Is dit die einde van intimiteit?

vriendskap

Foto: Helena Lopes/Unsplash.com

Min het ons met die verskyning van die eerste herfsblare geweet die dae van drukkies gee is eers iets van die verlede.

As ons maar geweet interpersoonlike aanraking kan letterlik ’n doodskus word, sou ons die mense vir wie ons omgee, toegevou het in ons arms. Vir eers vir oulaas.

Maar ons het nie tyd gehad om afskeid te neem van die wêreld waaraan ons gewoond was nie. Dit het byna oornag ’n geval geword van adapt or die. Letterlik.

In ’n navorsingsartikel in Oktober 2018 word die noodsaaklikheid van interpersoonlike liggaamlike aanraking onderstreep en nuwe inligting uitgelig. Professors Brittany Jakubiak en Brooke Feeney sê interpersoonlike nabyheid en veral aanraking versterk die persepsie dat daar ondersteuning is en dat ’n stressor oorkom kan word. Dit verhoed ook oormatige spanning en beskerm en versterk die selfbeeld.

Verbale (en digitale) kommunikasie word nou al hoe belangriker soos die anker van aanraking na die oppervlak begin dryf. Ons weet ook waarvan die hart van vol is, loop die mond van oor en dat dit gesond is om van die binnegif ontslae te raak.

Dis egter allermins wat ek op die oomblik ervaar. Die lyding, magsvergrype en die blote realiteit van hierdie onwerklike Covid-19-omstandighede het my eintlik stil gemaak. Ietwat stomgeslaan. Ek sukkel deesdae dikwels om my ervarings en persepsies in gesprekke te bewoord. Dalk benodig die steeds onwerklike omstandighede ’n nuwe woordeskat, want ek bly soek.

Intimiteit soos ons dit geken het, is vir eers iets van die verlede. ’n Vrolike hallo-kus op die wang (om nie eens te praat van ’n innige soen op die mond nie), ’n stewige handdruk, ’n teer omarming en selfs net ’n beamende tikkie op die skouer is nou potensieel lewensbedreigend.

Ons alfabet begin nou met “A vir Afstand”. Ouers wat ná ’n lang dag tuiskom, sal eers in die motor moet sit en die handreiniger kwistig aanwend voordat hul spruite in hul arms kan spring. Vir eers.

Hoe gaan ons mekaar intussen kan bystaan as ons dit nie deur aanraking kan doen of ’n uitlaatklep oor daardie gesellige kuiertafel kan vind nie? As ons emosies en reaksies net deur die beweging van die kepies langs ons oë geïnterpreteer kan word? Want die stemme agter die maskers is gedemp – nie ons eie nie.

Ek dink dalk ons behoud is om te géé en uit te reik. En nie net nou nie, maar ook wanneer die virus uitgewoed is. Soos ’n slim man een keer gesê het: “Daar is geen oefening vir die hart beter as om af te buk en iemand op te lig nie”.

Lizma van Zyl. Foto: Jaco Marais.

En voor ek groet, gaan ek ’n bekentenis maak: Ek het sedert 26 Maart toe die inperkingstydperk begin het, wel al drie drukkies gekry. Al drie van mans in totaal verskillende fases van hul lewe. Die eerste was ’n gerusstellende bear hug van ’n baie goeie vriend in sy tagtigs; die tweede van my apteker wat vertel watter stryd sy werk nou geword het – hoe vrees en angs mense se allerslegste daar voor sy toonbank na vore laat kom. (Daar is al selfs op hom gespoeg!) En die derde was van ’n sesjarige seuntjie van Wallis wat in Suid-Afrika gestrand is en sy ma en pa bitterlik mis.

Ek het in my lewe al baie drukkies gegee en ontvang, maar dié drie (“onwettiges”!) hou ek vir nou styf teen my bors vas.

Vir die maer jare.

  • Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM. Lizma kan elke Vrydagmiddag 12h45 op Die Kwik Styg op RSG gehoor word. Sy is die aanbieder en regisseur van die reeks oor klimaatsverandering.

Meer oor die skrywer: Lizma van Zyl

Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM.

Deel van: Goeie goed, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Ou Baardbek ·

Geagte me Van Zyl, (Lizma), ek wil baie graag kommentaar lewer op hierdie briefie van u, maar nie hier in die “openbare domein” nie. Wat ek wil sê kan dalk verkeerd interpreteer word, en ek hou dit derhalwe liewer privaat. Wens ek kon direk met u gesels? Dit blyk dat ons sentimente deel….

JohanR ·

Dankie Lizma Van Zyl. Daar word moes gese as jy jou arms heeltemaal om iemand vou, dat die vorm ‘n perfecte sirkel, en binne in daai sirkel voel die persoon wat jy omvou het veilig. Lyk my ons sal van nou af miskien net persone in ons “bubble” kan in ons arms opvou? Ek het gehoop om eendag Bianca Schoombee in my arms te opvou na haar Mev SA teleurstelling, maar lyk my die sal eers nou in 2027 gebeur, of nooit! En daar val ek al weer van my stoel af van die lag!

Michael ·

Ag assseblief, die stelling dat ‘n drukkie potensieel lewe lewensbedreigend is, is totale twak. Die lewe is vol lewensbedreigings-jou kanse om vandag vermoor te word of in ‘n motorbotsing te sterf of van ‘n miljoen ander dinge, is baie groter as om van ‘n drukkie van iemand te sterf-hopelik stap jy nou waar jy wil wees-en bly maar weg van motorverkeer want talle sterfte is voetgangers . Dit wil voorkom of ons onsterflik was voor die besondere virus want ons kan klaarblyklik nou potensieel net van hom sterf. Hou op om die vrees aan te blaas

Anoniem ·

Ja Michael, ek gee nog elke dag vir my mense ‘n drukkie, want wie weet of hulle nog more nog daar gaan wees. Liewer vir hulle vandag ‘n drukkie gee as om later met die selfverwyt te moet leef dat jy nie jou mense ‘n drukkie gegee het omdat jy jou laat beheers het deur ‘n vrees vir ‘n virus.

Pierreli ·

Ons het in die tyd inbeweeg waar indien jy die waarheid praat nou nie meer gesien word as die waarheid nie. En leuns word nou gesien as die waarheid. Ons moet pasop wat ons sê in die openbaar, of dit die waarheid is, is nie ter sprake nie.
Al wat saak maak is van wie af dit kom, die minderheid bevolking mag niks sê nie, dis die nuwe werklikheid.

Jacques ·

Ag nee-wat, ek gee en my familie gee drukkies soos normaal. Ek soen ook my vrou soos normaal. Ons weet mos nou al almal die virus is nie gevaarliker as ‘n verkoue nie. Ons wat die waarheid weet gaan ons nie aan koue pampoene steur nie. Daar is geen “nuwe normaal” nie, net ‘n sterk behoefte om die “ou normaal” sterker te leef as ooit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.