Akademia-student inspireer op Wêreld-entrepreneursdag

handry-theron-entrepreneur-akademia-student

Handry Theron, ’n elektroniese ingenieur, is ’n passievolle entrepreneur van drie sakeondernemings. Hy studeer tans na-uurs aan Akademia om sy industriekennis met sakekennis aan te vul. In sy vrye tyd speel hy graag gholf of tennis. Foto: Twitter.com

Wêreld-entrepreneursdag word jaarliks op 21 Augustus gevier om bewustheid van entrepreneurskap, innovasie en leierskap te bevorder.

Entrepreneurs is persone wat met innoverende besigheidsidees vorendag kom, weldeurdagte risiko’s neem, glo in die behoeftes wat deur hul besigheidsidees bevredig kan word, en sakeondernemings met volharding op die been bring.

By Akademia is hierdie dag ʼn besonderse viering, aangesien talle studente aan hierdie instelling reeds met hul besigheidstalente woeker en met hul eie sakeondernemings spog. Akademia erken hierdie studente vir hulle entrepreneurspassie, aanvoeling vir innovasie, en hul deursettingsvermoë om steeds nauurs te studeer.

Een van hierdie studente is die 35-jarige eerstejaarstudent, Handry Theron, wat aan die begin van die jaar by die Bellville-studiesentrum aangesluit het.

As elektroniese ingenieur het hy nog altyd ʼn liefde vir produkontwikkeling gehad. Deesdae is hy egter meer betrokke in die strukturele bou van sy ondernemings. Hierdie ondernemings spesialiseer in drie verskillende industrieë, naamlik megatroniese ingenieurswese, rekeningkundige en belastingdienste, asook algemene elektriese installasies. Theron is reeds in die proses om ʼn beheermaatskappy op die been te bring om hierdie drie ondernemings beter te kan bestuur. Tans verskaf hy werk aan drie ingenieurs, ʼn verkoopspersoon, rekenmeester en ouditeur.

“As mense my vra waar ek begin het, raak ek sommer emosioneel. Nie omdat dit ʼn fout was nie, maar eerder omdat ek steeds nie kan glo hoe moeilik dit regtig is om ʼn firma uit niks te begin nie,” vertel Theron.

In 2011 het hy sy eerste sakeonderneming vanaf sy tweeslaapkamerwoonstel in Durbanville begin nadat hy sy bestendige werk bedank het.

Hy vertel dat sy grootste uitdaging nie die tekort aan inkomste was nie, maar eerder om die industrie te oortuig dat hy vaardig is om die verlangde dienste te lewer.

“Dis hier waar jou karaktereienskappe van entrepreneurskap getoets en bevestig word.”

Theron verduidelik dat hy enige voornemende entrepreneur sal aanmoedig om sy of haar drome te volg as hy of sy bereid is om dit nie bloot vir geld te doen nie, maar vir die liefde van die saak.

“Inaggenome die vlak van intellek en geesdrif waaroor entrepreneurs beskik, is daar maar ʼn baie klein persentasie van entrepreneurs met ʼn beter netto inkomste as hul eweknieë in die korporatiewe wêreld,” reken hy.

Theron meen dat as ʼn mens jonk en onervare is, het jy nie ʼn benul van wat entrepreneurskap werklik behels nie.

“Indien jy dit oorweeg om jou huidige werk te bedank en jou eie onderneming te begin, gaan dink mooi of jy regtig ʼn natuurlike entrepreneur is en of jy nie maar net in die verkeerde beroep staan of verkeerde baas het nie.”

Hy voeg by dat dit baie maklik is om ʼn onderneming te registreer, maar dat dit baie moeilik is om ʼn suksesvolle, volhoubare onderneming in die plaaslike ekonomiese klimaat van nou te bou.

Hy is van mening dat mens wel met besondere dryfkrag en kreatiewe denke gebore word, wat dit dan vir jou moontlik maak om later te besef dat dít is waarna jy eintlik in die lewe hunker. Van jongs af het Theron as plaaskind uit die Groot Karoo die begeerte gehad om ekstra sakgeld te verdien en het produkte vervaardig wat hy aan vakansiegangers in Hartenbos verkoop het.

Ná agt jaar as entrepreneur het hy besluit dat hy nie meer ʼn voltydse ingenieur is wat elke dag ingenieursprobleme moet oplos nie.

“Ek is nou ʼn volwaardige entrepreneur wat áán my besighede moet werk en nie meer ín hulle onderneming nie,” verduidelik Theron.

“Dis hier waar ek begin besef het dat ek nooit die geleentheid aangegryp het om die mees fundamentele vaardighede van ondernemingsbestuur te bemeester nie.”

Alhoewel Theron se hoogste kwalifikasie ʼn meestersgraad in Elektroniese Ingenieurswese is, het hy besluit om sy  BCom-graad in Ondernemingsbestuur aan Akademia te voltooi om alle aspekte van ʼn sakeonderneming te bemeester en sodanig sy industriekennis met sakekennis aan te vul.

Hy beskryf sy studies by Akademia as ʼn groot voorreg.

“Om wêreldgehalteonderrig te vind, is nie so ingewikkeld nie, maar om dit in jou moedertaal, nauurs en in ʼn Eerstewêreld-organisasiekultuur te doen, is baie skaars.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Krewel ·

Welgedaan. My dogter swot megatroniese ingenieurswese aan US. Sy is in haar 3de jaar. Neem jy studente in vir vakansiewerk?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.