Aftrede: Voorkom oormatige skuld só

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

Hierdie artikel is deel van ʼn reeks wat lesers help om hul aftreejare die beste tyd van hul lewe te maak. Die artikel is ʼn uittreksel uit Johannes Jordaan se boek Prima Tyd – Geniet jou lewe ná 50.

Skuld is ʼn vernedering gedurende die dag en ʼn bekommernis in die nag.

Dit is skrikwekkend dat byna die helfte van Suid-Afrika se verbruikers ʼn swak betalingsrekord het en dat die meeste van hulle tot meer as drie maande agterstallig is met betalings.

Een van die vele redes vir bogenoemde toestand is dat mense geneig is om kitsoplossings vir hul probleme en behoeftes te soek. Hulle leef nie voorkomend nie. Hulle jaag onmiddellike bevrediging na. Die houding is: “As ek iets sien wat ek wil hê, wil ek dit nou hê.” Dit is impulsief en baie gevaarlik.

Mense word daagliks blootgestel aan media-advertensies wat hulle probeer verlei om nou te koop (“terwyl voorraad hou!”) en later te betaal. ʼn Klassieke misleidende advertensie wat ek onlangs gehoor het, verloop as volg: ʼn Vrou het gedurende die feestyd oorbestee en gevolglik in die skuld beland. Die oplossing wat dan aan haar voorgehou word, is: “Mevrou, ons leen jou net gou nog ʼn paar duisend rand en kry jou in ʼn japtrap weer op jou voete!” Almal weet dat dit haar net dieper in haar finansiële verknorsing sal laat sink.

Oormatige skuld kan in vele opsigte met alkoholmisbruik vergelyk word. Die genot kom in ʼn kits, maar die “terugbetaal” (met rente) kom later en hou waarskynlik ook langer aan. Dis die onaangename babalaas. Onthou dat alle skuld uiteindelik saam met rente wat bykom, terugbetaal moet word.

Ongelukkig is dit maklik om skuld te maak. Die banke en instellings wat mikrolenings (onversekerde lenings teen ontsettend hoё koerse aanbied – dikwels tot 30%), is maar te gretig om jou te “help”. Jy verdien gewoonlik maar sowat 6% op ʼn spaarrekening. Probeer dus om mikrolenings te vermy omdat dit van jou ʼn finansiële slaaf kan maak.

Baie ondernemings wat byvoorbeeld klere, meubels of motors verkoop, verkies eintlik dat jy op skuld koop en dit oor ongeveer ses maande tot ʼn jaar afbetaal, omdat hulle soveel uit die hoё rente wat hulle van jou verhaal, verdien. Dit is die sogenaamde finansieringskoste. Voordat jy jouself hiertoe verbind, maak eers die sommetjie van wat dit jou in werklikheid gaan kos. Jy sal dikwels agterkom dat jy die item gewoonlik vir minstens die helfte goedkoper kan kry deur kontant te betaal. Bowendien kan jy dikwels ook ’n kontant-afslag beding.

Eintlik behoort jy geen verbruikersgoedere of luukse items op skuld te koop nie. Miskien net duursame goed soos ʼn motor of jou woonhuis wat in waarde kan vermeerder. Maar selfs dan moet jy die transaksie eers aangaan nadat jy diep daaroor nagedink het. Stel ook vas hoe dit jou begroting gaan raak en of jy die addisionele uitgawes kan bekostig saam met al jou ander noodsaaklike uitgawes. Onthou, as jy nie jou paaiemente kan volhou nie, kan die instansie wat die items aan jou verkoop het, dit terugvat.

Werk suinig met jou kredietkaart

Kredietkaarte is ʼn maklike en nuttige manier om te koop, mits jy binne elke maand die volle bedrag van die transaksie terugbetaal. Dit lei egter maklik tot oorbesteding, want jy sien nie die geld soos wat jy dit uitgee nie. As jy nie met jou maandelikse “skoonmaak” van jou kredietkaartskuld kan bybly nie, is jy in die moeilikheid! Jy kan dan maklik in ʼn skuldstrik beland waaruit jy nie maklik weer kan loskom nie.

Begroting is noodsaaklik

Dit is nooit te vroeg of te laat om met ’n maandelikse huishoudelike begroting te begin nie. Dit kan jou (en jou gesin!) help om die spreekwoordelike vinger op die pols van jou finansies en jul uitgawes te hou. Maak dit gerus ʼn gesinsaangeleentheid. Beide gades behoort betrokke te wees daarby. As die kinders ook betrek word, kan hulle reeds van vroeg in hul lewe waardevolle lesse leer sodat hulle eendag ook hul eie geldsake met oorleg kan bestuur.

ʼn Begroting sal vir julle aan die einde van die maand presies aandui hoeveel en waaraan geld bestee is en of dit klop met dit waarvoor begroot is. Dit kan jou (en jou gesin) ook help om nie te oorbestee nie. As iets oorbly, spaar dit vir die toekoms. Bou ʼn reserwe op vir moontlike onvoorsiene uitgawes. Jou besparingspaaiment vir jou oudag se neseier behoort heel eerste op jou begroting te verskyn.

Dis ook ʼn goeie gebruik om weekliks ʼn vaste bedrag sakgeld aan kinders te gee. So leer hulle om te begroot en met oorleg te bestee.

Volg gerus wenke soos die volgende:

  1. Begin so vroeg as moontlik spaar vir jou aftrede – sommer vanaf die eerste salaris wat jy begin ontvang. ʼn Klein bedraggie elke maand kan oor die lange duur vir ʼn groot en voldoende neseier vir jou sorg.
  2. Probeer om nie vroeg af te tree of ʼn vroeë pakket te aanvaar nie – die neseier wat jy sal ontvang, sal veel kleiner wees en dit sal dan ook oor ʼn relatief langer termyn vir jou moet sorg. Gewoonlik sal dit voor die tyd opraak. Bereken dus eers sorgvuldig wat die gevolge van so ʼn stap sal wees. Verkry gerus die hulp van ʼn ervare finansiële raadgewer.
  3. Vermy twyfelagtige beleggingskemas wat jou die maan en sterre beloof soos die pes. By sulke beleggingskemas is die risiko groot dat jy al jou geld kan verloor. Hou die volgende in gedagte: Verkwisting van geld genees vinnig, want gou is daar niks oor om te verkwis nie!

Johannes Jordaan het gedurende die sewentigerjare ʼn meestersgraad by die Universiteit Stellenbosch verwerf en later ook as dosent aan die US klas gegee voordat hy ʼn landwye konsultasiepraktyk in boedel-, finansiële en leefstylbeplanning opgebou het. Hy is tans semi-afgetree en woon in die Strand (Wes-Kaap). Op die oomblik spits hy hom toe op die skryf van boeke om sy waardevolle kennis en ervaring met ander te deel. Lesers wat Jordaan se boek wil bestel, kan ʼn e-pos na [email protected] vir besonderhede stuur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Hans Richardt ·

Niemand waarsku jou ooit dat annuïteite deesdae as 2 de inkomste bereken word na aftrede en dat jy ongeveer 40% belas word daarop.
Moenie dink jy stop om inkomstebelasting na 60 en aftrede te betaal nie.

Barend Fourie ·

Beste Hans, dit is nie waar dat jy 40% belasting op die opbrengs van ‘n Uittree-annuiteit betaal nie! Stuur ‘n e-pos aan my en ek gee jou die korrekte feite. Dit sal almal by ‘n gelisensieerde FIA makelaar kan kry! Groete.

jacqui ·

Die groot probleem in die land is Ja dis goed om nie skuld te maak nie maar die dag wanneer dit op die push kom om huis te koop word jy nie goed gekeur as jy nie skuld op jou naam het nie. Ek en my man is time and again gedecline net omdat ons nie skuld gehad het nie, dit het ons gekos om skuld te maak vir 6 maande moes rekening oopmaak en betaal toe word ons eers goed gekeur vir n huislening. Vandag as jy wil huiskoop moet jy sorg dat skuld het anders help de banke jou nie.

vogzuma ·

Het julle nog nie gesien dat ons erg belas word en dat die lewens koste bly styg nie .? Regeering is besig om die midel klas te vernietig en dit is wat die meeste sekondere werk skepping skep . Die mense is besig om ons vining tot zimbawe se vlak te bring . Intellegente kapitalisme skep werk . LET WEL INTELLIGENTE KAPITALISME .

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.