AfriFoon het pas die eerste eenstopselfoondiens geword wat selfoondienste uitsluitlik in Afrikaans aanbied. Boonop sal kliënte ’n keuse hê tussen maand-tot-maand- of terugwerkende betaalpakkette, insluitende debietorderfasiliteite, ’n wye verskeidenheid uitstekende handtoestelle en die voordeel van aanbiedinge soos die huidige kontant terug- aanbod.
Beatrice Pretorius, woordvoerder vir AfriFoon, verduidelik dat die maatskappy poog om Afrikaans in die telekommunikasiebedryf uit te bou en te ondersteun. Die AfriFoon-selfoondiens word deur GloCell gebied en gebruik die Cell C-netwerk.
“Dit is ’n historiese dag in die telekommunikasiebedryf aangesien AfriFoon die eerste van sy soort in Suid-Afrika is. Dit is ’n voorreg om die eerste eenstopselfoondiens in die wêreld te wees wat die volledige diens uitsluitlik in Afrikaans lewer. Die diens sal ’n belangrike bydra tot die uitbou van Afrikaans lewer, veral in die tegnologiesektor,” sê Pretorius.
Met die huidige spesiale aanbod gee AfriFoon ’n 5%-korting aan alle AfriForum-lede. Die korting kan óf aan ’n opleidingstrust geskenk word wat ten doel het om Afrikaanssprekendes deur middel van opleiding te bemagtig, óf intekenaars kan besluit dat die kortingsbedrag teen hul persoonlike rekening afgetrek word.
“Die opleidingstrust is ’n wonderlike inisiatief van AfriFoon. Ons moedig intekenaars aan om hierdie inisiatief te ondersteun deur hul 5%-korting aan die trust te skenk.”
Persone wat ’n gratis kwotasie wil hê kan hulle NAAM SMS na 45114 (R1) en AfriFoon sal hulle terugskakel.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
9 Kommentare
Uit die moeras sal ons styg…..en bou ..en groei..ons Afrikaner volkie
ummm… Wat van BokSell in die kaap?
Dis ‘n baie goeie ding. My enigste bekommernis is dat Glocell nie baie goeie diens lewer nie.
Die Afrikaners is nou sterk oppad na bo, want die telekommunikasie industrie is van geweldige ekonomiese belang. Dankie vir julle bouwerk, julle is sterk op die regte pad.
Weereens, weereens briljant!!! Baie dankie, voorwaar lekker om deel van so n organisasie te wees!!! Doen so voort.