Afrikaanse radiostasies steek kers op by groot name in bedryf

Foto: Maroela Media

Foto: Maroela Media

51 bestuurders en omroepers van verskeie gemeenskapsradiostasies het op 11 en 12 Augustus vanjaar die geleentheid gehad om te leer by groot en bekende name in die mediabedryf, soos Tim du Plessis, Mariëtta Kruger en Bettie Kemp.

Maroela Media het vanjaar sy vyfde radioseminaar vir gemeenskapsradiostasies, Klankgolf 2016, in Pretoria aangebied. Die doel van dié seminaar is om stasies wat Afrikaans as een van hul uitsaaitale gebruik, te bemagtig en toe te rus om uitmuntende Afrikaanse programinhoud vir hul gemeenskappe te vervaardig.

Verteenwoordigers van GROOTfm, Lekker FM, Lichvaal Stereo, Puk FM, Oosrand Stereo, Overvaal Stereo, NWU (honneursstudente), Radio Kansel, Radio Laeveld, Pretoria FM, Maluti FM 97.1 en Waterberg Stereo het vanjaar die seminaar bygewoon. Coenie de Villiers, ervare hand in die radiobedryf en bekroonde uitvoerende kunstenaar, het as fasiliteerder opgetree en self waarde tot die seminaar toegevoeg.

Seminaargangers het by kundiges in die bedryf geleer oor onderwerpe soos die bestuur van ʼn radiostasie se sosiale media en die skep van goeie programinhoud. Willie Spies, besturende direkteur van Pretoria FM, het gesels oor ʼn stasie suksesvol in ʼn nuwe rigting gestuur kan word, nadat dié stasie die afgelope paar jaar met groot sukses van die voormalige Radio Pretoria getransformeer het na ʼn “splinternuwe” radiostasie, Pretoria FM.

“Dis belangrik om die regte mense aan te stel – bekwame mense wat dinge in ʼn nuwe rigting kan stuur,” het Spies gesê.

Verteenwoordigers van Samro (Southern African Music Rights Organisation) en Sampra (South African Music Performance Rights Association) het ook tydens een van die sessies meer duidelikheid oor tantieme en kopiereg op musiek gegee en stasies se vrae hieroor beantwoord. As ʼn kersie op die koek het Coenie de Villiers tydens die laaste sessie met seminaargangers gesels oor die “musiekbrein” en die waarde wat musiek tot die bestuur van ʼn onderneming kan toevoeg.

“Ek dink die seminaar is baie belangrik,” sê Angeline Marokoane, programbestuurder by Oos-Rand Stereo. “Ons leer baie van ons kollegas in die bedryf en ek het van ons omroepers vanjaar saamgebring sodat hulle self ook kan hoor hoe ons kan groei en verbeter.”

“Dit was verskriklik sinvol,” sê Schoeman, omroeper by Groot FM. “Ek is al 22 jaar betrokke by radio, maar ʼn mens kan nooit ophou leer nie. Dis ook hoekom ek nooit sal ophou om sulke seminare by te woon nie, want ʼn mens leer elke keer iets.”

Vir omroeper Pieter Cloete was dit veral waardevol om na Spies se verhaal oor die transformasie van Pretoria FM te luister. “Dit was baie interessant om te sien hoe Willie en sy span ʼn radiostasie in vyf jaar só kon omdraai.”

George Visser, stasiebestuurder by Lichvaal Stereo na wie gereelde seminaargangers grappenderwys verwys as die “hoofseun”, sê dis ʼn goeie plek om ʼn netwerk in die radiobedryf op te bou. “Dis waardevol vir die kennis wat ek opdoen, maar die netwerkgeleentheid is net so belangrik – om nuwe netwerke te vorm vir hulp en ondersteuning.”

Die seminaar word weer op 1 en 2 September in Kaapstad aangebied, vir gemeenskapsradiostasies in die suidelike dele van die land. Stuur

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pieter Cloete ·

Dit was ongelooflik waardevol, dankie Maroela Media!

Wern ·

Baie Dankie Maroela, gemeenskapsradio is baie belangrik om ons kultuur te laat oorleef en verder te laat groei!

Steve Lategan ·

Met die sg “transformasie” van Radio Pretoria, het `n klompie mense in die slag gebly.
Was hulle té konserwatief vir die “New World Order?”
Die traak-my-nie-agtige houding oor taalsuiwerheid val `n mens op as jy na die ge-“transformeerde” omroepers en hul ateljeegaste luister.
Wanneer `n omroeper (Saterdag-aande) weier om `n versoek toe te staan en nie `n sekere kunstenaar se musiek te speel nie, uit “respek vir sy groot vriend, Heinrich Marnitz, is dit tyd om tot siens te sê vir ons erfenis en `n geradbraakte bedrogspul waarin Radio Pretoria ontaard het met sy liberalistiese transformasie! “Cheers, julle manne!”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.