Aftrede: Hoe om jou vrye tyd ten beste te benut

oupa-ouma-kleinkinders

Foto: Pixabay/Pexels.com

Hierdie artikel is deel van ʼn reeks wat lesers help om hul aftreejare die beste tyd van hul lewe te maak. Die artikel is ʼn uittreksel uit Johannes Jordaan se boek Prima Tyd – Geniet jou lewe ná 50.

Vir iemand wat in ʼn korporatiewe omgewing gewerk of ʼn ander loopbaan gevolg het, is sy/haar aftrede ʼn belangrike oorgangsfase. Die einde van ʼn loopbaan beteken ekstra vrye tyd. Dit kan ʼn vakuum veroorsaak. Daardie ekstra tyd moet voortaan op ʼn ander, sinvolle manier benut word. Ledigheid en verveeldheid sal nie deug nie.

Sorgvuldige beplanning van wat jy met jou vrye tyd gaan doen, sal nodig wees, omdat dit ʼn invloed op jou geestes- en fisieke gesondheid sal hê. Jy durf nie voel dat die lewe nie meer betekenis het nie. Dit kan tot depressie lei en jy moet dit te alle tye voorkom.

Depressie kan byvoorbeeld voorkom word deur goeie verhoudings te handhaaf en dit geld veral vir jou verhouding met jou vrou/metgesel, jou kinders en jou vriende, bestaandes, sowel as nuwes. Reik uit na ander. Hulle het daardie hartlike kommunikasie straks net so nodig as jy.

Namate jy ouer word, word jy, vir geluk en vervulling, al meer afhanklik van koestering – veral indien jy ’n lewensmaat verloor het.

Eensaamheid en depressie loop hand aan hand, veral tydens jou oudag. Maar gelukkig kan dit voorkom word. Raak dus betrokke by dinge wat jou opbouend besig hou, hetsy in jou private hoedanigheid of by jou kerk of klubs. Dis goed vir siel en liggaam. Bederf jouself en jou gade. Gaan eet uit, besoek die teater, gaan reis of glip vir ʼn paar dae weg. Jy het nou die tyd daarvoor. En jy verdien dit.

Deur jou tyd sinvol te benut, kan jy jou aftrede veel gelukkiger maak.

Tydbesteding word meer belangrik omdat tyd beperk is en dit ook vinnig minder word tydens jou oudag. Jy kan nie ekstra tyd skep soos wat jy bates kan skep nie. Jou tyd, jou gade, jou gesin en jou vriende word dan jou belangrikste bates.

Onthou dat jou selfbeeld en menswaardigheid nooit net rondom jou werk moet wentel nie. Wanneer jou loopbaan verby is, en ʼn nuwe fase aanbreek, bly jou selfbeeld steeds belangrik vir jou geluk. En moenie dink dat meer tyd voor die TV of sommer net luilekkertyd met boeke, tydskrifte, goeie kos, wyn en slaap jou gaan gelukkig hou nie. Jy sal spoedig vind dat jy steeds die stimulus van nuwe uitdagings nodig het. Bestee dus eerder jou tyd aan die ontwikkeling van nuwe belangstellings en vaardighede soos nuwe stokperdjies of selfs om nuwe lewe aan ou stokperdjies te gee. Verdere studie kan selfs ʼn sinvolle opsie wees.

Jou rekenaar is ʼn kragtige middel wat jou lewe kan verryk, bv.:

  • Jy kan inligting oor feitlik enige denkbare onderwerp op die internet naslaan.
  • Jy kan, danksy e-pos-kommunikasie, nuwe verhoudings ontwikkel en/of meer gehalte aan bestaande verhoudings gee. Dis maklik en goedkoop.
  • Jy kan met programme soos Skype gratis met vriende en familie, waar hulle ook al is, gesels, selfs terwyl julle mekaar op die skerms kan sien.
  • Elektroniese pos (e-pos), bied kits-kommunikasie met wie ook al – oral in die wêreld. Die dae van briefwisseling is vir goed verby. Jy kan met die rekenaar (en selfs met moderne selfone) persoonlike nuus, artikels, humoristiese storietjies en selfs foto’s met vriende en familie uitruil. Hulle kan dit weer op hulle beurt aanstuur na ander. Verskeie sosiale netwerke is ook beskikbaar, waarvan Facebook en Twitter twee van die bekendstes is.
  • Wanneer jy enige artikel wil aankoop of probeer opspoor of pryse van produkte wil vergelyk, kan jy talle webwerwe op die internet raadpleeg wat inligting sal voorsien oor enigiets onder die son. Dit is beskikbaar bloot deur die rekenaar reg in te span om die soekwerk te doen.
  • Die groot wêreldwye uitgewersgroep Amazon het vasgestel dat daar vandag wêreldwyd net soveel of meer elektroniese boeke verkoop word as die konvensionele hardekopie-boeke. Danksy ʼn produk van Kindle, ʼn sogenoemde e-leser, kan e-boeke ook maklik op ʼn rekenaarskerm of tablet gelees word. Die teks kan selfs vergroot word vir ouer mense om dit makliker te lees.

As jy nog nie ʼn rekenaar met toegang tot die internet het nie, oorweeg dit gerus. Geen duur opleiding is nodig om basiese vaardighede baas te raak om met e-pos te kommunikeer of op Google inligting op te spoor nie.

Daar is ook vele voorbeelde van stokperdjies en ontspanningsaktiwiteite wat kan bydra tot die gehalte van jou oudag. ʼn Gesonde leefstyl en die vermyding van stres is belangrik. Maar oppas dat dit jou nie te veel aaneen laat sit nie. Dit sal nadelig wees vir jou gesondheid.

Voorbeelde van gewilde binnenshuise aktiwiteite is:
– TV kyk (maar wees selektief),
– kaartspeletjies, skaak, en dies meer
– legkaarte pak en blokkiesraaisels invul.

Jou tyd kan verder verryk word met musiek, radioprogramme, video’s kyk op jou rekenaar, boeke lees, (jy kan bv. boeke en video’s gratis by jou plaaslike biblioteek uitneem), foto’s rangskik, via die internet kommunikeer, skilder of skryf.

Buitelug-aktiwiteite soos stap, fietsry en tuinmaak, selfs ʼn eie groentetuintjie, is sterk aan te beveel – selfs ook ʼn vensterbank-tuintjie as omstandighede dit toelaat.

As jy ʼn versamelaar is, kan jy munte, posseëls en selfs ook ou boeke versamel om jou sinvol besig te hou. Pottebakkery, naaldwerk, houtwerk, die herstel van meubels, borduurwerk en skilder is ook aktiwiteite waarmee jy jou kan besig hou – die moontlikhede is legio. Die aanhou van tropiese vissies of duiwe, die kweek van dwergboompies en/of orgideë en talle meer, kan ook op jou spyskaart wees.

Raak gerus betrokke by een of meer welsynsorganisasies naby jou.

Johannes-jordaan

Johannes Jordaan die skrywer van Prima Tyd. Foto: Verskaf.

Lidmaatskap by U3A (The University of the Third Age), wat in die meeste groot sentra in die land beskikbaar is, is feitlik gratis en verskaf talle aktiwiteite vir veral afgetredenes.

Kies vir jou ʼn stokperdjie wat aangenaam is, jou lewe (en ander s’n) kan verryk en wat nie te veel kos nie. Moenie uitstel nie en wissel jou stokperdjies af, indien nodig.

Johannes Jordaan het gedurende die sewentigerjare ʼn meestersgraad by die Universiteit Stellenbosch verwerf en later ook as dosent aan die US klas gegee voordat hy ʼn landwye konsultasiepraktyk in boedel-, finansiële en leefstylbeplanning opgebou het. Hy is tans semi-afgetree en woon in die Strand (Wes-Kaap). Hy spits hom tans toe op die skryf van boeke om sy waardevolle kennis en ervaring met ander te deel. Lesers wat Jordaan se boek wil bestel, kan ʼn e-pos na [email protected] vir besonderhede stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

jwm ·

Insiggewende artikel, dankie. Daar is werk daar buite as vrywilliger wat baie bevredigend en selfvervullend is.

madels ·

Dankie vir die artikel maar dit pla my so bietjie dat meeste van die voorstelle gaan oor die persoon self. Ek glo as mens op aftrede kom dan is dit JUIS die tyd dat die afgetrede Ooms en Tannies terugploeg in die jeug van vandag. Hulle het baie wyse lewenslesse geleer en kan SOOO baie terug ploeg in die lewe van die jongmense. Hoekom nie julself beskikbaar stel om geestelike mentors vir die jongmense te wees nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.