1961: Die son verrys oor die Republiek van Suid-Afrika

31-mei

Hierdie foto is geneem op 31 Mei 1961 op Kerkplein om 12:00, oomblikke nadat Suid-Afrika formeel ‘n Republiek geword het. Foto: FAK/Afrikanergeskiedenis.co.za

Op 31 Mei 1961 het die Republiek van Suid-Afrika tot stand gekom, op presies dieselfde datum waarop die Unie van Suid-Afrika 51 jaar vantevore gevorm is en die Vrede van Vereeniging 59 jaar gelede gesluit is.

Die historikus Hermann Giliomee skryf dat die doel van republiekwording meer was om ’n enkele politieke lojaliteit vir alle wit Suid-Afrikaners teweeg te bring as om ’n radikaal nuwe stelsel in te voer.

Die pad word uitgelê

Al was hulle nou ver van die bewind en sonder hoop om dit te verower, het die Engelssprekendes hul oorheersende ekonomiese posisie tot en met die 1950’s behou. Hulle het toekomstige beleggings en ekonomiese groei beheer. Hul inkomste per capita was teen 1948 dubbel dié van die Afrikaners, hul vlak van onderwys was hoër en hulle het hul vereenselwig met ’n Engelse kultuur. Weinig het die Afrikaanse kultuur verkies en bitter min het ooit Afrikaanse boeke of koerante gelees.

Net ná die verkiesing van 1948, wat die Nasionale Party gewen het, het die NP-regering begin om die simbole van die Britse band met Suid-Afrika te verwyder. Britse burgerskap en die reg tot appèl na die Geheime Raad is afgeskaf, asook “God Save The Queen” as een van die nasionale volksliedere en die Union Jack as een van die nasionale vlae. Die Stem van Suid-Afrika was nou die enigste volkslied en die Oranje-blanje-blou die enigste landsvlag. Die vlootbasis in Simonstad is ook van die Britse vloot oorgeneem.

Die Engelssprekendes het egter nog ’n dekade lank oorverteenwoordig gebly in die hoër range van die staatsdiens. Eers in 1960 het die amptenare in hierdie range die wit bevolkingsamestelling weerspieël. Nuwelinge in die staatsdiens was hoofsaaklik Afrikaanssprekendes, en in die eerste twintig jaar van die NP-bewind het die aantal Afrikaners in die staatsdiens verdubbel.

Die twee wit gemeenskappe het diep verdeeld gebly oor hoe ’n blanke nasie gebou moet word en watter bande met die Statebond behoue moet bly. Die Nasionaliste het geglo dat wit eenheid slegs gebou kan word deur die ontwikkeling van ’n enkele lojaliteit aan Suid-Afrika. Hulle het hulself as die kern van die “blanke nasie” beskou omdat hulle geen ander tuiste as Suid-Afrika geken het nie.

Op 5 Oktober 1960 is ʼn referendum gehou oor die vraag of die land ʼn republiek moet word. Met 850 458 stemme teenoor 775 878 het die kiesers ten gunste daarvan besluit. Op 15 Oktober het 70 000 mense ʼn dankfees (deur die FAK gereël) in die amfiteater van die Voortrekkermonument bygewoon.

Die ou Unie-Grondwet van 1909 is in hoofsaak behou, maar die goewerneur-generaal, wat die Britse koning verteenwoordig het, is deur ʼn staatspresident vervang. Afrikaans en Engels het amptelike tale gebly. Die regering wou die land binne die Statebond hou, maar toe dit in 1961 op ʼn konferensie van Statebondpremiers bespreek is, was daar soveel teenkanting teen apartheid dat eerste minister HF Verwoerd ʼn aansoek om behoud van lidmaatskap teruggetrek het. Die formele band met Brittanje is toe finaal verbreek.

ʼn Nuwe era breek aan

Op 31 Mei 1961 het Suid-Afrika ʼn republiek geword, met die Vrystater Charles Robberts Swart as eerste president. Ook die Britse geldstelsel het verdwyn. Op 14 Februarie 1961 het desimale geld die ou ponde, sjielings en pennies vervang en die radio het die publiek help opvoed met die liedjie “Daan Desimaal, die Rand-sent-man”.

Betrekkinge tussen Afrikaners en Engelssprekendes het verbeter. Verwoerd het die klem ál sterker eerder op blanke eenheid as op Afrikanernasionalisme geplaas. Sommige Afrikaners het hulself eerder Afrikaanssprekende Suid-Afrikaners genoem as Afrikaners. Ook die Engelssprekendes was toenemend krities teenoor Brittanje weens sy optrede in Afrika.

Ekonomies het dit ná republiekwording slegterig gegaan, skryf die historikus Jaap Steyn. Die land het baie kapitaal en mense verloor. Die regering het egter maatreëls getref wat vertroue herstel en die ekonomie geprikkel het. Die voorsitter van die Nywerheidsontwikkelingskorporasie, dr. HJ van Eck, het in Maart 1962 gesê dat Suid-Afrika ekonomies vinniger groei as enige ander land.

Teen 1965 het Suid-Afrika volgens dr. DG Franzen, visepresident van die Reserwebank, die grootste voorspoedgolf in sy geskiedenis beleef. Die woord “wonderwerk” is dikwels gebruik, ook deur buitelanders. In 1962 het ʼn besoekende Amerikaanse professor verklaar dat “the performance of the South African economy was one of the miracles of modern science”.

ʼn Skouspelagtige teken van die wonderwerk was die aankondiging van die Oranjerivierskema op 23 Maart 1962 deur Verwoerd. Die water sou gaan vir besproeiing, kragopwekking en watervoorsiening aan stede. Die grootste dam, tussen Colesberg en Bethulie, is in 1972 geopen en na Verwoerd vernoem, maar heet vandag die Gariepdam.

Die kultuur het ʼn bloeityd beleef. Twee nuwe universiteite is geopen: die tweetalige Universiteit van Port Elizabeth in 1965 en die Randse Afrikaanse Universiteit in 1968. Die UPE was met sy gelyke behandeling van Afrikaans en Engels ʼn deurbraak vir Afrikaans in die oorwegend Engelse stad. Die rolprentmakers het goeie werk gelewer en Afrikaanse koerante het hoë sirkulasiesyfers gehad.

Vyf jaar ná republiekwording in 1966 het Afrikaners hul stempel afgedruk op ʼn presterende staat wat in 1975 die 18de grootste ekonomie in die wêreld sou hê en die 15de grootste handelsland was, teenoor onderskeidelik die 28ste en 37ste dertig jaar later.

Op 31 Mei 1966 was daar ʼn groot militêre parade en lugvertoning in Pretoria. Daar was goed ʼn halfmiljoen mense, “die meeste mense wat nog ooit op een plek in Suid-Afrika byeen was”, het Die Volksblad berig. Teen seweuur die oggend was daar al ʼn kwartmiljoen. Naby die 20 000 man van die leer, lugmag en vloot het deelgeneem aan die defileermars van byna 4,8 kilometer, wat vier uur geduur het. Daar was 189 vliegtuie, 367 oorlogsvaartuie en 36 kanonne in die gemeganiseerde kolonne van 1,92 km, en dan die duisende soldate in die marsjerende kolonne van 2,4 km.

In ʼn hoofartikel het Die Volksblad geskryf: “Die reusagtige skare by Monumentkoppie is ʼn bewys van die volksgevoel wat in krag toeneem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Boerkind ·

Beste tyd ooit gewees!! Skoon, ordelik, lae misdaad, sterk gesonde ekonomie, gedissiplineerde weermag en polisie, sterk gevestigde spoorstelsel, goeie hospitale, Poskantoor werk doeltreffend, van die beste skool / universiteitstelsels, ons medici en tegnici wêreldwyd gesog….. die lys gaan aan en aan. Vandag kan ‘n mens net jou kop in skaamte laat sak.

Hoekom ·

Wens die vorige generasies het vir ons ‘n kans gegee om te doen wat hulle moes doen. Nou het hulle ons laat gebore word in ‘n korrupte ANC kommunistiese land en lig hulle hande, in onskuld, in die lug asof om te sê dit is ons skuld. Ek sou eerder in my eie land se weermag op die grens wou dien as om vir ‘n ander land se weermag in Afghanistan te dien…

Pieter ·

Rede vir die moord op dr Verwoerd en die stryd teen Apartheid. Suid Afrika as ‘n ekonomiese reus is ‘n bedreiging teen wêreldpolitieke pole en teenpole, asook wêreldhandel en kompetisie. Die ANC het onder die valse vaandel van menseregtevegters ontaard in die grootste kriminêle organisasie wat die land nog ooit gesien het. Kyk maar hoe word die land geplunder en afgebreek elke dag en die wêreld juig dit toe. Suid Afrika is nie meer ‘n ekonomiese en politieke bedreiging teen die status quo nie. Jammer dr Verwoerd, jy word nie gewaardeer nie tussen die paddas.

JohanR ·

1988 soe bietjie die VSA gaan deur ruis vir ses weke…..R1.71c het my ‘n $1 gegee. Vandag….R17.36c vir ‘n $1. Gaan gee jou R200000 oorsee reis toelaag in by die bank, dan gee hulle jou $11520…..amper genog vir 5 MacDonald Burgers in die VSA. Dink nie ek sal ooit weer kan bekostig om die VSA te besoek nie.

Jack ·

Dis nes jy sê. Maar onthou, Blankes “verdruk” nou nie meer die swartes nie, swartes doen dit nousommer self. Dis ‘n groot vooruitgang.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.