‘Afrikaanse flieks nié net swak,’ sê kundiges

Leon van Nierop. Foto: Skermskoot uit video.

Die Afrikaanse fliekbedryf beleef aan die een kant ’n bloeitydperk, maar terselfdertyd kry die bedryf swaar. Tradisionele fliekgangers kyk makliker na Netflix of Catchup as om ʼn Afrikaanse fliek in die rolprentteater te gaan kyk. Om die waarheid te sê, jongmense sukkel om aanklank te vind by flieks, en die fliekbegrotings in Suid-Afrika raak al hoe kleiner.

Dít is die gevolgtrekkings wat gemaak is gedurende ʼn paneelgesprek, gelei deur Leon van Nierop, wat Saterdag by die dié jaar se Boekejol-fees in Pretoria plaasgevind het. Van Nierop het met verskeie rolspelers in die Afrikaanse fliekbedryf gesels.

Chris Broodryk, fliekresensent en skrywer, het gesê hy is positief oor die toekoms van Afrikaanse flieks.

“Ek is versigtig optimisties, maar ek is meer optimisties as versigtig. Die werk wat gedoen word met bestaande literatuur, byvoorbeeld in ʼn fliek soos Dis ek, Anna, kan baie goeie goed doen vir ons fliekbedryf.

“Gehoorontwikkeling is wel baie belangrik. Mense moet die gehoor aanmoedig om meer flieks te gaan kyk. Die Afrikaanse mark is net só groot, en dit gaan nie noodwendig groter word nie. Ons móét die gehoor wat ons tans het, ontwikkel.

“Die Afrikaanse fliekbedryf kompeteer nie net met ander Afrikaanse flieks nie, maar met al die Engelse flieks ook, so ons moet ekstra hard werk om te kompeteer met Netflix, Amazon Prime en Chatchup,” het hy gesê.

Suid-Afrikaanse flieks se begrotings is ook baie minder as byvoorbeeld Amerikaanse begrotings.

Piet de Jager, fliekvervaardiger, het gesê geld is die belangrikste aspek om te oorweeg voor die verfilmingsproses kan begin.

“Ek sal nooit met die produksie begin as almal se geld nie getel en beveilig is nie. Om ʼn fliek te maak moet dit voor die tyd finansieel moontlik wees, anders kan jy dit nie bevestig nie. Dit sluit in vervoer om by die stel te kom, die stel self, waar mense slaap, wat hulle eet en drink, ensovoorts.”

Ander mense wat deel is van die produksieproses word ook geraak deur die finansiële beperkings, omdat daar nou van hulle verwag word om meer take in minder tyd te doen.

Dawie de Jager, musikant en skrywer, sê in teenstelling met die verlede waar baie mense moes saamwerk om die musiek vir ʼn fliek bymekaar te sit, is daar vandag slegs een mens wat dié werk doen.

“Daar word deesdae verwag dat een mens baie meer vaardighede moet hê as voorheen. Jy moet sommer al die instrumente kan bespeel, sodat hulle nie ʼn volledige orkes hoef in te kry nie. Een mens moet die musiek beplan, bymekaarsit, komponeer, redigeer en speel,” het hy gesê.

“ʼn Afrikaanse fliek vandag het nog dieselfde begroting as in 2010, maar die vervaardigingsprys het gestyg. Mense kan dus net eenvoudig nie bekostig om ʼn orkes vir R10 000 per dag te gebruik nie.

“Ons kan eintlik baie dankbaar wees vir die gehalte flieks wat ons kry met die baie beperkte begrotings en mark,” het De Jager gesê.

Dit is juis ook as gevolg van swakker gehalte Afrikaanse flieks dat die mark so klein is. Mense onthou byvoorbeeld dat hulle ʼn swak Afrikaanse fliek gesien het, en wil dan nie weer ʼn kans waag om ’n Afrikaanse fliek in die rolplrentteater te gaan kyk nie.

“As ons kyk na die geskiedenis, en die tipes Afrikaanse komedies wat ons al gehad het, kan dit mense afsit om die geld uit te haal vir beter flieks soos byvoorbeeld Verraaiers. Mense moet bewus wees van ander maniere van kyk – dat Afrikaanse flieks nie altyd snaaks en swak hoef te wees nie,” het Broodryk bygevoeg.

Fanie Viljoen, jeugverhaalskrywer, sê die omskakeling van boeke in flieks en andersom, skep sélf ʼn nuwe mark in die Afrikaanse fliekbedryf.

“Die verfilming van jeugverhale, en veral wanneer dit dan in skole gebruik word, skep ʼn nuwe mark. Die matrieks in skole is ʼn groot gehoor, so dit het ʼn goeie impak op die fliekbedryf.

“Die Afrikaanse gehoor moet opgevoed word om verskillende tipes Afrikaanse flieks te waardeer. Dit sal daartoe lei dat mense meer gewillig is om geld uit te haal vir Afrikaanse flieks, wat sal veroorsaak dat die fliekbedryf kan groei en ontwikkel en finansieel sterker kan word.”

Die Boekejol en Filmrolfees word nog tot 20 Augutus in Pretoria aangebied. Vir meer inligting oor ander gesprekke wat aangebied word, besoek die fees se Facebook-blad.

11 Kommentare

teleurgesteld ·

Hou op om soos oorsee se flieks te laster! Om God se naam so te gebruik. Soos in die fliek Jagveld! Dit sê nogal baie van die persoon wat so praat ook al is dit net i n fliek.

teleurgesteld ·

Dis swak dat jul my kommentaar verwyder maroela! Ons Suid afrikaaners wat nog in God glo hou nie van God laster flieks nie dit sien ons te veel in oorsee se flieks! soos ek gesê het jagveld staan voor!! Swak smaak!!! Maak liewers mooies soos pad na jou hart,

Carien ·

Engelse opskrifte moet daar beslis wees. As jy dit koop en jy sit ver oor die water in n ander land, kan ander dit ook kyk.

Robert ·

Elke “deskundige” het nou maar sy eie opinie en wil dit lug. Wat vir die een ‘n swak fliek is is nie noodwendig swak vir die ander nie.

Ben ·

Hou op om die afrikaners as agteraf voor te stel. Nie almal is so nie. Wie will na ‘n fliek kyk met ‘n swak klank kanaal en wat jou en jou mense die heeltyd afbreek. Dit is meeste van die tyd drama oor die negatiewe geskiedenis en nooit iets positief of oor ons pragtige natuur nie. Jamie Uys se flieks was van die wat beters is en die kinder het dit geniet.

Haan ·

Ek sal my kinders grootgemaak met Paljas, jamie uys, Kiepie en Kandas, Manheim sage, plek van die vleisvreters, dryfsand, Trompie, die Swartkat en al die ander pragtige erfenis stukke! Nie hierdie hedendaagse nonsens nie!… Ek is 23jaar oud

Lydia ·

Fliek kyk het ook baie duur geword. Teen daardie pryse kyk ek liewer iets wat nie my heenkome en wie ek is afkraak as eenvoudig en agter die brug nie. Showmax is net R99.00 per maand. Ek kyk fliek wanneer ek wil, en kan selfs vir my ‘n paar aflaai wat ek kan saam neem en kyk wanneer ek reis.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.