Afrikaners is plesierig, al bly hulle ver…

afrikaners-bly-plesierig-rene

Foto: René du Preez.

Dis Erfenisdag en ons braai. Die kinders speel ʼn hond uit ʼn bos en die mans kuier lekker om die vuur. Dan begin die boeresport: toutrek, sakresies en aartappelresies. Later, wanneer die son gaan lê het, en die kuier goed op dreef is, word daar langarm gedans op die maat van Bok van Blerk en Theuns Jordaan. Nog bietjie later word ons nostalgiese hartsnare geroer deur die klanke van die gasheer se konsertina.

Die paptert, pampoenkoekies, boerewors en braaibroodjies word gevolg deur malvapoeding en vla. Dis dan wanneer ek onder die sterre sit, luister na die geskerts om my en die kinders se skaterlag. En ek onthou: ek is in Nieu-Seeland.

Dis dan wanneer ek besef ek is ver van “die huis” af. Hier en daar praat iemand oor Suid-Afrika – oor die rugby, oor die politiek, oor die Bosveld, oor die Krugerwildtuin. Dis met ʼn soort heimwee wat nie heeltemal hartseer is nie. Dis die soort geselsies wat jy praat met iemand wat saam met jou skoolgegaan het of saam met jou op universiteit was. Dis ʼn lekker soort “onthou”. Nie lank nie, of ons gesels weer oor die weer of iets.

Die kinders hier om my is gebore in Nieu-Seeland. Hulle praat Afrikaans soos ek. En hulle praat Engels soos ʼn Kiwi. Maar hulle is Afrikaners. Ons is Afrikaners. Ons kultuur is in ons. Ons erfenis is meer as waar ons is.

Ons kinders gaan nie hier in Afrikaans skool nie. Ons gaan nie in Afrikaans kerk nie. Ons werk is ook nie in Afrikaans nie. Maar ons is steeds Afrikaners. Juis die feit dat ons hier is, maak dit duidelik. Die kontras en andersheid van die mense maak wie jy is, vir jouself helder. Jy sien jouself in jou essensie. Jy sien ook duidelik wat jy nooit sal kan laat gaan of verloor nie. Ons bly Afrikaners.

Ons het die bloed van Franse Hugenote en Duitse setlaars. Ons het die DNS van Voortrekkers. Ons durf ons eie berge en dale en onbekendes aan. Ons is sterk – ʼn bietjie dikvellig, ʼn bietjie hardkoppig. Ons is kanniedood. Ons is reguit (iets wat hier nie goed ontvang word nie). Ons werk hard.

Ons weet waar ons gaan, sal ons moet veg vir onsself en ons identiteit, maar dit moes ons ook doen waar ons was. Ons moes sien hoe geleenthede en hoop vir ons mense minder en minder raak. Ons moes skaam wees omdat ons Afrikaners is.

Maar ek ís ʼn Afrikaner. Ek sal Afrikaner bly, maak nie saak op watter grond my voete staan nie. My geskiedenis bly myne, al skryf hulle al die geskiedenisboeke oor. Ek oorleef en oorwin. Ek is avontuurlustig. Ek kan die uitdagings hanteer. Afrika is nie vir sissies nie, soos hul sê. Afrikaners is gehard. Hier wéét jy dit.

Hier is ons waardig. Hierdie land wil ons hê, want ons kan werk en ons het kennis. Hulle maak dinge so maklik as wat hulle kan vir hul burgers. Solank jy onthou van nederigheid en afhanklikheid van God, dieselfde God wat waak oor Afrika. Jy kom dalk om te help op plekke waar ander nie sal nie, nes jou voorvaders.

Ek is ʼn Afrikaner. Ek is ʼn hedendaagse Voortrekker wat saam met duisende ander ʼn nuwe land my tuiste gaan maak. Ons trek vooruit, en ná ons sal daar nog wees wat trek. Dalk nog baie. Dalk sommiges teen hul wil. Ons trek en ons gee nie op nie. En waar ons kom, beur ons voort. Dis in ons aard. Dis in ons bloed.

Hier waar jy ver van die geskiedenis is wat jy ken, begin jy waardeer wie jy is. Piet Retief se storie is jóú storie. Jy wil dit oorvertel en jy wil hê jou kinders moet dit ken en dit oorvertel. Hulle moet weet van Paul Kruger en Wolraad Woltemade en Dirkie Uys. Jy wil “Kinders van die wind” en “My oom se motor” en “Die padda wou gaan opsit met sy nooi in die vlei” vir hulle leer.

Ja, hier sit ek onder vreemde sterre en kyk na die onderstebo maan. En ek wil vir elkeen wat hier is, en elkeen wat in Suid-Afrika is, sê: Ons is kakiebos. Ons is klitsgras. Ons sal oorleef en aanhou en uitstyg. En ons sal nie vergeet wie ons is nie. Al moet ons baklei vir ʼn plekkie onder die Afrika-son, of ʼn vreemde son.

Ons is Afrikaners.

René du Preez

Meer oor die skrywer: René du Preez

René du Preez is ʼn projekbestuurder, ma en eggenote. Sy is passievol oor die natuur, mooi musiek en kuns. Skryf is vir haar ʼn manier om sin te maak van die wêreld en ʼn stukkie van haarself vir mense te gee.

Deel van: Karmenaadjies, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

29 Kommentare

Boerseun ·

Jammer, maar jou kinders gaan n Kiwi trou en jou kleinkinders gaan nie Afrikaans praat nie. Jy is dalk Afrikaner maar jy is in jou nuwe land n laaste geslag. Julle sal soos die Iere in Amerika St’ Patric’s day hou maar nie een woord van die taal kan praat , of 2 dorpe kan opnoem nie. Ek sien jou nie voor jou nuwe leiers betoog vir aksies teen plaas moorde of onteieing nie. Jy praat oor waardigheid ens terwyl jou volksgenote gemoor en verkrag word en jy doen niks. Afrika het jou vergeet die dag toe jy op die vliegtuig klim en weghardloop na jou nuwe land. Los ons om na Oom Paul om te sien en leer maar eerder God defend New Zeeland. As jy Afrikaner is , wys dit.

Juan-Re ·

Boerseun

Dit het niks met weghardloop te doen nie!! Hoekom moet ek in ‘n land bly waar daar elke dag van my lewe vrees oor wat met my en my vrou kan gebeur agv die misdaad!! Jy nie sekerheid het of jy more nog ‘n werk gaan hè agv ons UITERSTE swak ekonomie. Ons onderwysstel in SA is ‘n ramp. Al word ek nie as ‘n “amerikaner” gesien nie sal ek eerder gaan werk en bly waar ek welkom voel en versekering het oor my toekoms!!!

Dalk moet jy bietjie gaan sit en dink dat die wit populasie is slegs 8,9% in SA en maak nie saak wat ons sè of doen nie niks sal en kan verander nie. Ek is nie negatief nie, slegs realisties!!

Gerhard ·

Jou kommentaar bevat beide geldige stellings en absolute bog. Ek sal jou toegee (as iemand wat al amper twee dekades oorsee woon) dat jy reg is as jy dink die kleinkinders sal nie Afrikaans wees nie. Ek sal selfs sover gaan om te se die kinders is nie meer Afrikaner nie. Tog is die stelling dat emigrante niks doen vir Afrikaners in SA nie absolute snert. Ek sal sover gaan om te se hulle doen meer as die gemiddelde Afrikaner in Suid-Afrika. Jy praat van plaasmoorde en grondonteienings, waar is daardie plaasboere en grondeienaars as ander Afrikaners in armoede vergaan. Dan hoor jy niks van hulle nie. Baie emigrante was gewone mense en goeie kandidate om vandag in wit plakkerskampe te woon en het vroegtydig ‘n plan gemaak om dit te vermy, daar is niks daarmee fout nie. Ek sal waaragtig nie terugkom SA toe om grondeienaars wat niks voel vir sy mede Afrikaner se ontwil nie. As hulle eendag leer wat saamstaan beteken dan sal baie van hulle probleme vanself weggaan.

Aussie boer ·

Boerseun.

My ou maat….. my deel het ek gedoen vir Suid Afrika. Nagte om patrollie gery as deel van die GPF. 100 ure aanklagkantoor diens gedoen as deel van reservis opleiding, en nog vele meer om n verskil in die blou uniform te probeer maak. Tot 4am die oggend in die koue in die veld gesit en wag om n plaasaanval te help keer, en dan die volgende oggend stiptelik terug te wees by die werk. Ek bly in Australië, en spreek hard en duidelik myself uit teen plaasaanvalle en misdaad is SA. Neem deel aan optogte hier saam mede Afrikaners om JOU te probeer help. En dan vra jy wat doen ons? Die vraag is dalk….. wat doen jy aan jou eie lot??? Hou op om ons te blameer vir “niks doen”, jy ken duidelik nie jou eie volk se opofferings oorsee nie.

Ons het als opgeoffer om die vreemde in te trek….om iets beters vir ons kinders bymekaar te probeer krap.

Ek bespeur n bietjie jaloesie in jou houding…..

PS. Kinders in SA trou reeds oor die taal grens. Ek hoop maar vir jou part joune doen nie dieselfde nie….dan is hulle ook die laaste geslag…. en dit in jou tuisland.

Phillip Groen ·

Wat Boerseun hier noem is ‘n absolute feit. Ek het self familie en vriende oorsee en kan duidelik sien hulle kinders en kleinkinders verloor hul Afrikaanse karakter met tyd.

Sonder uitsondering het ek gesien hoe die kinders hul nuwe land se gewoontes en kultuur aanleer ten koste van hul eie. Verseker sal die oor groter meerderheid van die wat oorsee gaan uiteindelik assimmileer met hul nuwe land. Die ouers mag dalk nog die nostalgie behou maar die kinders het dit nie in hulle verwysingsraamwerk nie.

Jy bluf jouself as jy dink jy kan jou Afrikanerskap handhaaf en laat voortbestaan in jou nageslag oorsee.

Verseker is dit so dat die Afrikaners oorsee bitter min doen om hul ou vaderland se probleme oorsee te probeer verlig, maar dan doen net so min dit hier ter plaatse. Min raak betrokke by die oorlewerings stryd van die Afrikaner. Maar daar is uitsonderings hier en oorsee.

Die behoud van ‘n volk gaan nie oor enkelinge se behoud van persoonlike veiligheid of welvaart nie, maar oor hoeveel van daai welvaart en veiligheid ‘n volk kollektief bereid is om op te offer vir die volk se voortbestaan.

Die Voortrekkers het nie die binneland ingetrek omdat dit veiliger en finansieël meer aanloklik was nie. Die teendeel was eerder waar, hulle het getrek om hul karakter en waardes te behou. Om jouself ‘n nuwe Voortrekker te noem is totaal absurd.

Helen ·

Ek stem so 100% saam met jou Boerseun. Nou het hul hul vader en moeder vaderland en volk verraai en spog dan nog daaroor

Henry ·

Of Afrikanerskap en alles wat daarmee saam gaan, volhoubaar gaan wees onder mense wat na verskillende dele van die planeet verhuis, is ‘n ope vraag. ‘n Vraag wat vir seker nie nou be-antwoord kan word nie en wat te midde van die huidige omstandighede eintlik van geen belang vir mens of dier is nie.

Wat egter soos ‘n paal bo Bon Accord dam se vrot water staan, is dat 3 of 4 miljoen wittes – waarvan ongeveer 2 en ‘n bietjie miljoen Afrikaners is – geen inspraak op die verloop van gebeure in hierdie droewe land het nie. Meer as 55 miljoen wat algaande alhoe meer deur ‘n korrupte regime ge-breinspoel word, se voorkeure sal ten koste van alles en nog wat, voorrang geniet.

Na 24 jaar is dit tog heel duidelik dat hierdie land en ‘n korrupte regime wat vanaf munisipale tot die hoogste vlak strek, gemiddelde daaglikse moordsyfer van 57 siele, grondgrype, bankkrot staatsinstellings ens ens ens., uiteindelik maar net nog ‘n gefaalde Afrikastaat is.

Al die koning se impi’s en al die koning se perde en donkies, sal nie vir arme Hompie Kedompie weer aan die loop kry nie. Hoop maar dat agtergeblewe Afrikaners soos die uwe, ou bene maak…
:-)
Is maar hoe dit is my Chaaina’s!!!

Henry ·

Vreemde ‘standaarde’ wat hier geld.
Helen se venynige en persoonlike kommentaar word geplaas en skryfsels wat vir seker nie sulke beledigings bevat nie, word in die snippermandjie gesmyt.

Koos ·

Ai René, dis so mooi geskryf en ook so waar wat jy daar sê oor julle trotse Afrikaner wees.

Maar terselfdertyd is dit ook so seer dat ons as Afrikaners, ons eie mense wat hier in Suid Afrika hoort om juis ‘n verskil te kan maak, oor die wêreld heen gestrooi is, nie noodwendig altyd uit eie keuse nie, om elders ‘n menswaardige bestaan te moet probeer maak.

Laat ons almal, die van ons wat nog hier plaaslik is en ook die daar in die vreemde, ons oë opslaan en ons Vader dank vir Sy genade en liefde vir ons en in daardie wete besef dat ons nooit alleen in ons stryd is nie. Amen.

latie ·

wat is God se voorwerp? wat is sy naam God? as u weet lees exodus 3:15 en spreuke 30:4 nie op n nuwe bybels nie moes 1933 af na ouer bybel want vandag se bybels het korrupte woorde .

Pokkel ·

latie – waar kan ons ouer Bybel kry?

Baie dankie aan die skrywer. Dis hoe almal eat ek ken in ons harte voel. Ons het net nie die woorde om dit te uiter nie.

Henry ·

Wat ‘n wonderlike skryfsel wat bevestiging verskaf dat ons met behoud van Afrikaner-wees, orals kan LEEF!

Sedert meeste van ons voorouers die heimat in Europa verlaat het om na die onbekende, mees suidelike punt van ‘n agtergeblewe vasteland te verhuis, het talle Afrikaners ook vergeet dat ons bloot die produk van immigrante is. Ons voorouers het reeds laaaaank gelede besluit om huis en haard te verlaat, op soek na ‘n beter toekoms.
Dit is in ons bloed.
Soos dit in die bloed van die nuwe wêreld se inwoners is – NZ, Aus, VSA, Kanada, Argentinië, Brasilië…

Om die kleinerwordende wêreld waarin bewoners van hierdie planeet hulle in die 21ste eeu bevind, te ontgin/te bewoon, is ‘n gegewe. Vandag se planeet en geleenthede toon geen ooreenkoms met die donker, onbekende ‘nuwe wêreld’ waarheen ons voorsate in klein drie-mas skepies verhuis het nie.

Om oor die planeet heen versprei te wees, is toe ook nie die einde van die wêreld nie.

So, wees nie bevrees nie. Indien jy kan en wil, lê ‘n nuwe, veiliger(?) en beter toekoms – as Afrikaner(!) – binne bereik. Ignoreer die sprokies oor wigte, teenwigte en al die fabels waarmee politici en ander opportuniste vorendag kom.

Uiteindelik is daar twee keuses.
Knyp vas, hoop en ‘glo’ dat die lekkende skip nie gaan sink nie, of;
swem/roei so vêr en vinnig as moontlik na veiliger, droë grond.

Dankie Me du Preez.

Alwerí Brand ·

Dankie Henry, so pragtig gestel. Ons woon nou vir ‘n paar maande in Duitsland en al begin ons na Suid-Afrika verlang, voel mens ook tot ‘n mate tuis hier. My nooiensvan is Enslin en die Enslin wat Suid-Afrika toe emigreer het in 1752, was juis van Duitsland. Dalk is dit in ons bloed, soos jy sê. Dalk het al die Afrikaners, oor ‘n paar honderd jaar, weer verder getrek op soek na veiliger, droë grond… Wie weet?

Henry ·

Dankie vir jou vriendelike skrywe Alweri Brand en voorspoed toegewens.
Ons het vir 14 jaar in die buiteland gewoon, gewerk en geniet. Grotendeels in Wes Europa. Voorsate is van Pruise – Mecklenburg provinsie – afkomstig.
Indien ek die Lotto sou wen, verhuis ons gouer as gister na n blyplek langs die Elbe rivier, iewers in die Dresden omgewing.

marco polo ·

Amen. Ek is ‘n Afrikaner in China en daar is baie Suid Afrikaners rondom my. Ons praat Afrikaans en ons sukkel soms met die kos, maar as ons kan braai, dan doen ons dit. My vriendin is Chinees, maar sy verstaan my kultuur en het al saam met my in SA en Namibia getoer. Ek het haar Afrikaans leer praat en sy en haar landgenote verstom hulle aan die sottighede van die SA politiek, net soos ons.

Piet Brand ·

Dis alles mooi en reg, maar onthou net: ons voorouers het Frankryk, Duitsland, Ierland, Holland ens. verlaat en hier kom vestig. Die dag toe hulle hier vestig toe is dit die einde van hulle ou lewe en hulle ou verwantskappe met hul vorige lande. Al die Afrikaners wat Argentinië toe verhuis het het geïntegreer en daar is nog net hier en daar ‘n van oor, en dit is dit. Julle nageslag daar sal net stories vertel van oupa en ouma en oupagrooitjie en oumagrootjie wat van RSA verhuis het. Dalk is dit die volgende hoofstuk in ons verhaal en moet ons dit nie probeer keer nie. Alle voorspoed vir julle en geniet dit.

Gerhard ·

Jou stellings is geldig, maar waarom kan jy nie insien dat die selfde in SA gaan gebeur nie? Twee, drie geslagte van nou sal daar niks Afrikaner oor wees in SA nie.

Piet Brand ·

Gerhard, ek sien dit. Soos wat die Portuguese weg is uit Mosambiek, sien ek hoe dit oppad is hier ook. Het self baie familie oorsee en hulle kinders praat vandag Engels en is volbloed Rooinekke. Almal van ons moet self besluit oor waarheen. Almal kan ongelukkig nie die land verlaat nie en die wat wel doen Moet weet dis n einde van n era vir hulle. My familie oorsee het my finansieel al uit soveel verknorsing gehelp en help my nou weer want ek is werkloos. Groete!

Lena Jonk ·

Wil net noem, ek woon self nou in NZ. Hierdie Kiwis is baie behulpsaam en vriendelike mense. Hier is duisende SuidAfrikaners as ek my getalle reg het 63,000. Ons het baie Afrikaanse drs, fisios en tandartse. Hier is n hele paar Afrikaanse kerke waarvan ons lidmate is. Om elke hoek en draai is n SuidAfrikaner as iemand hoor ons praat afr dan kom hulle nader en so gesels ons lekker. Ons hou nog lekker braaivleis en glo my ons kyk nie rond nie ons voel veilig. Dat jy na jou land verlang is nie altemit nie, maar laat ons nie verder uitbrei nie, almal weet dit maar baie goed. Weer anders as SA maar mene pragtig, al baie lief geword vir die land. Ons bid nog altyd vir ons geliefde land SA, alles van die beste.

Susan ·

Ja hulle hardloop weg as hulle strooi aanvang. ‘n Dame wat getroude mans probeer saam haar vat NZ toe toe kry sy die nie reg nie Nadat sy soveel hardseer ‘n in ‘n families gebring het. Maar God slaap nie haar dag sal kom, Nadat sy van sy klere en ander privaat goed by haar gastehuis gevat het met die dat sy gedink het hy sal saamgaan. JD jy sal nooit weet van die hardseer wat jy aan gelukkig gesinne gedoen het nie. God slaap nie. Hoop nie jy probeer dit in NZ ook nie. Skelm streke wat in jou gastehuis aangegaan het met goed wat betaal moes word en nooit gedoen het nie so vining het jy op die vliegtuig gespring. Nee wat ons sal saam vir ons land SA

Die waarheid ·

Almal se insette is reg ongeag uit watter hoek jy daarna kyk. Ek is ook nou al twee jaar in thailand en ervaar dieselfde gevoellens en alles soos bo. Vir my is die hartseer dat ons voorouers n “nuwe” land kon beyrek en dit hul eie maak volgens hul geloof en kultuur. Ons nou moet ongelukkig die gasheer land se grille aanvaar en dis waar hoe hard jy ookal probeer erens raak iets van jou verlore agv dit. My bloed kook steeds as iemand soos boerseun sulke twak kwyt raak. Ek ken jou nie maar hou nie van jou houding nie. Ek “veg” daagliks vir die afrikaner en my vaderland.

Leonardo ·

Dit is ń mooi brief. Helaas, so het die Afrikaners in Patagonië na die Anglo-Boere Oorlog ook waarskynlik gevoel. Dit het nie gehou nie. Behalwe vir enkele “hugenote” vanne, is van die Afrikaners in Argentinië nie veel sprake nie.

MTSteyn ·

Korrek. Wanneer ek skrywes soos hierdie lees, wonder ek soms of die Hugenote en ander Noord-Europese blankes wat hulle aan die einde van die 17de eeu aan die Kaap kom vestig het, ook so gretig was om egter na hulself as bv Duitsers in die Kaap te verwys. Tyd verander egter alles, en met verloop van tyd, sal daar net Aussie Du Toits, Le Rouxs, ens wees.

En skrywes soos hierdie, ongelukkig lank vergete

Henry ·

Of Afrikanerskap en alles wat daarmee saam gaan, volhoubaar gaan wees onder mense wat na verskillende dele van die planeet verhuis, is ‘n ope vraag. ‘n Vraag wat vir seker nie nou be-antwoord kan word nie en wat te midde van die huidige omstandighede eintlik van geen belang vir mens of dier is nie.

Wat egter soos ‘n paal bo Bon Accord dam se water staan, is dat 3 of 4 miljoen wittes – waarvan ongeveer 2 en ‘n bietjie miljoen Afrikaners is – geen inspraak op die verloop van gebeure in hierdie droewe land het nie. Meer as 55 miljoen wat algaande alhoe meer deur ‘n korrupte regime ge-breinspoel word, se voorkeure sal ten koste van alles en nog wat, voorrang geniet.

Na 24 jaar is dit tog heel duidelik dat hierdie land en ‘n korrupte regime wat vanaf munisipale tot die hoogste vlak strek, gemiddelde daaglikse moordsyfer van 57 siele, grondgrype, bankkrot staatsinstellings ens ens ens., uiteindelik maar net nog ‘n gefaalde Afrikastaat is.

Erwee ·

Ek sien dit so: In die natuur word die gene-poel versterk deur uitdunning agv droogtes, natuur-rampe ens. Slegs die sterkstes oorleef. Ons voorouers het van verskillende dele van die wereld gekom om hierdie land hulle tuiste te maak. Hulle het daardie keuse gemaak wetende van al die uitdagings en gevare (heelwaarskynlik baie meer direkte aanslae op hulle lewens as wat ons vandag het). Hulle het dit oorleef. Ons samelewing vandag is so beskermend (selfs deur gebrekkige stelsels), dat daar nie natuurlike uitdunning geskied nie. Emigrasie is ‘n metode van uitdunning en versterking van die gene-poel. Die ouens wat nie kans sien vir die land se gevare en uitdagings, verlaat die land en hulle nageslagte vermeng met die land waarheen hulle verhuis en wel kom ons laat dit daar. Die manne en vroue wat hier agterbly (by wyse van keuse of gedwonge agv finansies en ander redes) is besig om karakter-vorming te ondergaan soos lank gelede. Daar word dalk nie op die oomblik geveg met die voorlaaier nie, maar daar word daagliks geveg vir oorlewing. Oorlewing vir ons moedertaal in skole en Universiteite, ons grond, ons geloof (om altyd polities korrek te moet wees en nie aanstoot te gee nie), ons hele bestaan!!! Die wat bly en oorleef, sal ons gene-poel versterk. Ek wil graag he my kinders en hulle kinders moet in daardie gene-poel van karakter introu. Ek is dus baie tevrede vir die gene-poel wat die land verlaat. Ons is steeds baie lief vir julle, maar ook dankbaar!!

Hugo D ·

Boerseun, ek sit in Amerika en het n Netwerk van Afrikaanse vriende in byna elke staat, snaaks dat ons gevra word om videos te verspry oor plaasmoorde, en geweld, en ons doen dit, dan is ons goed genoeg, ? Asseblief as jy die kans more kry om jou familie in normale omstandighede van vrede en geluk te laat bly is jy my volgende buurman. Ek het net nou die dag by die rugby in Washington gesien hoe 12000 van ons braai en kuier as deel van n volk, jy alleen kan nie bepaal hoe ons as volk vorentoe sal oorleef nie, nie in SA of as kinders van die wind regoor die wereld nie. Sien ons wat gelukkig genoeg is om normaal te lewe eerder as jou vriend, jy het genoeg vyande daar waar jy is, glo my elke persoon buite SA het mense daar vir wie ons lief is, so ons wil he dat dit goed of beter gaan in SA.

Therese van Schalkwyk ·

Baie dankie vir die pragtige artikel uit NZ!
Ek stem egter saam met Henry.

Boerseun en ander verbitterdes kon hul mening oordra op ‘n veel beskaafder toon, maar verkies om die skrywer van hierdie stuk persoonlik onwelkom te laat voel.
Inderdaad vreemd dat Maroela dit toelaat.

Die verwyte dat buitelandse Afrikaners nie genoeg bewusmaking doen nie, is gewoon onwaar. Massa-optogte in groot stede, met die gepaardgaande betrekking van invloedryke politici is oneindig meer as wat binne SA gedoen word.
In SA word individue soos Steve Hofmeyr in eie geledere verguis oor hierdie saak.

Net so terloops, die feit dat SA slagoffers van geweld telkens op videos wat op buitelandse nuuskanale vertoon word vertel hoe hulle nóóit SA sal verruil vir ‘n ander land nie, is bykans onmoontlik om aan buitelanders te verduidelik.

Tydsverloop, en vyandige reaksies onder artikels soos hierdie, gaan die meelewende buitelandse belangstelling in hierdie kwessie laat kwyn.
Interessant, Erwee hieronder verkies dit blykbaar so.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.