Afrika se suidelikste polisiehoof praat prontuit

kaptein-charlene-swart

Pierre Massyn (links) saam met kaptein Charlene Swart (regs) wat bevelvoerder by die Suidpunt-polisiestasie is. Foto: Verskaf.

Deur Pierre Massyn

Sy is kaptein Carlene Swart en staan vrou-alleen aan die stuur van Afrika se suidelikste polisiestasie. In ’n eksklusiewe onderhoud met Pierre Massyn praat sy openhartig oor haar belangrike taak as die no. 1-wetstoepasser op die dorp Struisbaai, vier kilometer vanaf Kaap Agulhas, wat die suidelike punt van die Afrika-vasteland is.

Hoe ervaar u as vrou u rol as bevelvoerder van die suidelikste polisiestasie op die Afrika-vasteland?

Om ’n vrou te wees speel nie ’n rol nie. Ek ervaar die rol geensins anders nie. My benadering is nog steeds dieselfde. Vir my is dit net nog ’n pos.

Waar het dit alles vir jou begin?

Ek kom van die Noord-Kaap. My pa was ’n polisieman en feitlik al sy familie in die ou Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD). Dit het my sonder twyfel aangespoor. Ek het in Kimberley gematrikuleer en is direk daarna polisiekollege toe. Ek was voorheen verbonde aan die Bredasdorp-polisiekantoor waar ek skoftebevelvoerder was en is toe in 2009 hierheen oorgeplaas.

Jy is ’n wit vrou in ’n tyd van regstellende aksie. Het hierdie werklikheid enige uitwerking op jou funksie?

Glad nie. My werk is nie moeiliker (of makliker!) omdat ek lig van velkleur is nie.

Watter vordering is gemaak met die vlaag onlangse inbrake?

Verskeie inhegtenisnemings is gemaak. Ons verkeer steeds op hoë paraatheid en gaan voort met voorlê-aksies. Die kameras wat met die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) se hulp aangebring is, het ’n groot rol gespeel.

Hoe ondervind jy jou werk op ’n dag-tot-dag-grondslag?

Dis ’n warm stoel waarop ek sit! Ek ondervind druk van die gemeenskap self, asook van binne die SAPD-struktuur. Ek het 32 lede onder my – onderverdeel tussen die uniformlede, speurders en ondersteuning. Ek is darem nie vrou-alleen hier nie! Ons is vier vrouens. Ons het ook een reservis. Die moratorium op die aanstelling van reserviste is opgehef en ons hoop ons kan meer reserviste aanstel.

Watter misdade word die meeste gepleeg?

Ons ondervind heelwat eiendomsmisdaad, huisbrake, diefstal uit voertuie en kontakmisdade. Dwelms gee wel aanleiding tot baie van die probleme. Ons weet van die smokkelhuise en het juis onlangs operasies teen hulle uitgevoer.

Vind jy nie dat die regsplegingstelsel in Suid-Afrika die polisie se werk kortwiek nie?

Ja, dis beslis frustrerend as ons ’n misdadiger aankeer en hy of sy is kort voor lank weer op straat. Die stelsel werk as’t ware teen ons. Die howe is onder druk om sake so vinnig as moontlik van die hoflys te kry. Dit gebeur omdat die tronke oorvol is en landdroste stuur dus minder mense tronk toe. Vir korrektiewe dienste is iets soos inbrake gevolglik van minder belang. Dus fokus die regslui op vonnisoplegging van ernstige misdade, aangesien hulle statisties-gedrewe is en sekere teikens moet haal. Dit het ’n sneeubal-effek wat ʼn negatiewe impak op ons werk het.

Jy het nou na jou personeel verwys, maar het julle voldoende vervoer?

Ons het nege voertuie, maar nie al nege is altyd onmiddellik beskikbaar nie. Sommige word herstel en ander word op ander brandpunte gebruik.

Die Kersvakansie is op hande. Watter wetstoepassing kan ons van julle kant af verwag?

Ons gaan met Kaap Agulhas munisipaliteit (KAM) vergader en gesamentlike optredes uitvoer. Ek praat nou van wetstoepassing, die reguleer van verkeer en padblokkades. Ons verifieer ook dat diegene wat vuurwerke verkoop, wel die nodige lisensie daarvoor het. Die publiek word ernstig versoek om slegs vuurwerke af te vuur in die gebiede wat daarvoor gesoneer is. Ons sal patrollies ry. Oujaarsaand is vir my ’n absolute nagmerrie! Ons gaan kennisgewings oor vuurwerke by openbare plekke soos die OK en die Friendly Grocer aanbring.

Waarvoor is julle op die uitkyk wanneer julle ’n padblokkade hou?

Hoofsaaklik dwelms, ongelisensieerde vuurwapens en perlemoen.

Hoe is julle samewerking met die GPF?

Uitstekend. Ek is baie dank verskuldig aan die GPF se voorsitter, Schalk Lourens.

Hoe voel jy oor die nuwe polisiekantoor wat kom?

Opgewonde! Ek en Lourens het dit al sedert 2009 versoek. Ek het persoonlik ’n dossier so 9 duim dik oor hierdie saak. Die nuwe polisiestasie sal groter wees, meer kantore bevat en ook selle hê.

Daar is vir maande lank geen hekwag by die Park se ingang nie en perlemoenstropery vind helder oordag plaas. Wat is julle samewerking met Sanparke?

Hulle het ’n uitstekende wetstoepassingsbeampte in Masindi gehad. Ons het ’n baie goeie werksverhouding met hom gehad. Hy is egter verplaas en skynbaar nooit vervang nie. Ek het die parkhoof, Johan Taljaard, aanvanklik per geleentheid by die Suidpunt-inwonersvereniging (SIV) gesien, maar die laaste keer was hy ongelukkig nie daar nie. Ek onderneem egter op jou versoek om direk met hom in gesprek te tree ten einde die probleem hok te slaan.

Korrupsie is ’n enorme probleem in die hedendaagse Suid-Afrika. Het jy korrupte lede?

As hy of sy op my betaalstaat is, wys hom vir my! Indien daar bewyse is van sodanige korrupsie of korrupte lede, dan nooi ek die publiek uit om met die nodige bewyse vorendag te kom en dan sal ek optree. Vir ’n skelm polisieman het ek geen tyd nie.

Hoe beskou jy die SOS-groepe in Struisbaai en L’Agulhas?

Ek verwelkom alle pogings om misdaad te bekamp. Dieselfde geld vir die SOS’e. In die begin was daar ’n paar groeipyne, maar dis nou grootliks opgelos. Daar heers tans goeie samewerking.

Hoe sien jy die pad vorentoe?

Ek is positief. Ek vra op hierdie tydstip net begrip van die publiek. Ek weet die media kritiseer ons soms heftig. Ek vra egter dat nie alle polisielede of -stasies oor dieselfde kam geskeer word nie. My deur staan te alle tye oop vir enigeen.

  • Pierre Massyn is ’n oud-SAUK-joernalis wat, onder meer, die eerste TV-onderhoud met oudstaatspresident  FW de Klerk gevoer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

izette ·

Wys jou dat ons dames ook die ding kan doen….trots op jou…sterkte en voorspoed vir jou vorentoe…

Ruan ·

Tannie my ma is in 2003 aangewys as die 1ste vrou in die geskiedenis van die SAPD wat aangestel is as voertuig vloot bestuurder en is 1 van minder as 10 vroue wat kode 14 lisensie het en wat bestuur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.