Aftrede: Moenie geld uitleen of borg teken vir familie en vriende

bejaarde-hande-kierrie

Foto: Stevepb/Pixabay.com

Hierdie artikel is deel van ʼn reeks wat lesers help om hul aftreejare die beste tyd van hul lewe te maak. Die artikel is ʼn uittreksel uit Johannes Jordaan se boek Prima Tyd – Geniet jou lewe ná 50.

ʼn Broodwinner werk baie jare en doen moeite om eendag oor ʼn neseier te beskik wat voldoende is om vir hom en sy wederhelf ʼn sorgvrye oudag te verseker. Die neseier wat oor daardie tydperk opgebou word, bly die hoeksteen hiervan. Beskerm dit met dieselfde sorg waarmee jy dit opgebou het.

Daar is ʼn spreekwoord wat lui: “Leen geld aan ’n vriend, en kry dit terug, indien jy gelukkig is, by ’n vyand.”

Om borg te teken het dieselfde uitwerking as om geld uit te leen, want indien daar ʼn probleem ontstaan, sal die bank by wie jy borg geteken het outomaties by jou kom aanklop om op te dok.

Daar is ʼn paar subtiliteite wat hier uitgewys moet word. Mense ontwikkel dikwels skuldgevoelens teenoor diegene vir wie hulle geld skuld wat die verhouding tussen hulle skade kan berokken.

As jy geld aan jou kinders (of ʼn vriend) leen, gaan jy dikwels ʼn dubbele risiko aan. Enersyds, dat jy jou geld kan verloor en andersyds, dat dit jou verhouding met jou kinders (of jou vriend) kan versuur.

Kinders word dikwels tydens hul grootwordjare bederf. Die vader word soms onder druk van sy vrou geplaas om die kinders finansieel te help. Swig hy, kan hy later ʼn duur prys vir sy goedhartigheid betaal – finansieel, sowel as wat die verhouding tussen hom en die res van die gesin, betref.

Dis ook wenslik dat jy, indien moontlik, onafhanklike voorsiening vir jou en jou gade se oudag sal maak byvoorbeeld deur ʼn geskikte uittreeannuïteit met doodsdekking daarby ingesluit, uit te neem. Daar is natuurlik ook ander beleggingsopsies wat gebruik kan word vir die opbou van ʼn onafhanklike voorsiening vir die oudag.

Die volgende voorval illustreer wat met ʼn gade kan gebeur as omstandighede waarvoor nie bepan is nie, sou gebeur.

Die betrokke boer het deur die jare al die inkomste wat die plaas opgelewer het, in die plaas teruggeploeg. Die idee was dat hy op sy oudag sy aftree-pensioen uit die opbrengs van die plaas sou voorsien.

Dit het ook so gewerk, selfs nadat sy seun saam met hom kom boer het. Maar toe hy sterf en die plaas aan sy seun nalaat met die opdrag dat hy aan sy moeder ʼn jaargeld moet betaal om haar te onderhou, het daar skielik ʼn onvoorsiene probleem vir sy weduwee ontstaan. Die seun het opgehou om haar onderhoud te betaal en sy woorde was: “Dis moeilike tye in die boerdery en ek kan nie meer ma se inkomste bekostig nie.”

Nie alleen het dit die weduwee totaal in die finansiële verknorsing gelaat nie, maar die verhouding tussen moeder en seun het ook versuur.

ʼn Onafhanklike voorsiening vir haar soos bo genoem, sou veel beter en veiliger gewees het. Nog ʼn wenk wat onaangenaamheid en onnodige geldelike risiko’s kan voorkom, is om te leer om beleefd, maar ferm, “nee” te sê wanneer jy om ʼn lening gevra word al word daar uit verskeie oorde druk op jou uitgeoefen.

Johannes-jordaan

Johannes Jordaan die skrywer van Prima Tyd. Foto: Verskaf.

Een moontlike “oplossing” – mits die persoon dit kan bekostig – is om aan elk van sy kinders ʼn spreekwoordelike “goue handdruk” (as geskenk) te gee wanneer hulle hul studies voltooi, of in die huwelik tree, of die huis verlaat. Indien wel, moet dit egter met die duidelike verstandhouding gedoen word dat daar vorentoe geen verdere hulp sal wees nie.

  • Johannes Jordaan het gedurende die 1970’s ʼn meestersgraad aan die Universiteit Stellenbosch verwerf en later ook as dosent aan die US klas gegee voordat hy ʼn landwye konsultasiepraktyk in boedel-, finansiële en leefstylbeplanning opgebou het. Hy is tans semi-afgetree en woon in die Strand (Wes-Kaap). Hy spits hom tans toe op die skryf van boeke om sy waardevolle kennis en ervaring met ander te deel. Lesers wat Jordaan se boek wil bestel, kan ʼn e-pos na [email protected] vir besonderhede stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Piet Pompies ·

Ek betaal my kinders se studies volledig, en dit sal my ‘goue handdruk’ aan hulle wees.

Ja ek besef wat die opbrengs van ~R1m sou wees sou ek dit belê het vir my aftrede, maar dis nou maar so :)

t ·

My seun het twee motors gekry en ek betaal die dogter se studiegeld. Ek het hulle ook geleer van borgstaan en geld uitleen. Dis my goue handdruk aan hulle.

fanie ·

As jy geld leen vir jou kinders leen dit vir hulle asof jy dit nooit sal terug kry nie kry jy dit terug is dit n bonus kry jy nie terug nie het jy dit in elkgeval afgeskryf die dag wat jy dit vir hulle geleen het as jy geld op die manier uitleen sal daar nooit onenigheid wees nie Maar net as jy dit kan bekostg anders leen nie geld uit nie Geld is inelkgeval aardse goed wat jy nie kan saamvat hemel toe nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.