Aftrede: Sorg só vir jou eie veiligheid

bejaarde-02

Bejaardes is dikwels sagte teikens vir misdadigers. Foto: Geralt/Pixabay.com

Hierdie artikel is deel van ʼn reeks wat lesers help om hul aftreejare die beste tyd van hul lewe te maak. Die artikel is ʼn uittreksel uit Johannes Jordaan se boek Prima Tyd – Geniet jou lewe ná 50.

Pensioentrekkers en ouer mense is ongelukkig dikwels “sagte teikens” vir aanvalle deur misdadigers, swendelaars of uitbuiters. Waar syfers rakende werkloosheid en armoede hoog is, vier misdaad gewoonlik ook hoogty. Jy moet dus self die nodige stappe doen om jou en die mense naaste aan jou ten beste te beveilig.

Veiligheid in jou huis

Misdaad is ʼn wesenlike probleem in Suid-Afrika, maar ʼn brand in jou huis of ʼn val kan net so gevaarlik wees. As jou tuiste trappe het, maak seker dat die handrelings stewig is. Gladde vloere en los matte of tapyte kan gevaarlik wees. Glimstroke of wit strepe by die boonste trappie van weggesteekte trappies is sterk aan te beveel.

ʼn Ekstra handvatsel teen die muur van die bad en in die stort, asook rubbermatte op die badkamervloer en in die stortbad is wenslik.

Dra sover moontlik altyd jou selfoon by jou sodat jy dadelik kan bel en hulp ontbied ingeval iets met jou gebeur.

Voorkoming van ʼn moontlike brand

Hou alle elektriese toebehore in ʼn goeie werkende toestand. Hou verwarmers weg van ontvlambare materiaal. En onthou, ʼn verwarmer is nie bedoel om jou wasgoed droog te maak nie. Wanneer jy uitgaan, maak seker dat die stoof afgeskakel is. ʼn Nota teen die uitgangsdeur kan jou herinner. Hou ʼn draagbare alarmstelsel byderhand om jou te herinner as die kos op die stoof of in die oond gaar is. Werk baie versigtig met kerse. Moet nooit in die bed rook nie. Trouens, dis beter om glad nie te rook nie, veral nie as jy oud word nie!

Hou ʼn goeie brandblusser in die kombuis, in die motorhuis en selfs ʼn derde een in jou motor en maak seker dat hulle in goeie werkende toestand is.

Veiligheid buitekant jou huis

Dit mag raadsaam wees om al die slotte buite jou nuwe tuiste te vervang, en om diefwering voor al jou vensters te laat aanbring. Dit is ook beter om ʼn veiligheidshek by jou voor- en agterdeur te laat installeer.

Veiligheidsligte buite wat outomaties aanskakel wanneer iemand jou huis nader asook ʼn hond binne, is uitstekende voorsorgmaatreëls. ʼn Goeie alarmstelsel met paniekknoppies op ʼn paar plekke in die huis is noodsaaklik.

Hou alle noodnommers op jou selfoon en plak desnoods ʼn lys van kontaknommers teen die muur van die kombuis. Hou jou selfoon altyd by jou.

Veiligheidsmaatreëls weg van jou huis

Wees op jou hoede wanneer jy reis, veral wanneer jy by verkeersligte (of waar ook al) stop. Hou jou motordeure gesluit. Moet nooit jou selfoon, beursie of waardevolle items op jou motorsitplek los nie. Moenie met oorfone aan rondstap of bestuur nie. Hou jou motor in ʼn goeie meganiese toestand sodat dit jou nie in die steek sal laat op ʼn ongeleë tyd nie.

Vermy, indien moontlik, openbare vervoer. Moenie rylopers oplaai nie. Bewapen jou met ʼn blikkie pepersproei en hou dit gereed.

Om saam te vat: Wees altyd bewus van en bedag op alles wat om jou aangaan!

  • Johannes Jordaan het gedurende die sewentigerjare ʼn meestersgraad by die Universiteit Stellenbosch verwerf en later ook as dosent aan die US klas gegee voordat hy ʼn landwye konsultasiepraktyk in boedel-, finansiële en leefstylbeplanning opgebou het. Hy is tans semi-afgetree en woon in die Strand (Wes-Kaap). Hy spits hom tans toe op die skryf van boeke om sy waardevolle kennis en ervaring met ander te deel. Lesers wat Jordaan se boek wil bestel, kan ʼn e-pos na [email protected] vir besonderhede stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.