Aftrede: Sien só om na jou gesondheid

bejaardes-gesondheid-sorg-aanraak

Foto: Matthias Zomer/Pexels.com

Hierdie artikel is deel van ʼn reeks wat lesers help om hul aftreejare die beste tyd van hul lewe te maak. Die artikel is ʼn uittreksel uit Johannes Jordaan se boek Prima Tyd – Geniet jou lewe ná 50.

Daar is ʼn paar aftakelende en chroniese siektes wat algemeen by ouer mense voorkom, maar as jy jouself mooi oppas en jou gesondheid goed bestuur kan jy die vrugte daarvan in jou ouer jare pluk.

Kyk uit vir chroniese stres:

Dit kan tot hartaanvalle, kanker en geestes-siektes lei omdat dit weerstand (immuniteit) verlaag. Maar gelukkig kan dit bestuur word.

Genoeg geld vir jou oudag is dus belangrik, maar goeie gesondheid is ewe belangrik. Die een het nie betekenis sonder die ander nie. Geld kan nie goeie gesondheid koop nie.

Deesdae is dit maklik om ʼn voorskrif vir byvoorbeeld pille, by ʼn dokter te kry, wat jou beter laat voel, maar dikwels behandel dit net simptome.
Pasiënte kry nie altyd die nodige berading by mediese dokters of klinieke om, veral lewenstyl-siektes, te behandel of te voorkom nie.

Pas eerder jou gesondheid voorkomend op. Handhaaf ʼn gesonde leefstyl. Dit bly ʼn wilsbesluit. Moet nooit goeie gesondheid as vanselfsprekend aanvaar nie.

Jy kan niks doen om die verouderingsproses te stuit nie. Maar jy kan die uitwerking daarvan verlangsaam deur jou gesondheid voorkomend op te pas.

Wenke om gesondheid op te pas:

 1. Kweek die regte eetgewoontes aan.

In die boek Sukses ná 50, wys die skrywers, drs. Piet Muller en Charl Stephens, daarop dat ʼn mens 40% minder behoort te eet wanneer jy die ouderdom van min of meer 60 bereik. Dis ook net so belangrik wat jy eet. Gesonde kos kan gelukkige jare by jou lewe voeg.

Die ou raad aan vroue dat die pad na ʼn man se hart deur sy maag loop, behoort eerder te lui: Die pad na ʼn gesonde hart loop deur sy maag!

Prof. Lionel Opie, ʼn gesondheidsdeskundige, en skrywer van die boek, Living Longer, Living Better – beklemtoon die rol van reg te eet en genoeg oefening. Sy leuse is: “Volhard, volhard, volhard, om die mag van die gewoonte by veral ouer mense teen te werk. Westerse eetpatrone, soos kitskos en die gebruik om geregte in olie te braai is ongesond, veral as dit saam met gaskoeldrank (gelaai met suiker) afgesluk word. Dit lei tot vetsug, slegte spysvertering, suikersiekte en hartaanvalle. Vele mense is onbewus van die skade wat swak eetgewoontes veroorsaak.

Opie beveel die Mediterreense eetpatroon aan met groente, peulgewasse, vrugte en slaai, asook gesonde olies soos avokado- en olyfolie. Volgraan, bruin rys, hawermout en muesli (in matige hoeveelhede) asook vis en hoender (nie gebak nie) is ook goed (pleks van baie rooivleis) asook daagliks ʼn handvol neute (soos amandels of pekanneute) en ʼn kapsule Omega 3 (3,200 mg).

Wat van aanvullings? Opie se mening is dat aanvullings grootliks onnodig is met ’n gesonde dieet. Dis boonop duur en oormatige inname word bloot deur die urien uitgeskei. Die onderwerp is egter omstrede. Sekere wetenskaplikes meen dat veral anti-oksidante, vitamiene en minerale goeie gesondheid bevorder. Soms is hulle ook betrokke by die bemarking van die produkte wat hulle aanbeveel. Omdat die onderwerp omstrede is, word dit nie hier behandel nie.

Kos wat vermy behoort te word:
Gasdoeldrank (gelaai met suiker), soetgebak, beskuitjies en lekkers.

Aartappelskyfies en uie in olie gebraai. Dis veral ou gebruikte olie wat die
sondebok is omdat dit sogenaamde ‘transfats’ bevat.

Oormatige inname van room, volroommelk en harde kaas

Oormatige inname van versadigde dierevette, margarien, rooivleis – al dié wat versadigde vette bevat.

Doen jou bes om die regte gewig te handhaaf. Hoe jou klere pas (of nie langer wil pas nie) is ʼn belangriker aanwyser as jou gewig op die skaal. Onthou: Die vet versamel nie net onder jou vel nie, maar vorm om jou organe waar dit baie skade veroorsaak. Wees bedag op die tjoepie wat om jou middel vorm!

Eet stadig en kou jou kos deeglik.

2. Genoeg oefening:
 Gereelde oefening, veral in die buitelug, soos om fluks te stap, fiets te ry, te swem en rolbal te speel, is goed vir die liggaam en die gees. As jy sukkel om jouself vir gereelde stappie te motiveer, kan jy oorweeg om aan te sluit by ʼn klub soos Walk for Life. ʼn Bonus is dat jy dan nuwe vriendskappe kan smee.

3. Gereelde mediese ondersoeke:
Van 55 jaar af is gereelde jaarlikse roetine ondersoeke van groot belang. Dit kan help om siektes voorkomend te behandel. Moenie wag tot jy simptome ervaar nie. Onthou die leuse: Voorkoming is beter as genesing!

Johannes-jordaan

Johannes Jordaan die skrywer van Prima Tyd. Foto: Verskaf.

4. Mediese skemas:
 Sowat 40% van afgetredenes se mediese onkoste vind in hul laaste 15 jaar plaas. Die gereelde maandelikse premie wat oor jare aankom, verskaf die beskerming wat ʼn stabiele mediese fonds, byvoorbeeld met ʼn goeie hospitaalplan vir jou (en jou gade) kan bied. Dit is beter om aan so ʼn skema te behoort as om die risiko van onvoorsiene groot mediese uitgawes self te loop.

Johannes Jordaan het gedurende die sewentigerjare ʼn meestersgraad by die Universiteit Stellenbosch verwerf en later ook as dosent aan die US klas gegee voordat hy ʼn landwye konsultasiepraktyk in boedel-, finansiële en leefstylbeplanning opgebou het. Hy is tans semi-afgetree en woon in die Strand (Wes-Kaap). Tans spits hy hom toe op die skryf van boeke om sy waardevolle kennis en ervaring met ander te deel. Lesers wat Jordaan se boek wil bestel, kan ʼn e-pos na [email protected] vir besonderhede stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Eish ·

Goeie artikel. Wonder hoeveel oues so kan leef? Skryf maar ietsie vir ons have not’s ook.

John ·

Ligte leesstof vir stresloses. Miskien kan ‘n paar ander oumense ook ‘n paar rande losslaan so op die voorstoep mymerend met ‘n koppie tee saam, terwyl die brandertjies oorkant die straat die wit sand skoon lek…

Elza ·

Ja, naruurlik: genoeg geld is die belangrikste!!! En as jy dit nie het nie??? Ek het ‘n doktorsgraad en 20 jaar diens by een van SA se voorste universiteite en my pensioen is R2 000 per maand, my lompsom R220 000. Sê my hoe leef mens daarvan. Sê my hoe vermy mens chroniese stress as jy weet jy moet werk tot jy doodgaan??

gawie ·

Goeie genade, dis uiters swak Elza. Ek kan dit amper nie glo nie.

Elza ·

Wou nog bysê: met ons werkloosheidsyfer wat in ‘n artikel hierbo op meer as 9 miljoen geskat word en die feit dat die staat nie mense bo 65 mag aanstel nie – hoe kry jy werk na aftrede? Want werk tot jy doodgaan moét jy … Wil ons geagte skrywer nie dalk die realiteite van ons “heve nots” ook ‘n slag aanspreek en daadwerklike raad aan die hand doen nie???

Riena ·

`n Vreeslike belangrike aanvulling wat baie oor die hoof gesien word is Vitamien D. Dit bevorder immuniteit, maak bene en tande hard en sterk en beveg depressie. Iets wat ou mense in aldrie gevalle baie nodig het. Die somer se twaalfuurson vir `n kwartier op kaal vel maak Vitamien D. Anders moet genoeg ekstra aanvulling gedrink word. Dit maak `n groot verskil in die gemoed.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.