Agt lesse uit die psigiatriese hospitaal

hospitaal

Foto: Erkan Utu/Pexels.com

My hart bons toe ons by die sekuriteithek stop. Dit is Vrydagoggend net voor 12:00. Die valboom wag terwyl my man die sekuriteitswag se boek invul. “Are you visiting or booking in?” Dit is seker vir hom ʼn roetinevraag. Dit laat egter my hart weer vinniger klop en ek voel hoe my gesig eers vuurwarm en toe yskoud word. Ek sluk.

“Booking in.” Hy knik net.

Dit is finaal. Hier is ons nou. By die psigiatriese hospitaal. Ons is nie hier om vir iemand te kom kuier nie. Ons is hier sodat ek opgeneem kan word. Die sekuriteitswag gee ʼn papier met ʼn groot nommer een daarop vir my man aan. Om te onderstreep. Hy gaan alleen weer by die hek uit. Ek gaan regtig hier bly. Dit is vir my ʼn berg.

Toemaar, ek sal voor Moedersdag goed genoeg voel (of minstens lyk) om huis toe te gaan, paai ek myself. Die geveg teen die skuldgevoel oor my man en kinders alleen by die huis is fel. Ek móét hier wees, want hulle verdien ʼn beter ek. Die regte ek. Maar ek is ook hulle mamma. Ek moet eintlik dáár wees. Hulle verstaan nie.

Wanneer jy in ʼn hospitaal opgeneem word met ʼn virus of ʼn ding, of geopereer moet word, versuim jy nie om oop kaarte daaroor te speel nie. Vriende en familie bied aan om te help met kos en kinders oplaai. Hulle wikkel jou en jou gesinnetjie toe met omgee. Elke besoektyd is daar iemand wat kom kuier. Hoe voel jy nou? Wat sê die dokter? Wanneer kan jy huis toe gaan? Normale vrae.

Wanneer jy in ʼn psigiatriese hospitaal opgeneem word, word jy begroet deur ʼn ongemaklike, gespanne stilswye. Hoofsaaklik selfgeskep, want jy vertel net die mense wat jy regtig nie kan vermy nie. Dit is die mense wat ook die naaste aan jou is. Die mense vir wie jy die liefste is; jy wil hulle allermins teleurstel. Daarom rol jy nie jou oë wanneer hulle tydens die eerste besoektyd vra of jy orraait is nie. En jy wys nie jou frustrasie as hulle ná nog ʼn dag vra hoe jy nou voel nie. Jy sê bloot “goed dankie” of “beter dankie” sonder om dit te bedoel. Die slegste? Jý weet en húlle weet jy jok.

Die psigiater groet met ʼn stewige handdruk. Ons sê die algemeen aanvaarde hoe-gaan-dit-rympie. Die oë in die geplooide gesig is sag en vriendelik. Die stem is entoesiasties wanneer hy verduidelik. “Ons gaan elke oggend so groet, mevrou,” begin hy. “Ek wil voel of jy bewe en of jou hande sweet. Want dan weet ek hoe dit regtig gaan.” Ek besef dat ek hierdie 80-plus-professor nie geflous gaan kry nie. Hy het al alles gesien. Later verduidelik hy sy benadering tot my behandeling. “Ons behandel konserwatief met medikasie. Die grootste verandering gaan kom as jy erns maak met jou sielkundige behandeling en jou selfsorg.”

Prof verduidelik sy reëls vir selfsorg. Ek maak noukeurig aantekeninge:

  1. Eet gereeld en gesond – die kos moet verkieslik in die vorm wees wat die Here dit geskape het. Nie uit bokse nie.
  2. Oefen minstens drie keer per week een uur lank.
  3. Handhaaf ʼn goeie slaaproetine. Minstens sewe tot agt uur per nag. Gaan slaap elke aand min of meer dieselfde tyd.
  4. Beplan jou dag.
  5. Doen twee keer per week iets wat vir jou lekker is.

“Is dit al?” Die gedagte glip hardop uit voor ek kan keer. Hy lag. “Ja, dit is al. En dit is nie so maklik soos jy nou dink nie.”

Die eens vreemde plek raak stadigaan bekender. Die paadjie wat teen die grensmuur deur die tuin kronkel, is 1 100 van my treë lank. Ek kies elke dag dieselfde  kolletjie son op die yskoue sementbankie in die tuin waar baie groepsessie-deelnemers sit en wag vir die terapeut om aan te kom. Die eetsaal. En die glasie water op die bedkassie. Die ellendige ou glasie moet elke keer wanneer dit tyd is vir medikasie, saamgeneem word om die pilletjies af te sluk. Ek vergeet dit elke keer. Die gesigte met wie ek die hospitaal deel, raak ook bekender. Ons vind in mekaar ʼn unieke kameraderie. Kamerade met wie jy jou grootste vrese en hartseer deel in groepsessies en sommer net kuierkamerade in die eetsaal. Ek leer baie.

  1. Ek is nie alleen nie

Elkeen se storie verskil, maar ons almal voel eintlik dieselfde. Elkeen van ons voel om die een of ander rede soos ʼn mislukking; nie goed genoeg nie. Het al verwerping ervaar. Sukkel met grense.

  1. Ons is almal doodgewone mense

Ons is almal ʼn gewone Jan en San Alleman. Nie een van ons het ʼn uiterlike teken van die las wat ons dra nie. Dit gee in ʼn positiewe sin anonimiteit, maar die ander kant van die munt is isolasie.

  1. Vriendskap en kameraderie floreer waar oordeel afwesig is

Die nuutgevonde kameraderie – onvoorwaardelike aanvaarding, vertroulikheid en ondersteuning SONDER oordeel, beteken vir ons almal ongelooflik baie. Kommunikasie is eerliker en persoonliker, tog gemaklik.

  1. Ek maak ook saak

Ek kom agter dat die dokter se vyf reëls my vreemd ongemaklik laat voel. Want dit beteken dat ek vir mense nee gaan moet sê. Vergaderings gaan moet uitstel sodat ek op die regte tyd kan eet. My kinders gaan moet leer dat hulle teen ʼn sekere tyd gaan moet slaap sodat ek my stukkie lekker vir die dag – ʼn warm bad (alleen!) kan geniet en betyds kan gaan slaap. My man gaan drie keer ʼn week ʼn ekstra draai moet ry om die kinders op te laai sodat ek kan gaan stap. Al hierdie dinge laat my skuldig voel. Almal moet skielik aanpas by mamma se nuwe reëls. Is dit nie te veel gevra nie? Nee. My man lag vir my toe ek my skuldgevoel en die “groot” realiteit van almal se opofferings verduidelik. Ek besef: Ek mag (en moet) ook op die prioriteitlysie verskyn.

  1. Ek kan nie alles vir almal wees nie, maar ek kan iets vir iemand beteken

Ek leer dat mense hulle eie lewe moet leef, hulle eie probleme moet hanteer om te kan groei. Ek is ʼn voelertjie-mens en spring dikwels ongenooid in iemand anders se lewenswedstryd om uit te help. Wanneer ek my betrokkenheid beperk tot die hulp wat hulle vra, kan hulle groei. En ek kan bietjie op my eie wedstryd fokus.

  1. Daar is baie waarde in weerloosheid

Ek het nog altyd baie waarde daaruit geput om mense te help en te ondersteun. Wanneer ʼn mens vir ʼn slag aan die ontvangkant van hulp staan, gun jy iemand ook die vreugde van ondersteuning gee.

  1. “Wat is” is makliker om te hanteer as “wat as”

“Wat is” is feite. Die waarheid. Bevestig. Vas. Hanteerbaar. “Wat as” is ʼn storie. Uitgedink. Oordrewe. Vreesaanjaend. Ek moet ʼn kopskuif maak. Elke gedagte moet eers deur die nuwe “Wat is/as”-siffie voor ek daaraan aandag gee.

  1. Vergewe is nie vergeet nie. Soms is dit onthou.

Soms moet mens eers alles van jou trauma onthou sodat jy dit kan losmaak van jou identiteit. Mens moet dit doen, sodat jy kan besluit wie jy graag wil wees. Jy moet die trauma en hartseer losmaak van jouself om dit te kan sien vir wat dit is. Iemand anders se gemors. En dan kan jy dit begrawe. Soms kom jy ná ʼn ruk agter daar sit nog ʼn stukkie gemors. Dan maak jy dit maar weer los vir ʼn volgende begrafnis.

Moedersdag-Sondag het gekom en gegaan. Ek het ophou neul by die psigiater oor ʼn ontslagdatum. Die veilige voorspelbaarheid van elke dag het ʼn nuwe kalmte in my gemoed gebring. ʼn Stilte. ʼn Plek waar ek ʼn rustige gesprek met myself kon hê sonder die geraas van die daaglikse lewensresies en rolle en skuldgevoelens. Ek geniet die sonkolletjie op my bed. Die paar rondes stap voor elke ete. Ek sien selfs uit na die groepsessies.

Maar ek mis my kinders. Huil wanneer my vyfjarige halfpad kar toe omdraai en terughardloop tot in my arms. Die beentjies klou benoud om my lyf en die koppie word styf in my nek gedruk. Hulle verstaan nie waarom ek hier moet wees nie.

Maar dan, die Dinsdag ná Moedersdag, kondig die dokter aan dat ek die volgende dag ontslaan kan word. Hy herinner my aan die nuwe reëls en die belangrikheid om my medikasie op die regte tye te neem. Opvolgafsprake word gemaak. En skielik is dié berg, waarna ek só opgesien het, agter my. Ek besef: Hierdie plek is nie ʼn slegte plek nie. Wat maak dit in elk geval saak wat ander dink? Ek was hier sodat ek weer die beter ék kan vind. En ek het.

Die volgende dag kom my man triomfantelik met die sekuriteitswag se papier in die hand by my kamer ingestap. Dit het ʼn twee op. Want die valboom is weer oop.

“Kom ons gaan huis toe.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
EK

Loop die trane nou. Dis hel op aarde…… Ek is so bly jou mense verstaan, myne doen nie, hulle dink ek soek aandag. Dankie dat jy dit met ons gedeel het, jou woorde het my hart geraak. Sterkte.

Elize

Sjoe ek is hoendervleis! Was ookal daar! Daar is ‘n stigma daaraan! DIE mense sal nooit weet van die seer binne jou! Sterkte en mag God jou met Sy krag en liefde omvou. Dis al wat my nog staande hou, my Hemelse Pappa.

Was ook daar

So perfek beskryf, Baie dankie!!

Eina

Ek was aan die ander kant van major depressie deurdat ek my Moeder verloor het aan die gedrog! Sy het so in haarself gekeer dat sy ophou eet het en in ‘n permanente katatoniese toestand verval het. Sy het maande lank gely en ons kon haar nie help nie. Sy was deur verskeie inrigtings en behandelings en niks het gehelp nie! Ons het haar verloor en ons kon niks daaraan doen nie! Sy het net weggekwyn tot daar niks oor was nie. Later het al haar organe ingegee in die versorgings-eenheid.

Theresa

WOW!