Aftrede: Moenie dat jou gemoed jou onderkry op jou oudag nie

bejaardes

Argieffoto: Psychone.net

Hierdie artikel is deel van ʼn reeks wat lesers help om hul aftreejare die beste tyd van hul lewe te maak. Die artikel is ʼn uittreksel uit Johannes Jordaan se boek Prima Tyd – Geniet jou lewe ná 50.

As ek my lewe kon oorhê, sou ek:

  • meer gereis het en interessante plekke besoek het,
  • meer met kinders gespeel het,
  • vroeër in my lewe tot rus gekom het,
  • tyd ingeruim het om aan rose te ruik, en
  • meer liefde teenoor my medemens en veral aan my gade en gesin betoon het.

Ek sou ook nie die lewe so ernstig geneem het nie. Maar die probleem is, ʼn mens kan nie jou lewe oorhê nie. Daarom moet ʼn mens voorkomend lewe. Dis veral jonger mense wie se lewe nog voorlê, wat meer kan meer doen om dit reg te bestuur.

Hoewel dit belangrik is dat alle mense uit hul foute sal leer en só verhoed dat hulle dit herhaal, hou selfverwyt groot sielkundige gevare in.

Die volgende leuse is hier toepaslik:
Aan water wat onder deur die brug is of die melk gestort is, kan jy niks meer doen nie.

Aanvaar eerder jou foute as deel van ʼn leerproses. Maak vrede met jou verlede en fokus op die tyd wat nog in die toekoms op jou wag. Selfverwyt veroorsaak swaarmoedigheid en depressie. Dit is die siekte van ons tyd.

Om dit te voorkom moet ʼn mens jou onderbewussyn gesond hou. Jou onderbewussyn is daardie misterieuse deel van jou menswees wat vergelyk kan word met ʼn oseaan waarvan ons maar net die oppervlakte ken. Dit kan ʼn wonderlike bron van intuïtiewe wysheid vir jou wees. Maar weerhou jou van negatiewe gedagtes en selfverwyt oor die verlede, en/of ook van wraakgedagtes teenoor ander. Dis gif vir die gees. En dit verander niks aan die situasie nie.

Voorkom eensaamheid

Wanneer jy ouer word kom jy gou agter dat eensaamheid en depressie “boesemvriende” is. Dit dui ook op redes vir die hoë voorkoms van selfdood onder bejaarde eensames.

Die Griekse filosoof Epictetus het reeds voor Christus se geboorte al tot die slotsom gekom dat mense se ontsteltenis oor gebeurtenisse nie soseer gaan oor wat met hulle gebeur het nie, maar eerder hoe hulle dit ervaar, vertolk en verwerk.

Ons geluk word grotendeels bepaal deur ons waardestelsel: dit is hoe ons na dinge om ons kyk en hoe ons ons ervarings vertolk.

Kommer en kwelling is deel van die lewe. Namate jy ouer word, kom daar noodwendig veranderinge in jou fisieke gesondheid en dikwels ook op geestelike vlak. Jy vra jouself dikwels vrae soos die volgende:

  • Is my aftreegeld voldoende om vir my oudag te sorg?
  • En wat sal gebeur as ek ernstig siek word? Het ek ʼn mediese fonds en sal dit aan my voldoende finansiële beskerming verleen?
  • En is my voorsiening vir ʼn aftreetuiste voldoende?

Dit lei dikwels tot ʼn soort bestaans-angs. En angs bederf geluk. Om nie te praat van die angs wat tot ʼn angsneurose kan lei nie. Hoe hanteer ʼn mens dit? Onder meer deur jou denke te kondisioneer en te bestuur. Dis nie altyd maklik nie, maar jy kan jou denke op die positiewe toespits en dankbaarheid toon vir wat jy het eerder as om te kla oor wat jy nie het nie. Dit is ʼn wilsbesluit. Aanvaar dat jy angs kan oorwin.

Raad oor hoe jy dit kan doen, word in my boek gegee.

Fisieke en geestesgesondheid loop hand aan hand. Dis ook gerusstellend om te weet dat die meeste voortydige gesondheidsprobleme éf voorkom kan word éf behandel kan word.

Die feit dat tot 50% van alle mense die een of ander tyd antidepressante gebruik selfs vir ligte depressie, is rede tot kommer.
Veral ouer mense word merendeel hieraan blootgestel.

Gemoedsversteurings

Van die belangrikste oorsake van gemoedsversteurings is:
1. dat mense nie voldoende vir hul aftrede beplan het nie, en dat dit hulle onverhoeds vang,
2. dat hulle nie die vermoë het om by ʼn nuwe lewensfase aan te pas nie, en/of
3. dat eensaamheid en ʼn gebrek aan vriendskappe, asook verveeldheid met die lewe, skade aan hul selfbeeld kan veroorsaak.

Gelukkig kan die meeste van hierdie oorsake, voorkom word. Die belangrikste geheim is om voorkomend op te tree.

Voorkomende optrede geld beslis ook angs en depressie wat so dikwels intree wanneer mense die aftreefase binnegaan. Die korrekte bestuur van mens se denkpatrone en die regte raad en kondisionering kan beslis help om negatiewe gemoedsversteurings te voorkom en waar dit wel voorkom, uit die weg te ruim en ook om vrede te maak met die dood wat uiteindelik vir almal uiteindelik gaan kom.

As jy reeds in die “dryfsand” van negatiwiteit, selfverwyt, woede, magteloosheid en depressie beland het, onthou: Daar is hoop. Jy kan weer daar uitkom. Hoe jy dit kan doen, word vervolgens bespreek.

Voorkoming en behandeling van depressie

Die volgende wenke is deel van ʼn selfhelp-benadering. In sommige gevalle is dit egter wenslik om ook vir hulp by ʼn goeie psigiater of kliniese sielkundige aan te klop. Dikwels is daar neuro-versteurings in jou breinfunksies, soos byvoorbeeld ʼn serotinien-tekort en is medikasie nodig, minstens tydelik. Maar soms benodig jy net maniere om jou denkprosesse kognitief te bestuur en te kondisioneer.

Soms is albei benaderings ter aanvulling van mekaar nodig. Wees net versigtig dat jy nie van chemiese medikasie afhanklik word wat jou net beter laat voel en nie werklik beter laat word nie. Dit behoort in die meeste gevalle net ʼn tydelike oorbruggingsmaatreёl te wees. Soos by alle ongesteldhede, is permanente genesing net moontlik indien dit by die oorsaak daarvan behandel word. Kognitiewe behandeling is en bly die beste oplossing omdat dit normaalweg die oorsaak van die versteuring aanspreek.

Die prosedure by kognitiewe kondisionering is soos volg:

  • Maak ʼn lys van jou negatiewe gedagtes, soos byvoorbeeld:
  • ‘Ek is ’n mislukking’… – ‘Aftrede is die einde van my lewe’…
  • ‘Niks bly meer oor om voor te lewe nie.
  • ‘Die sin en betekenis het uit my lewe verdwyn’…
  • ‘My familie en vriende aanvaar my nie (meer) nie’…

Onthou, hierdie negatiewe en disfunksionele gedagtes is nie die waarheid nie en spruit voort uit ʼn siek onderbewussyn! Vervang dit dus deur ʼn lys van positiewe gedagtes daarnaas neer te skryf bv.:

  • ‘Ek is nie ’n mislukking nie… Van my belangrikste suksesse is…
  • ‘Die voordele van my aftrede is… – ‘Ek is belangrik vir my familie en vriende… Ek kan nog baie vir hulle beteken, byvoorbeeld…’
  • Doen dieselfde met al jou negatiewe gedagtes en persepsies.

Só neem jy beheer van jou denke en oor die lewe. Maar moenie kits-resultate verwag nie. Die leerproses vat baie tyd. As jy pas uit ʼn toestand van depressie (of angs) gekom het, sal daar nog weer (tydelike) insinkings (relapses) wees. Dit kan maande, en selfs jare vat om volkome te herstel – jy sal tegnieke moet aanleer om jou denke te bestuur om te verhoed dat depressie of angs ooit weer ʼn vat op jou kry.

Depressie en donker gedagtes kan jou altyd weer oorval, veral as jy ʼn geneigdheid daartoe het (of ʼn swakplek in hou psigiese mondering). Maar dit behoort minder en minder te gebeur en langer tydperke sal tussen die insinkings kom en hulle sal ook van korter van duur word.

Mettertyd sal jy meer bedag word op die simptome en hulle hopelik vroeër herken sodat jy dit in die kiem kan smoor, (eerder as om te skrik en vir jouself wys te maak “Ai, hier kom alweer ʼn nuwe vlaag van depressie (of angs) en ek is magteloos om iets daaraan te doen”).

Daar is ongelukkig nie kortpaaie nie. Probeer om jou onderbewussyn as’t ware in te ent met positiewe denke. Dit kan jou meer weerbaar maak om toekomstige aanslae te trotseer!

  • Johannes Jordaan het gedurende die sewentigerjare ʼn meestersgraad by die Universiteit Stellenbosch verwerf en later ook as dosent aan die US klas gegee voordat hy ʼn landwye konsultasiepraktyk in boedel-, finansiële en leefstylbeplanning opgebou het. Hy is tans semi-afgetree en woon in die Strand (Wes-Kaap). Tans spits hy hom toe op die skryf van boeke om sy waardevolle kennis en ervaring met ander te deel. Lesers wat Jordaan se boek wil bestel, kan ʼn e-pos na [email protected] vir besonderhede stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

Ben ·

Hierdie is so, SO die waarheid! Niemand soek jou meer nie, jy tel eenvoudig nie meer nie. Ek is so gebroke, want niemand gun jou meer die kans om te bewys dat jy nog ‘n bydra kan maak nie. Selfs my anti-depressante maak geen verandering in my lewe meer nie.

Dalene de Vente ·

Dagsê Ben

Dankie vir jou kommentaar. Indien jy voel jy wil graag met iemand gesels, is jy welkom om SADAG (die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep) te kontak. Hulle het opgeleide beraders wat ʼn mens deurgaans kan bystaan. Kontak hulle hier: 011 234 4837 of 0800 20 50 26 of stuur ʼn e-pos na [email protected].

Groetnis
Dalene nms. Maroela Media

Marisa ·

Die oplossing? Werk totdat jy in die tuig dood neerslaan. Dis my plan.

Marisa ·

Ek het vergeet om by te voeg dat ek al goed aan die 70 raak, en nog steeds in die buiteland werk.

Snuffels ·

Ben jy is kosbaar. Daar is nog so baie wonderlike dinge wat jy kan doen om nog ‘n kwaliteit lewe te handhaaf.

Ester ·

My man is paar jaar oorlede. Ad dit nie vir my vriende was nie, het ek ook seker aan depressie behoort. Ek is lief vir my eie tyd, maar my vriende het my laat besef dat jy niks verder leer om alleen te wees nie. Ons speel kaart, ons stap, ons kyk tv, ons kyk mekaar se foto’s. En so kan ek aangaan. Ons lag en huil saam. Luister musiek. Dankie dierbare vriende dat jul my aanvaar soos ek is. Die geheim van oudword is hou jou besig en goeie vriende.

Frans C ·

Mense se omstandighede verskil en daar is nie ‘n algemene pakkie wat vir almal pas nie.
Kyk ‘n mens na die omstandighede waarin afgetrede spoorwegamptenare hulself bevind
kan ‘n mens nie hul daarvan beskuldig dat hul nie vir hul oudag voorsiening gemaak het nie.
Hulle is net eenvoudig daarvan beroof.
My oorlede skoonpa wat sy laaste lewensjare by my vrou en myself ingewoon het was een van hulle.

Nou is dit ook so dat jou beste planne vir jou oudag al het jy hoe goed voorsien nie gaan werk nie.Wat maak jy as jou kind waarvoor jy baie opgeoffer het en gesorg het dat sy goed
gekwalifiseerd met ‘n honneursgraad is, ‘n SEB slagoffer word en dat ‘n tweede ramp die gesin tref en haar man ook werkloos raak met twee kinders nog in die skool.

Kyk jy gelate toe of gebruik jy jou neseier om hul op koers te hou en gee een van jou
voertuie sodat hul tog beide oor die weg kan kom.En wat doen jy dan as hul na jou beste pogings nog steeds hul huis moet verkoop en ‘n voertuig teruggee ? Nee aftrede het vir
‘n groot deel van die blanke bevolking ‘n nagmerrie geword.

God dank sy kon danks kontrakwerk by firma wat SEB toegepas het nog net net aan die lewe bly.

Willie ·

Sekerlik van die belangrikste vrae wat elke mens moet kan beantwoord is: Hoekom is ek hier op aarde en wat is die doel van die mens se bestaan? Al die wêreldse wyses het al baie boeke geskryf en ons mensdom beindruk met hulle uitsprake. Indien jy met nuwe oë na die skepping wil kyk, gaan lees dan Bertha Dudde se werke. Dit is eintlik nie haar “werke” nie, want sy was ‘n kleremaakster wat oor ‘n tydperk van ongeveer 25 jaar hierdie werke van Bo ontvang het. Gaan google dit, alles is gratis op verskeie webwerwe en ondersoek dit. Dan sal jy sien waarom die wyses haar nooit sal aanhaal nie.

Frans C ·

Die tyd het aangebreek dat dinge in perspektief gestel word.Die nuwe bedeling wat beding is het nie positiewe gevolge ingehou vir ‘n groot deel van die minderheidsgroepe in ons land nie.

Daarvoor het ‘n swak onderhandelde ooreenkoms nieteenstaande ‘n welluidende grondwet
gesorg.’n Groot deel van die Afrikanervolk is terug presies waar hul voorouers was.1948 is nie ligjare weg nie.Was self nog op skool toe skolevoeding nog in was.

Daar is nie ‘n sosiale netwerk wat keer dat mense nie in plakkerskampe beland nie.teveel jong mense verlaat die land en los bekommerde ouers agter.Die tyd vir onderlinge twis is verby en as dit enigsinds binne jou vermoë is ondersteun groepe wat Afrikanerbelange bevorder,want ‘n tragedie het die Afrikanervolk op alle gebiede getref.

Hans Berg ·

Ek het voorsiening gemaak van die dag toe ek begin werk het in 1971. Omstandighede in die land het veroorsaak in 1993 day alles van nul en geen WAARDE vir my was nie. PTSD + BiPolar help ook nie. Probeer maar om die Lig in die tonnel te sien

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.