke, die sterftesyfer in die konsentrasiekampe, die deelname van gewapende swartes, die konfiskasie van die eiendom van vegtendes.

Smuts het afgesluit met die roerende pleidooi. “Broers, ons het besluit om tot die bittere einde te staan; laat ons soos manne erken dat daardie einde vir ons gekom het, in bitterder vorm gekom het as wat ons ooit gedink het. Vir ʼn ieder van ons sou die dood ʼn soeter en sagter einde gewees het as die stap waartoe ons nou sal moet oorgaan. Niemand sal my ooit oortuig dat die ongeëwenaarde opofferinge tevergeefs sal wees nie. Die vryheidsoorlog van Suid-Afrika is gestry, nie alleen vir die Boere nie, maar vir die ganse volk van Suid-Afrika.”

Die vredesvoorwaardes is met 54 stemme teenoor ses stemme aangeneem. Nadat die besluit geneem is, was daar volgens die amptelike notule “nie baie droë oë in die tent nie”.

Die voorwaardes het ingesluit dat die ZAR- en OVS-burgers die Britse monarg erken as wettige heerser. Krygsgevangenes sou gerepatrieer word mits hulle Britse burgers word. Alle burgers wat oorgee en ook gerepatrieerdes se persoonlike vryheid en besittings sou gewaarborg word en hulle sou gewere wat vir hul beskerming nodig is, kon behou mits hulle gelisensieer is. Nederlands sou in die skole as vak onderrig word mits die ouers dit verlang. Brittanje het onderneem om die militêre regering so gou moontlik deur ʼn burgerlike bestuur te vervang, en geen besluit sou oor die stemreg vir swart mense geneem word voor die instelling van verteenwoordigende bestuur nie. Brittanje sou ʼn rehabilitasiefonds van £3 miljoen beskikbaar stel vir gerepatrieerde en hulpbehoewende burgers.

Die Melrose-huisin Pretoria waar die vredesverdrag onderteken is. (Foto: Stephantom/Af.wikipedia.org)

Vrede in verbysterde swye geteken

Kort voor elfuur op die aand van 31 Mei was albei regerings weer in Pretoria. Met die grootste spoed is hulle na die Melrose-huis vervoer, wat toe die Britse hoofkwartier was. Kitchener en Milner het langs mekaar aan die hoof van die tafel gesit. Die Transvalers was waarnemende president Burger, staatsekretaris Reitz, Botha, De la Rey, Krogh en Meyer en die Vrystaters waarnemende president De Wet, generaal Olivier, regter Hertzog en waarnemende staatsekretaris Brebner.

Die kontrak was in viervoud op perkament getik: een eksemplaar vir die Koning van Engeland, een vir lord Kitchener, een vir die Pretoriase en een vir die Bloemfonteinse argief. Alles was doodstil toe waarnemende president Burger om vyf voor elf die pen eerste neem.

Die lede van die regerings van die nou gewese republieke het asof verbysterd opgestaan om die vertrek te verlaat. Reitz het na ʼn hoek geloop en in trane uitgebars. Voordat hulle kon uitstap, het lord Kitchener van die een na die ander gegaan, elkeen die hand aangebied en gesê: “We are good friends now!”. Hulle het in swye sy hand geneem en so gou hulle kon, die vertrek verlaat.

Op 2 Junie het die volksverteenwoordigers van Vereeniging vertrek. Elkeen is na sy eie kommando om die besluit aan die burgers mee te deel. So was genl. De Wet op 5 Junie by die eerste wapenneerlegging naby Vredefort en by talle ander daarna.

“Oral het ek ontevredenheid en onbeskryflike neerslagtigheid gevind,” skryf hy.

Op sy siekbed het Steyn van die voorwaardes en die rehabilitasie- of kompensasiefonds gehoor. Toe Jack Brebner, een van sy troue ondersteuners, hom daarvan vertel, was sy reaksie: “Jack, magtag Jack! Julle het die volk vir die miljoen verkoop!”

‘Oom Koos, is dit waar?’

Skrywer en digter Jan F.E. Celliers beskryf onder die titel “Die bitter einde” hoe hy die nuus op 6 Junie 1902 verneem het. Hy het aan generaal De la Rey gevra: “Oom Koos, is dit waar, moet ons wapens neerlê? Ek glo dit nie of ek moet dit uit u eie mond hoor!”

Celliers vertel verder: “Dis die eerste maal dat die dié oë sien neerslaan, dié hoof sien sak. ʼn Hoofknik van ‘ja’ is sy enigste antwoord. Toe ek my weer kom kry, staan ek buite die kring met betraande oë oor die veld en kyk. ʼn Vlym-hoofpyn skiet deur my hoof. Hoe lank ek so gestaan het, weet ek nie. Ek voel meteens ʼn hand op my skouer. Kyk om. Dis die generaal. Ek kyk in die medelydende oë van oom Koos. En ʼn sagte stem – soos van ʼn besorgde moeder – vra my: ‘Hoe gaan dit nou?’ Hy het my in die oog gehou toe ek daar half verdwaas weggesteier het. Hý het geweet wat ek gevoel het.”

Op Middelburg het kommandant Fanie Trichard die Britse offisier gevra om te sorg dat die joiners en hensoppers uit die bittereinders se pad bly, anders kom daar moeilikheid. Die volgende dag het die vroue van Middelburg vir die burgers ʼn heerlike ete aangebied. ʼn Joiner het ook opgedaag, maar die burgers het hom gou weggeboender.

In die Anglo-Boereoorlog het ongeveer 5 000 aan Boerekant gesneuwel en meer as 26 000 vroue en kinders het in die kampe gesterf. ʼn Tiende van die republieke se burgerlike bevolking het gesterf. Die plase is verwoes en die vee daarmee heen.

Tog het die bittereinde-fase van die oorlog die gang van die geskiedenis verander. In 1899 was die Boere se reputasie op die spel: hoe sterk is hul republikeinse verbintenis en hoe duur die prys wat hulle vir onafhanklikheid sou betaal? Milner het vas geglo dat die Boere se eiendom vir hulle belangriker is as hul liefde vir die republieke. As die Boere die stryd in Junie 1900 laat vaar het, sou hierdie oordeel korrek gewees het. Die moed en deursettingsvermoë van die bittereinders het die verskil gemaak, soos wat Kitchener self erken het.

Smuts bring in sy Memoirs of the South African War só hulde aan sy volk: “Every child to be born in South Africa was to have a proud self-respect and a more erect carriage before the nations of the world”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Adam Adriaan ·

So het dan die Fourth Dimention(Prison Warder/Brotherhood /Elite onderleiding van Cecil Rhodes en Alfred Milner. probeer om die boere volk ‘n nekslag toe te dien. So probeer hulle dan ook vandag doen, omdat hulle daardie tyd nie geslaag het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.