Affies lê behoorlik weg aan melktert

Melktert

Argieffoto.

Die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria gaan op 29 Februarie nasionale Melktertdag vier met ʼn sny melktert vir elke leerder van dié skool – vir elkeen van die 1 300 seuns.

Nasionale Melktertdag is jaarliks ʼn jolige affêre wat ʼn goeie verskoning bied om weg te lê aan een van Suid-Afrika se gewildste vorms van soetgebak. Dié dag word op 27 Februarie gevier.

Dirk Taljard, woordvoerder van Affies, sê die besluit om Melktertdag te vier het gevloei uit die inisiatief wat een ouer verlede jaar geneem het. “Ons het verlede jaar die dag gevier met melkterte vir omtrent 80 koshuisinwoners. Vanjaar het ons besluit om bietjie groter te gaan,” vertel hy.

Taljard sê ʼn beheerliggaamslid van die skool, Cecelia Joubert, het voorgestel dat elke seun ʼn sny melktert kry tydens pouse. “Ons het ʼn versoek aan die ouers gerig om die dag saam met ons te vier. Met die versoek het ons twee resepte aangeheg. Ons is intussen oorval met aanbiedinge van ouers wat melktert wil maak.”

Joubert sê sy moet al ouers se aanbiedinge van die hand wys, omdat hulle te veel ondersteuning kry. “Ons het uitgewerk daar is omtrent 220 melkterte nodig om 1 300 seuns elkeen ʼn sny te gee. Ons het tot dusver meer as 600 aanbiedinge gekry,” sê sy.

Die skool beplan ook om melktert aan Hoër Meisieskool se matriekleerders asook die voedingslaerskole se personeellede uit te deel vanweë die ondersteuning wat hulle van ouers ontvang.

Hou Maroela Media 29 Februarie dop vir foto’s van dié joligheid.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Elizabeth ·

Hoekom wegwys? Daar is mos DER DUISENDE behoeftige skole. Melktert is mos nie net vir die super rich nie. Wat vsn UITREIK?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.