Akademia-sakeplankompetisie: Pryse van meer as R1,5 miljoen

Die Akademia-kampus. Foto: Verskaf

Die Akademia-kampus. Foto: Verskaf

Die 2016 Akademia Sakeplankompetisie, wat vanjaar in sy vyfde bestaansjaar is, is Donderdagoggend in Stellenbosch bekendgestel. Vanjaar kan ondernemings uitsien na pryse van meer as R1,5 miljoen.

Whitey Basson, gasspreker van Shoprite Holdings, het die geleentheid met die gesprekstema “Die kopskuif wat klein- en mediumsakeondernemings en eienaars benodig om vandag suksesvol in Suid-Afrika en Afrika sake te doen” gopen.

Etienne Raymond, ervare sakekonsultant en medekoördineerder van die Akademia Sakeplankompetisie, sê die kompetisie is daarop gemik om entrepreneurs te bemagtig om hul eie identiteit te ontdek en hul sake-idees en ondernemings daardeur tot volhoubaarheid uit te bou.

“Deur ’n gefasiliteerde opleidingsproses leer deelnemers deur die loop van die kompetisie meer omtrent hul eie identiteit, die sewe fokusterreine van besigheid en hoe om hierdie uniekheid te kan verwoord in ’n kort en bondige sakeplan. So ’n sakeplan is dus ’n lewende roetekaart wat die onderneming se vordering op die pad na volhoubare ontwikkeling meet,” het Raymond gesê.

Belangstellendes kan vanjaar inskryf in een van twee nuut omskrewe kategorieë:

Die afdeling vir nuwe en kleinsakeondernemings sluit ondernemings in wat vanaf konsepfase tot en met ’n winsgrens van R1 miljoen per jaar strek, en die afdeling vir bestaande en mediumsakeondernemings sluit ondernemings in met ’n winsgrens van meer as R1 miljoen per jaar.

Deelnemers beantwoord vyf kernvrae oor hul sakeonderneming of sake-idee tydens die eerste fase van die kompetisie. Ondernemings moet die antwoorde voor of op 20 Julie 2016 inlewer om deel te neem. Dertig semifinaliste per afdeling kry hierna die geleentheid om hul sakeplanne ten volle op te stel en in te lewer, waarna vier finaliste in elke afdeling deurdring tot “Die Leeukuil”, ’n ondervragingsessie geskoei op die lees van die televisieprogram Dragon’s Den, waartydens hulle deur bekende sakelui ondervra word om die uiteindelike wenners aan te wys.

Die wenners word op 26 Oktober tydens ’n glansgeleentheid aangekondig.

Besoek Akademia se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Mij ·

Verkondig die kompetisie wyd, oorweeg dit sommer self om n besigheid te begin, ons het baie entrepreneurs nou nodig!

Erns ·

Probleem met befondsing strukture is die tyd wat dit neem. Dit is amper ‘n ‘catch 22’ situasie. Befondsers soek sekerheid in terme van die mark, maar sodra jy jou mark vasmaak (hang af van tipe besigheid) met kontrakte, dan vereis die mark dat die besgheid begin lewer, anders kry hulle die produk elders. Teen die tyd wat befondsing dalk goedgekeur is, is die besigheid meeste van die kontrakte kweit en is mens weer terug op eerste stap. Ander probleem is ‘n behoorlike feasibility study. Laasgenoemde is letterlik fondse wat moontlik in die water kan beland, afhangende van die uitslag, dus sukkel opkomende entrepreneurs om ‘seed capital’ in die hande te kry om sulke studies aan te pak. Die Afrikaner sal moet saamwerk om die een of ander struktuur te skep om ons jong entrepreneurs te help.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.