Aftrede: Die geskikte woonplek vir jou aftrede

aftrede-hande-senior-burger-hekel

Foto: Congerdesign/Pixabay.com

Hierdie artikel is deel van ʼn reeks wat lesers help om hul aftreejare die beste tyd van hul lewe te maak. Die artikel is ʼn uittreksel uit Johannes Jordaan se boek Prima Tyd – Geniet jou lewe ná 50.

Die jare ná jou aftrede, naamlik gedurende jou Prima Tyd, behoort van jou gelukkigste jare te wees. Jou woonplek het ʼn baie groot invloed op daardie geluk. Besin dus eers rustig en deeglik oor die voor- en nadele van moontlike woonplekke voor jy (en jou gade, as jy getroud is) ʼn keuse maak.

ʼn Fout kan jou duur te staan kom. Benewens die ongerief, kan dit jou aftree-neseier knou. Begin vroeg beplan. Koop net wat jou sak pas. Indien die huidige huis te groot en die onderhoud te duur is – skaal af.

Daar is talle faktore wat jy in gedagte moet hou word wanneer jy jou aftreewoning kies. Voorbeelde is die volgende:

Ligging

Kies ʼn veilige en aangename omgewing. Die ligging sal ook die toekomstige waarde en waardasiemoontlikhede van die eiendom grootliks bepaal. As dit boonop binne maklike bereik (verkieslik loopafstand) van ’n hospitaal, dokter, apteek, jou kerk, biblioteek, gimnasium en winkelkompleks is, des te beter. Jy spaar op vervoerkoste en stap is uitstekende oefening. Toegang tot die beoefening van jou gunstelingstokperdjies is ook belangrik.

Baie mense wat aftree, droom van ʼn plekkie by die see of die stilte van ʼn klein dorpie iewers vér van die gewoel van die stad af. Al klink dit op die oog af baie aantreklik, moet jy in gedagte hou dat dit jou van jou vriende en kinders kan afsny en dat jy jou by ’n totaal nuwe omgewing sal moet aanpas.

Sosiale oorwegings

Kontak met vriende en familie, veral jou kinders, is belangrik, so ook jou privaatheid. Jou woonplek moet dus bereikbaar wees. Moenie jou van die wêreld afsonder nie. Eensaamheid kan gou tot ongelukkigheid en depressie lei.

Veiligheid

In ons samelewing waar misdaad hoogty vier, kan ʼn beveiligde kompleks met beheerde toegang en ʼn bewaakte omheining jou gemoedsrus gee.

Neem ook jou veiligheid met betrekking tot die plekke wat jy gereeld besoek in aanmerking.

As jy (en jou wederhelf) van reis hou en dit kan bekostig, bied ʼn woning in ʼn veiligheidskompleks veral gemoedsrus. Mense noem dit ʼn “lock up and go”-blyplek. Jy kan dan bloot die voordeur sluit en hoef jou nie te bekommer oor wat dalk skeefloop nie.

Toebehore en geriewe

Maak seker dat dit die basiese toebehore soos ʼn yskas-vrieskas, ʼn mikrogolfoond, wasmasjien, lugversorger, tuimeldroër en televisie het. ʼn Telefoon, klankstelsel en verbinding met die internet is ook belangrik.

As jy troeteldiere wil aanhou, moet jy die koste en emosionele uitwerking van skeiding van jou troeteldiere in gedagte hou wanneer jy hulle by vriende, familie of in ʼn diereherberg moet los as jy/julle byvoorbeeld wil reis.

Moenie ʼn slaaf van jou besittings wees of word nie.

Die meubels waarmee jy/julle grootgeword het, mag moontlik vir jou/julle sentimentele waarde inhou. Maar dis beter om nie jou woonplek oorvol daarmee te maak nie. Neem net saam wat werklik nodig is, en sal inpas.

Ander moontlikhede:

Probeer om vir eers in jou huidige woning aan te bly terwyl jy ʼn skuif oorweeg. Dink rustig oor die implikasies na om na ʼn nuwe bestemming te trek. Dis ʼn groot besluit en die verkeerde een kan nie maklik omgekeer word nie.

Inwoon by jou kinders?

Vele voordele vir albei partye bestaan mits dit reg beplan en benader word en indien so ’n verhouding goed werk. Die ouers kry relatief goedkoop onderdak, die huishoudelike take kan verdeel word. Die kinders kry gemoedsrus dat hul kinders in veilige hande is, soos wanneer hulle wil uitgaan.

Maar ʼn reëling van “inwoon by kinders” kan ook groot potensiële risiko’s inhou. Bespreek dus vooraf AL die moontlike implikasies en komplikasies deeglik met jou kinders voordat jy jou daartoe verbind. Julle moet openhartige gesprekke hê oor hoe alles in die praktyk gaan werk.

Dis noodsaaklik dat ʼn goeie verstandhouding en hegte verhouding tussen die partye gehandhaaf sal word. Naby, maar tog ook met die nodige afstand van mekaar, is die ideaal. Dit bied aan al die partye steeds privaatheid en hul eie leefruimte.

Ouers wil normaalweg hul onafhanklikheid behou so lank as moontlik. Vermy dus inmenging deur die kinders (of omgekeerd). Die ideaal is dat die ouers en kinders (met sekere aanpassings) sover moontlik met hul lewe voortgaan soos voorheen. Praat volledig oor al die implikasies van so ʼn besluit asook oor die reëls en voorwaardes daarvan. Doen dit desnoods by wyse van agendas en hou notules by. Dit kan help om latere moontlike misverstande te voorkom. Jy en die kind by wie jy gaan inwoon, moet vooraf besluit waar die grense sal lê by die reëls waarop julle besluit.

Besin ook oor die verwagte duur van die reëling en wat sal gebeur as die eienaar van die huis dalk intussen verplaas sou word of van werk verander. Enigiets wat moontlik kan pla, hoe gering ook al, moet deeglik vooraf bespreek word. Moenie opkrop nie.

ʼn Eie aftreehuis, meenthuis of aftreewoonstel

Indien jy ’n geskikte woonstel of huis vir jou behoeftes koop, sal jy nie noodwendig deur ander bejaardes omring wees nie. Dit kan ook relatief duur wees en daar mag moontlik nie behoorlike sekuriteit wees nie. As jy egter in ʼn sogenoemde “gated village” kan koop met behoorlik bestuurde toegangsbeheer, behoort die sekuriteit in orde te wees. Maar hou in gedagte dat die maandelikse heffings hoog kan wees (na gelang van die onderhoud wat nodig mag wees).

Die woonstel-opsie sal waarskynlik goedkoper wees en die reëls straks nie so streng nie, maar woonstelkomplekse het gewoonlik ook onderhoudsheffings.

ʼn Tehuis vir senior burgers?

Soos wat jy ouer word, gaan jy deur verskillende fases wat jou omstandighede en behoeftes betref. ʼn Tradisionele ouetehuis is dalk nie ʼn onmiddellike opsie by aftrede nie, maar moet in gedagte gehou word vir die laaste fase van jou lewe. Verblyf in sommige tehuise vir senior burgers is relatief goedkoop, na gelang van die geriewe wat dit bied. Onthou net dat gewilde tehuise dikwels vol is met lang waglyste. Bespreek dus vroegtydig vir jou eie gemoedsrus.

Weeg die voor- en nadele van elke opsie versigtig op tydens elke stadium.

So byvoorbeeld, mag verblyf in ʼn aftreeoord veilig en gerieflik wees, maar is dit gewoonlik relatief duur. Indien jy dit wel wil oorweeg, maak seker dat jou huidige en geprojekteerde toekomstige inkomste voldoende sal wees om so ʼn skuif te kan finansier. Doen dit lank voor die tyd. En wees maar konserwatief en begroot ook vir onvoorsiene uitgawes wat jou en jou gade (as jy een het) te beurt kan val.

Koop of huur?

Albei het voor- en nadele. As jy dit kan bekostig om te koop, en daar ʼn proposisie met ʼn gewilde ligging beskikbaar is, kan dit ʼn goeie inflasiebeskutte belegging wees, mits die ligging ook in die toekoms gewild sal bly.

Johannes-jordaan

Johannes Jordaan die skrywer van Prima Tyd. Foto: Verskaf.

Huur is gewoonlik goedkoper, maar dis geen belegging in ʼn bate wat in waarde kan toeneem nie. Jy sal ook nie veranderinge kan laat aanbring nie.

Alternatiewe moontlikhede wat mag bestaan, is om slegs woonreg op die eenheid te koop. Dis egter iets wat jy net met die hulp van deskundige raad moet oorweeg.

Nog ʼn moontlikheid is om die wooneenheid vir ʼn tyd lank te huur met die opsie om te koop. Dit kan dan neerkom op “Try before you buy”.

Johannes Jordaan het gedurende die sewentigerjare ʼn meestersgraad by die Universiteit Stellenbosch verwerf en later ook as dosent aan die US klas gegee voordat hy ʼn landwye konsultasiepraktyk in boedel-, finansiële en leefstylbeplanning opgebou het. Hy is tans semi-afgetree en woon in die Strand (Wes-Kaap). Hy spits hom tans toe op die skryf van boeke om sy waardevolle kennis en ervaring met ander te deel. Lesers wat Jordaan se boek wil bestel, kan ʼn e-pos na [email protected] vir besonderhede stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

John ·

Is die’ eerstewereld-voorligtingstuk uit Sweeds of Deens vertaal, want ons klompie in die’ vierdewereldstaat kan ons nie daarmee vereenselwig nie. Net in sulke lande kan mens droom en kies en keur…

jee ·

daar IS mense wat voosorg gemaak het, hoor? ek is ongelukkig nie een van hulle nie, maar dsaar is baie mense? wat nou op pensioen nie krepeer nie,

Bee ·

Net oorlewing deesdae op salarisse wat betaal word is n wonderwerk! Spaar is nie n opsie eers by sekere mense nie! en duisende mense sal die staats pensioen moet neem; waar en hoe oorleef mense op daardie bedrag? Daar moet meer behuising wat bekostigbaar is gebou word vir ou mense. Maklik om aan jong mense te verkondig om te spaar; werkgewers buit mense uit en betaal belaglike salarisse! Met Malema wat grond eis etc wonder ek wat gaan word van ons witmense en ouer swartmense ook? Aftree oorde kos vanaf 800000 opwaarts.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.