67 Blankets wil wéér wêreldrekord breek

Foto: 67 Blankets for Nelson Mandela Day (South Africa) se Facebooklad.

Foto: 67 Blankets for Nelson Mandela Day (South Africa) se Facebooklad.

Die 67 Blankets-projek vier op 27 Januarie sy tweede verjaardag in Houghton Estate, Johannesburg.

Die inisiatief het in 2013 begin toe Zelda la Grange, voormalige persoonlike assistent van oudpres. Nelson Mandela, die aktrise Carolyn Steyn uitgedaag het om 67 komberse vir Mandela-dag in 2014 te brei. Steyn het intussen 67 Blankets op die been gebring en dié projek het reeds internasionaal momentum gekry.

Steyn sê die idee om te brei het deur Mandela se eie woorde tot stand gekom: “Hy het gesê ‘dit is nou in julle hande’. Met elke steek wat mense maak, hou hulle sy nalatenskap lewend. Dit is ook metafories daarvoor om die gemeenskap bymekaar te bring,” het sy gesê.

Die inisiatief het ook al verskeie wêreldrekords gebreek. “In 2015, om die 21ste jaar van demokrasie te vier, is meer as 7 000 komberse van regoor die land ontvang. Dié komberse is almal by die Uniegebou ontvang en moes met behulp van ʼn lugfoto afgeneem geword het,” het Steyn gesê.

Die komberse het altesaam 3 377 m² gedek – byna dubbel die grootte van die vorige wêreldrekord. Dit het ook verseker dat die inisiatief ʼn plek in die Guinness World Records gekry het.

Dié jaar gaan die projek egter verder. ʼn Spesiale memorandum is vroeër vanjaar by die Zonderwater- korrektiewe dienste onderteken waarby dié gevangenis sy betrokkenheid by die projek verseker het. Korrektiewe dienste regoor die land help dus om die huidige wêreldrekord te oortref.

“Die departement het 24 tronke identifiseer wat betrokke is by die projek. Die gevangenes word geleer om te brei en te hekel om op dié manier ook iets goed in die gemeenskap te probeer terugploeg,” het sy gesê.

Daar word ook ʼn musiekvideo beplan met ʼn liedjie wat geskryf is deur Steyn se peetkind, Ella Grealy (12), en twee ander gevangenes van Zonderwater. Sangers soos PJ Powers, Timothy Moloi en Proverb het die liedjie opgeneem.

Indien jy betrokke wil raak by die projek, registreer op 67 Blankets se webwerf. As jy nie kan brei of hekel nie, kan jy geldelike bydraes maak vir dié niewinsgewende-organisasie. Vir meer inligting stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.