2016: Vat hande, bid saam en help mekaar

flip-buys

Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging. Foto: Reint Dykema

Daar is wonderlike juwele in die Bybel wat my kompas is vir die Solidariteit Beweging in 2016.

Die eerste stukkie is Spreuke 31:8-9: “Praat jý vir dié wat self nie hulle sê mag sê nie, kom op vir die reg van dié wat te gronde gaan; praat, en lewer regverdige uitsprake, laat reg geskied aan die armes en ellendiges.”

Die tweede stukkie is Spreuke 19:17: “Wie hom oor ’n arm mens ontferm, gee ’n lening aan die Here, en Hy sal hom ten volle vergoed.”

Dan wil ek graag Haggai 2 kortliks opsom: “Julle almal, burgers van die land, skep moed, sê die Here! Begin met die werk, want Ek is by julle, sê die Here die Almagtige. My Gees sal altyd by julle bly, moenie bang wees nie!”

“Help mekaar”

Dit is treffend dat die Nuwe Testament ons meer as 50 keer beveel om vir “mekaar” dinge te doen. Vir my beteken dit om meelewend saam te “voel”. Dis om mekaar se laste te dra, want dan is dit ligter! Maar om saam te voel sonder om saam te doen, is pligsversuim. Daarom is dit nodig om mekaar te dien deur saam te doen.

Ons probleme is soms te groot om alleen aan te pak. Dis gelukkig nie nodig om alleen oor berge te probeer spring nie. ’n Berg word tree vir tree geklim tot bo. Maar ons kan mekaar help deur ons ingesteldheid te verander vanaf “ek vir my” na “ons vir jou” en “ons vir mekaar”. Dis waar die “Helpmekaar” inkom wat so sentraal in ons beweging se waardes staan. Dis nie net “help my” of “help ander” nie, dis “help mekaar”. Met maandelikse tienrande van lede kon ons al ’n Tegniese Kollege én Universiteit begin. Die beste helpende hand sit op die punt van ons eie arms. Nie ’n gebalde vuis of ’n bedelhand nie, maar ’n helpende hand. Kom ons vat hande, en ons bid én werk saam in die nuwe jaar!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Jaco Steyn ·

In plaas daarvan om ons grensloos te irriteer met verwysings na Bybelversies, moet Flip Buys eerder verduidelik wat hy bedoel met die “ons vir mekaar”. Verwys “ons” na slegs blanke Afrikaanssprekende persone of na enigiemand wat “tuis voel” binne die “Afrikaanse gemeenskap/groep” – ongeag ras of kleur??

sela ·

ek hoop jy praat net namens jouself as jy praat van grensloos irriteer met die Bybelversies. ek is seker Flip Buys bedoel sy naaste soos ons medemens genoem word. Dit is n goeie begin om die wysheid in die Bybel as riglyn uit te leef

Jaco Steyn ·

sela. Baie ondersteuners van die Soliforum-organisasies verkeer onder die wanindruk dat hierdie organisasies hulself hoofsaaklik beywer vir die belange van spesifiek blanke Afrikaanssprekende mense. Flip Buys het egter ʼn artikel, “Wie en wat is ʼn Afrikaner”, geskryf waarin hy dit duidelik gestel het dat enigiemand wat “tuis voel” binne die Afrikanergemeenskap, hetsy dit nou Sipho of Mohammed is, ʼn “Afrikaner” kan wees. Hou ook asb. in gedagte dat solank Flip Buys se “ons” ʼn Suid-Afrikaanse eenheidstaat aanvaar as die beste regeringsvorm, ons ook bewus moet wees van die al groterwordende gaping tussen ryk en arm mense veral die afgelope 20 jaar. Vergelyk in verband hiermee die hoë GINI-koëffisiënt van Suid-Afrika in vergelyking met die res van die wêreld.

chrisp ·

Jaco Steyn.

Jy kom baie kras voor oor jou “grensloos irriteer” stelling. Die res vra jy goeie vrae wat vir my ook van belang is. Ek sal jou graag daarop wil wys dat ek (persoonlik) nou moeg genoeg is vir niks doen en dus hulle sal ondersteun.Dit nieteenstaande die feit dat daar ‘n paar punte is waar ek grootliks met hulle verskil.Die vraag vir my was.Wie doen die meeste vir my mense(soos ek my mense beleef)?Ek weet van geen ander organisasie wat vir my “mense” so veg soos hulle nie.Dalk kan jy een voorstel waarna ek moet gaan kyk?

Jy moet in gedagte hou dat die moontlikheid om aan al jou (en my) behoeftes te voldoen daar letterlik tienduisende organisasies sal moet bestaan.Dit is ook hoofsaaklik die rede dat die Afrikaner so verdeeld voorkom en selfs die spot mee gedryf word(heel tereg ook).Dit is beide ‘n goeie en slegte karaktertrek van ons mense.

Ons moet vrae vra anders ondersteun ons dalk weer ‘n verkeerde organisasie soos in die verlede.
Maar soos die ou storie is beteken woorde min dit is die dade wat tel en sover beindruk die meeste van hul dade my tenspyte van ‘n paar wat glad nie beindruk nie.

neelsie ·

Dankie Flip, met so n persoon kan ek assosieer.
Prys ons Drie-enige God vir mense soos jy!
Bid vir genade vir 2016.

Jaco Steyn ·

chrisp. Die tragiese is dat daar deesdae hoegenaamd géén organisasie is wat behoorlik veg vir “ons mense” nie, juis omdat die meeste Afrikaners deur die jare uiters doeltreffend geïndoktrineer is deur die hoofstroommedia, politieke partye, kultuurorganisasies en kerkleiers. Die HNP, VVK, VF-minus en Front Nasionaal, is nog groter hansworse as Soliforum. Terwyl daar in die jare vóór 1970 organisasies soos die FAK en die ou Nasionale Party bestaan het wat as buffer gedien het tussen die misleiding van die hoofstroommedia en die meeste Afrikaners, is daar ongelukkig vandag geen sodanige organisasies nie. Ek poog maar om d.m.v. my artikels mense in te lig oor hierdie dinge, maar ek het besef dat weinig mense bereid is om die ware oorsake en ware oplossings van ons probleme op rasionele en nugtere wyse te adresseer.

chrisp ·

Jaco.

Ek hoor wat jy se en kan ook dinge noem wat waar is en bewys kan word.Jy moe egtert baie seker maak dat dit wat jy se wel so is dws gee bv die skakel na genoemde artikel deur Flip Buys.
Die rede dat ek nie van die punte ophaal nie is dat van daai mense(Flip is nie een nie) die waarheid gesien het en totaal omgekeer het.Dws ek gaan net skade doen en tweedrag saai nie.
Dade spreek werklik meer as woorde en onthou dat ons nou van vooraf moet begin . Wees waaksaam vir huigelaars ja maar meer nog, waak daarteen om tweespalk te saai

Dalk ontmoet ons eendag ek dink ons sal ‘n goeie gesprek voer.

Maretha Pretorius ·

Jaco, die Woord wat bekend staan as ons Bybel, leer ons hoe om vir ons naastes om te gee en te help. Dit is hoekom ons nerens sal kom omdat elkeen net omgee vir sy eie mishoop!
Jesus leer ons in die woord wat ons elke dag bemoedig en sterk maak dat God sy kinders liefhet en dink sommige kinders hulle het Hom nie nodig nie. Almal wat die Woord glo, moet sy klein of groot deeltjie kan bydra.
Dankie Flip vir elke dag se bemoediging uit die woord as n mens sien wat rondom ons aangaan.
En Ja, ons moet die daad by die woord voeg en betrokke raak hoe klein ookal.
Maretha

Dr. Amari ·

Dankie Flip vir wat jy vir mense soos ons doen. Niemand hoef gedwonge voel om lid van Solidariteit te wees nie. Dus as iemand nie tuis voel nie hoef hulle hul nie te bekommer of te bemoei met die doen en late van die mense nie.

André ·

Baie dankie vir die goeie boodskap Flip. Ons almal moet eerstens begin met n positiewe gesindheid; by die huis én werk. Doen goed teenoor almal wat jou padjie kruis, al is dit net n goeie woordjie of daad. Dit word altyd waardeer…meer as wat mense soms besef. Mense moet ook betrokke raak by Solideriteit en Afriforum om sterk Afrikaner organisasies te skep. Hierdie help ons om nie net onself te help nie, maar ander ook. Voorspoed vir 2016! NB: Ek hou van die Bybel versies…

André ·

Jaco Steyn, volgens wat ek verstaan beywer Afriforum hulself vir eerstens vir Afrikaners (Afrikaans sperkende blankes), dan Afrikaans sperkende mense oor die algemene en dan vir die burger like gemeenskap as geheel.

Fanie ·

Beste Jaco, ek stel voor jy moet weer die betrokke Bybelversies lees wat jou so grensloos irriteer dat jy politiek uit ‘n Skrifoordenking wil pleeg. Dalk groei jy geestelik en bepaal jou by die dinge wat werklik saakmaak. Flip het volgens die Bybel nie nodig om jou te oortuig nie, maar slegs om te getuig. Solidariteit se landswye projekte ten bate van Afrikaners en die land is daar vir almal om te sien- teenoor jou skinderpogings om verdag te saai. Die Bybel stel dit duidelik dat jou geloof uit jou dade blyk, en dis die beste getuigskrif vir die Solidariteit leierskap. Jou selektiewe aanhaling uit ‘n stuk wat hy na bewering geskryf het vertel meer van jou politiek as van syne. Los die hakskeenbytery en probeer eerder nog een van die 4 000 kleuters wat Solidariteit kosgee te help ipv om soos ‘n Kuberplakker op te tree en valse gerugte te versprei. Wees eerder ‘n barmhartige Samaritaan as ‘n Fariseer.

Joh. 3:16 ·

Fanie
Jy het Jaco beter beantwoord as wat ek kon. Ek vind dit baie saboterend hierdie optrede van die Israelvisie idiologiese denkers in die Afrikaner volk. Hulle is gekondisioneer om alle positiewe verhoudings te bemors met hulle negatiewe en afbrekende denke. Dit vat ‘n man om verhoudings te verstaan; aan te moedig en op te bou. Mense soos Jaco het nie die breinkapasiteit om die belang van verhoudings te verstaan nie. Die een enkele ding wat die Satan in die Paradys geteiken het: verhouding tussen mens en sy God en mens en mens. Terwyl God Homself juis openbaar as ‘n Verbondsgod = God wat verhoudings opbou. Jesus Christus is juis die voltooiïng van God se Verbond = ewige Verhouding. Geloof in sy werk op aarde alleen herstel verhouding met God Drie-enig. Jy sal net oortuig word van hierdie Waarheid as God die Heilige Gees jou daarvan oortuig. Tereg het jy genoem dat ons net getuig. Dis nie ons werk om te oortuig nie. Jaco noem dat ons nie ‘n saak moet hê met enige volk wat volgens hom nie in sy defenisie van Afrikaner inpas nie. Hy doen presies daardeur die satan se werk om verhoudinge af te breek: die verhouding tussen volkere. As hy nie die NT lees nie, soos baie Israelvisie denkers doen, dan haal ek graag in die 33/53 Vertaling aan Jes. 49:6:’Dit is te gering dat U my Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jacob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot ‘n lig van die nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde.’ Hierdie Kneg, glo ek is die beloofde Gesalfde = Messias. En Messias is Hebreeus vir die Griekse woord Christus. My God bou volke se verhoudinge op. Hy bou mense se verhoudinge onderling op. Hy breek dit nie af soos die Farisiërs nie. Om verhoudinge moedswillig af te breek is duiwelse werk. Daarom sê die Christus vir die Farisiërs in Joh. 8:44: ‘Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen. Hy is ‘n mensemoordenaar van die begin af en staan nie in die waarheid nie…’ Besluit mooi wie jou vader is Jaco. Dit het ewigheids implikasies.
Dankie Flip. Gee nog Bybelverse… hou asb. aan om te bou aan onderlinge verhoudinge.

Marius ·

Calfyn word dikwels in so negatiewe lig gestel. Dit word eintlik deesdae as ‘n trefwoord gebruik om alles wat sleg is te beskryf, dat Calfinisme verantwoordelik is vir byna alles wat sleg is. Baie min mense doen die moeit om te gaan kyk hoe akuraat Calfyn was in sy interpretasie van God se woord as die hoogste gesag. Ons is deur genade gered, nie deur ons eie toedoen nie, maar deur ‘n Soewereine God. Mense wat twyfel in God se soewereiniteit moet die helfde van die Bybel weggooi, wat hulle mag doen as hulle wil. Moet dit dan net nie meer Christendom noem nie. Daar was ‘n tyd toe ons voorouers ook allerlei afgode aanbid het, voor die evangelie hulle bereik het. Ons het dit ontvang en nie uitgedink nie. Dit is die boodskap van die Bybel. As jy dit self uitgedink of geïnisieër het was Jesus se kruisdood nie nodig nie. Ons opdrag is dus om dit wat ons ontvang het aan te gee na die volgende generasie, getrou te bly aan sy woord en dit aan ongelowiges oor te dra. Dis hoe ons dit gekry het en dis ons opdrag om ook te doen. Net omdat ons ouers gelowiges is beteken nie ons het verdien om dit te ontvang nie. Dis God se genade. In Christus is almal een, of dit nou Jood of Griek is, vryma of slaaf. Dis wat Hy doen, nie wat ons doen nie. As jy dit nie verstaan nie verstaan jy nie die fundamentele beginsels van die Evangelie nie.

Bok-Bok ·

Dink darem nie Calvyn word vir alles wat negatief is beskuldig nie. Miskien trap jy ook nou in die veralgemeningstrik Marius. Calvyn, volgens algemene versugtinge, was sterk op die genietinge van die lewe, glo. (Jy sien, ek gaan ook nou op hoor-sê). Jy mag maar jy moet dit nie geniet nie. Maar ek probeer nou maar net ligtelik oor ‘n skynbare ernstige saak wees. Dool julle maar voort in die as-op-die-hoof en geseling met kleilatte. Ek sal van die kant af kyk met my cuppichino (ek hoop ek spel dit reg – dis die smaak wat tel) en kyk waar ek ‘n bydrae kan maak tot nasiebou.

Fanie Kemp ·

My gebed: Dankie HERE JESUS dat U organisasies soos Solidariteit, Afriforum en Helpende Hand gebruik as instrumente in U Hand in hierdie tyd in ons land. Dankie dat hulle “Oplossing gedrewe” te werk gaan en nie net lawaai maak nie.
Dankie vir Gelowige Leiers wat onbeskaamd hul Geloof en Vertroue in U bely en uitleef. Rus hulle toe met wysheid, krag en integriteit. Werk in ons mense se harte om ook betrokke te raak en hierdie organisasies te versterk om sodoende nog meer te bereik.
Fanie Kemp

Marius ·

Ek glo liewers in ‘n God wat soewerein is as een wat Sy naels kou en wonder of alles gaan uitwerk. Ek dink Openbaring slaan daardie een die nek in. Hy sê hy sal alles ten goede laat meewerk vir hulle wat Hom liefhet. Ek dink nie enigiemand aanvaar plaasmoorde omdat God dit so wil nie. Die probleem is Jaco dat jy die misterie van die Skepper wil verklaar. Sommige dinge sal vir ons ‘n raaisel in die spieël bly totdat ons eendag ten volle weet. Die verhaal van die Christelike geloof is geskryf deur die bloed van duisende en duisende mense, wat ook beslis nie alles gelate aanvaar het nie. Een van die dinge wat Hy verseker belowe het is vervolging en oorlewering om in stukke gekap te word. Ons aanvaar dit nie gelate nie, maar ons is ook nie onkant gevang as dit kom nie, want Hy het gesê dit sal kom. Ons werk is om ten spyte daarvan ligdraers te wees. Christendom is baie groter en jy maak ‘n groot fout as jy dink jy kan dit kaap vir enige politieke agenda. Ons westerse gemak het een slegte ding gedoen en dit is om ons te laat dink dat gelowiges verskoon word van vervolging en pyn. Sy belofte is dat Hy ons sal dra deur dit alles, ja al is daar dood en lyding. Koos Doep sê in een van sy liedjies die kis wag op die solder. Dit wag vir almal. Vir sommige kom dit jonk en vir ander op die oudag. Ek weet net Hy sal daar saam met my wees as ek soos die pelgrim in John Bunyan se verhaal deur die diep rivier van die dood moet gaan. Hy het die soewereine vertroue in Homself en daarom eindig Hy Openbaring met Homself as die soewereine heerser en oorwinnaar.

Marius ·

O ja, jammer ek het Calvyn met ‘n f gespel. Swak oomblik.

Johan ·

Ek weet nie hoekom mense in elk geval hulle Calvinistiese of Armeniese uitgangspunte moet verdedig asof alles daarvan afhang nie. Jesus Christus is die verlosser. Ons kan net deur Hom tot redding kom. Ek dink nie Hy gaan vra uit watter kamp ek kom nie. Ek moet ‘n bloedgewaste wees. Hy gee geen ander voorwaarde nie. Fokus op dit voordat jou Armeniese of Calvinistiese opinie dalk jou god word en jy mense vervreem omdat hulle uit ‘n ander kamp kom en jy hulle geloof daaroor beoordeel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.