Aftrede: Maak dié aanpassings

bejaardes-01

Gebruik hierdie nuttige wenke om te verseker dat die jare na jou aftrede van jou bestes is. Foto: Pixabay/Pexels.com

Hierdie artikel is deel van ʼn reeks wat lesers help om hul aftreejare die beste tyd van hul lewe te maak. Die artikel is ʼn uittreksel uit Johannes Jordaan se boek Prima Tyd – Geniet jou lewe ná 50.

Die lewe ná aftrede is jou derde en laaste lewensfase. Daar is baie redes waarom dit die gelukkigste tyd van jou lewe behoort te wees. Maar jy kan dit nie as vanselfsprekend aanvaar nie. Dit sal net gebeur as jy reg beplan het en jouself ten beste daarby aanpas.

Vir eers moet jy weet (of uitvind) wat vir jou wag. Dit kan immers ingrypende veranderinge vir veral mense wat ʼn heeltydse beroep beoefen het, behels.

Aftrede begin normaalweg met ʼn einde aan baie dinge, byvoorbeeld:

  • Die einde van kantoorure;
  • Die einde van jou plek in die sosiale groep by die werk;
  • Die einde van jou werkstatus;
  • Die einde van jou gesag en beheer oor sake wat jou werkportefeulje van jou verlang het;
  • Die einde van spertye, en die stres wat daarmee gepaardgegaan het;
  • Die einde van ʼn vaste inkomste, dikwels met byvoordele.

Hierdie veranderinge kan ook jou selfbeeld ernstig negatief aantas. Jy is skielik nie meer belangrik nie, want jy is nie meer nodig nie. Die geborgenheid van jou ekonomies aktiewe lewe is beëindig.

Met die “tot siens sê” aan ʼn vaste daaglikse roetine, het jy skielik baie vrye tyd tot jou beskikking. Die dae moet dan met iets anders gevul word. Maar hoe? En met wat?

Ook jou menseverhoudings gaan verander. Die daaglikse kontak met kollegas en werkkontakpersone is nie meer daar nie. As jy getroud is, beteken dit baie meer tyd in die geselskap van jou wederhelf, asook met familie en vriende buite die werkomgewing.

Met die ouderdom kom dikwels ook meer kwinte en kwale, fisiek en ook soms psigies van aard. Jy moet ook by so ʼn moontlike werklikheid aanpas en weet hoe om die beste daarvan te maak.

Johannes-jordaan

Johannes Jordaan die skrywer van Prima Tyd. Foto: Verskaf.

Vervolgens ʼn paar praktiese wenke vir jou aanpassing by aftrede waarna ek as jou prima tyd verwys:

  1. Verlaag jou spanningsvlakke.
  2. Maak tyd vir dié dinge waarvoor jy nie voorheen tyd gehad het nie. Lees meer, luister na goeie musiek, woon sosiale geleenthede by en soek vriende op. Verken die wêreld en gaan reis as jou finansies dit toelaat. Volg ’n lewenstyl wat bevorderlik sal wees vir jou gesondheid (fisiek, sowel as geestelik).
  3. Eet reg, kry genoeg oefening.  Spits jou toe op jou stokperdjies. Hou altyd matigheid voor oë.
  4. Stel bepaalde doelwitte. Maak dit deel van jou voorbereiding vir asook tydens jou aftrede. Bly positief oor die veranderinge in jou lewe. Pas jou gesondheid en welsyn op. Jou gesondheidstoestand het ʼn enorme invloed op die sukses al dan nie waarmee jy by jou aftrede aanpas.
  5. Bestuur jou finansies met oorleg. Kry goeie raad. Jou doelwit is om so lank moontlik jou onafhanklikheid van ander te behou. Wees besonder bedag op beleggingskemas wat jou hemelhoë kitswinste beloof. Onthou: As dit te goed lyk om waar te wees, dan is dit tien teen een so en is dit dalk ʼn bedrogskema.
  6. Waak teen verveling. Benut genoeg interessante aktiwiteite, stokperdjies en vriendskappe om jou lewe te vul en sinvol te maak.
  7. Handhaaf goeie verhoudings. Wees bedagsaam teenoor jou wederhelf, ander gesinslede en jou vriende. Onthou dat dit nie so maklik is om in jou latere lewe nuwe vriende te maak nie.
  8. Bring liefde en intimiteit in jou verhoudings. Namate jy ouer word, word jy meer afhanklik van liefde en koestering vir jou geluk en vervulling. Dit is veral belangrik indien jy ’n lewensmaat verloor het en jy alleen agterbly.
  9. Voorkom eensaamheid en bederf gerus jouself! As jou finansiële vermoë dit toelaat, doen interessante dinge saam met jou wederhelf soos om te gaan reis. Gaan eet saam uit, gaan kyk ʼn rolprent of gaan sommer vir ʼn naweek weg. Moenie uitstel nie.
  • Johannes Jordaan het ʼn meestersgraad by die Universiteit Stellenbosch verwerf gedurende die sewentigerjare en later ook as dosent aan die US klas gegee voordat hy ʼn landwye konsultasiepraktyk in boedel-, finansiële en leefstylbeplanning opgebou het. Hy is tans semi-afgetree en woon in die Strand (Wes-Kaap). Tans spits hy hom toe op die skryf van boeke om sy waardevolle kennis en ervaring met ander te deel. Lesers wat Jordaan se boek wil bestel, kan ʼn e-pos na [email protected] vir besonderhede stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Kosie ·

Ek is 55, al nege (9) jaar werkloos, bly in `n motorhuis. Moes my Telkom-pakketgeld vat om aan die lewe te bly. Die artikel hierbo neem nie regstellende aksie in ag nie. Mnr Jordaan is van die generasie wat deur apartheid bevoordeel is. Ek is deel van die “verlore” generasie, wat diensplig moes doen, regstellende aksie en nuwe, strawwer wetgewing moes ervaar. (Bv. sy generasie kon hul verlof en siekverlof ophoop, en dit by aftrede laat uitbetaal. Ek mog net 20 verlofdae ophoop.) Ek is bly dat daar mense is wat `n goeie aftrede kan bekostig; ek en my mede-verlorenses sal moet aanhou werk (en loswerkies soek) totdat ons dood neerslaan. En die doodsengel maai onder blanke mans onder 60.

MCH ·

Kosie, dit is waarvan ek praat. Die artikel het beslis nie my en jou in gedagte nie. Dalk het die meeste artikels ons nie in gedagte nie. Dis die stem wat stil geraak het. Dis die deel van Afrikanerwees wat die die ” Collateral damage” uitmaak. Vasgevang in die kruisvuur van besluite wat ons bloedprys reeds verdiskonteer het in die uitkoms.

Alta Potgieter ·

Dankie vir die artikel …. wens ek het die artikel vroeer gelees … sou baie beter voorsoorg getref het en ook meer ag geslaan het op manlief se waarskuwing oor spaarsamigheid …. en spaar oor die algemeen … nou is ons daar en moet ek omtrent aanpas ….

ora ·

Daar steek baie waarheid in die artikel maar die realiteit van in Afrika en Suid Afrika leef is ‘n ander saak in die praktyk. Die sg pensioenarisse se inkomste is dié van ‘ n vorige era terwyl uitgawes/pryse van voedsel, ens volgens vandag se salarisse betaal word – iets waarmee ons nie mee kan tred hou nie. Aftrede vir 65-jariges+ is net ‘n stryd om kop bo water te hou. Vergeet van reis, jouself bederf met uit eet, ens. Mens kan skaars die basiese bekostig. En die bietjie rente waarvan jy moet leef omdat jy voorsiening vir jou oudag gemaak het, word taks on taks verminder. Dan praat ons nie eers van die aandele waarin verpligte anuiteite is nie.

Theuns ·

Waardevolle artikel en kom op die regte tyd vir my. Hard gespaar vir die ou dag en nou uiteindelik is die tyd daar om te kan doen wat ek wil. Die wereld verken, my bucket list kan voltooi want eks in die gelukkige situasie dat ek genoeg geld het om al hierdie dinge te kan doen, een maal elke twee maande vakansie te gaan hou in die buiteland, vir die kinders te gaan kuier waar hulle oorsee bly. Die een ding wat mens ingedagte moet hou is dat daar dinge is wat jy nooit voorsien nie. Ek en my vrou het al hierdie dinge saam beplan…en toe sterf sy n kort rukkie gelede. Geld beteken nou niks en die toekoms is nie meer so rooskleurig nie.
Nog steeds n goeie artikel..baie dankie

Eish ·

Sjoe, dit laat my vreeslik dink aan Lukas 12: 16-21.
Innige simpatie, Theuns.

M. ·

Liewe “oom” Theuns. Die boodskap wat oom hier getik het, het my so aangeraak! My Moeder is ook nou afgetree, 2 maande gelede. Sy en my Pa het ook soveel dinge saam beplan, hy sou ‘n jaar voor haar afgetree het.. En net voor sy aftrede is hy ook van ons af weggeneem. Hulle het so goed gespaar vir die aftrede om te kon reis. Ek wens ek kon vir Oom antwoorde gee, maar hier sit ek en wonder ook, HOEKOM??? Ek is baie jammer vir Oom se verlies!

Lalla ·

Om ‘n packet by jou werk te neem is nie dieselfde as aftrede nie. Daar is mense wat dink pakket-geld gaan hulle vir ewig ‘n goeie inkomste verseker. As jy nie ‘n plan het wat jy wil doen as jy ‘n pakket neem nie, stel ek voor jy doen dit nie. Jy moet baie seker wees van wat jy daarna gaan doen en hoe jy jouself gaan onderhou en van ‘n inkomste verseker. Baie mense neem verkeerde besluite tussen 40 en 50 en wil dan ander mense/selfs hulle maatskappye daarvoor blameer. Maar die wat maar vasbyt en die werksdruk en spanning daarmee saam deurleef is gewoonlik die wat beter oor die weg kom.
Baie van ons se ouers het gedink dis wonderlik om ‘n pakket te neem en nou sit ons, die toebroodjie-generasie, en ons moet na ouers kyk wat verkeerde besluite geneem het, en moet na ons kinders kyk wat ons moet grootmaak, en wat weens die ekonomie nie die geld het om op hulle eie te woon nie.

Eish ·

Beste Lalla,
Niks verplig ons om na hul om te sien nie, absoluut niks. Ek word eerder n boemelaar voor ek hoor hoe n kind my so verwyt. As gewone mens met n gewone werk en gewone salaris, wie se kroos na 94 op universiteit was, het ek my pensioen gebruik om my kinders te laat studeer ten einde die kringloop van armoede te breek. R1.3m later met 13 jaar se universiteits koste sit ek met drie professionele kinders sonder studieskuld.Die prys is betaal, die kringloop gebreek. Gaan luister bietjie die ou country liedjie met die naam ” No charge”
Onthou die sesde gebod.
Ons is in n politieke bedeling wat jy nie seker is van die dag van more nie. Pasop vir die die lemkant van die mes.

anette ·

Verby is die tyd vir aftrede, nerens in ons BYBEL word daar gepraat van aftrede,. Ons mense moet leer om besig te bly deur ‘n positiewe bydrae te lewer aan ons samelewing. Ek het ook kinders laat leer met ‘n klein salaris en ekstra werk vir ‘n aanvullende inkomste gedoen. Ons is 75 en 60 onderskeidelik en doen nog ons daaglikse werk. Ons kyk terug na wonderlike kinders wat geleerdheid het, en ons wat gesond is. Dankie VADER vir u genade oor ons en die voorreg om te weet ons kinders het werk en U sorg vir ons.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.