Video: Alison Botha: 22 jaar ná gru-aanval

Alison Botha. Foto: Maroela Media

Alison Botha. Foto: Maroela Media

Alison Botha, wat in 1994 gruwelik verkrag en aangeval is, het besluit om haar storie in rolprent-formaat te vertel. Die dokumentêr, Alison, The Movie, is op 26 Augustus by die Silwerskermfees in Kampsbaai vertoon. Maroela Media het met Alison gesels oor die dokumentêr en hoekom sy besluit het om nou, 22 jaar later, ʼn rolprent te maak oor die nag wat haar hele lewe verander het.

“Ek is deur die jare deur baie mense genader om ʼn rolprent te maak, maar het nog nooit ʼn begeerte gehad om dít wat met my gebeur het só vas te vang nie. Ek dink dit was net die regte persoon wat my op die regte tyd genader het.”

Alison sê sy het baie van Uga Carlini (die vervaardiger) se aanslag gehou, aangesien sy nie net ʼn dokumentêr oor die aanval wou maak nie, maar ook wat met Alison se lewe ná die aanval gebeur het. “Dis 22 jaar later en daar is soveel om te vertel,” sê Alison.

In die dokumentêr word daar met verskeie mense gesels, onder andere die dokters wat Alison daardie nag behandel het, die polisiebeampte wat aan die saak moes werk en selfs die student wat Alison daardie nag in die middel van die pad gekry het, maak ook ʼn verskyning.

Die aanval self word wel in storieformaat vertel en deur akteurs Christia Visser, Zak Hendrikz en De Klerk Oelofse vertolk. Alison is daardie nag in Port Elizabeth, op die ouderdom van 27 jaar, deur Theuns Kruger en Frans du Toit verkrag, 37 keer in die buik gesteek en haar keel is ook 17 keer gesny. Alison moes ʼn hemp gebruik om haar ingewande bymekaar te hou en haarself na ʼn snelweg sleep waar ʼn groep studente haar gekry het.

“Die dele van die aanval was sonder my verfilm, so ek was nie seker wat om te verwag toe ek daarna gekyk het nie. Ek het gedink dit sou soveel moeiliker wees as wat dit eintlik was. Ek het gedink ek sou dit herleef, maar dit was nie so nie. Dit was amper asof ek dit vanuit iemand anders se perspektief gesien het,” sê Alison.

Sy sê sy het baie gemaklik gevoel met die maak van die dokumentêr omdat die hele proses vooraf goed bespreek was.

En op die vraag of sy nou vrede het? Alison sê sy dink nie ʼn mens het ooit eintlik vrede nadat so iets met jou gebeur het nie, maar sy het wel aanvaar dat dit deel van haar lewe is, en dat sy uit die ervaring gegroei het en iets goeds uit die lelik kon maak.

“Ek het lank terug besluit dat ek nie elke slegte bui of oomblik aan die aanval sal wyt nie. Ons het mos almal slegte dae – partykeer kan die kleinste ding ʼn mens omkrap.”

In die dokumentêr vertel die regter, Chris Jansen, hoe hy seker gemaak het dat Alison se aanvallers nooit weer vrygelaat sou word nie deur ʼn vonnis van lewenslange tronkstraf op te lê, maar omdat nuwe paroolwette ingestel is, kan dié twee in aanmerking kom vir borgtog.

Alison erken sy is vreesbevange dat Theuns en Frans sal vrykom.

Kyk die video om te sien wat Alison sê oor hoe sy die trauma van daai nag moes verwerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Maria van Dieweeck ·

Allison, jy is werklik n baken van hoop vir baie. Ek bewonder jou al vir baie jare!

JC ·

Alison lyk inderdaad na ‘n baie oulike mens. (ek ken of weet nie eintlik baie van haar nie)
Om so op te tree en jouself op haar wyse voor te dra EN TE LEEF VOLUIT na SO ‘n tragedie verg beslis baie.
WAT ‘N VROU!

Piet ·

Alison, ek het self jou aangrypende verhaal gelees. Selfs nadat jy jouself verduidelik het kan mens steeds nie verstaan hoe jy so sterk hieruit gekom het nie. Wend jou asb tot die media as daar weer sprake is dat hierdie monsters parool gaan kry want ek sal saam met jou kom toi-toi om dit te verhoed. Ek is n boer wat seker nie n mooi gesig sal maak as ek toi-toi nie maar ek kan probeer. Dis jammer dat ander mense wat sulke onbeskryflike geweld oorleef het (veral d.m.v plaasaanvalle) nog nie hierdie misdaad sterk genoeg op die voorgrond kon bring nie. As daar meer mense soos jy is kan mens dalk net n verskil maak aan hierdie geweldadige land van ons.

Wat-ek-lees ·

In haar boek beskryf sy ook hoe sy haar kop moes regop hou om te verhoed dat dit agteroor val . . .
Ai Alison, jy het baie mense aangegryp met jou durf en moed.
Stem saam met Piet, laat weet as jy ons nodig het want ons is daar vir jou!!!! En dis nie lippetaal.

Al Piercey ·

Ek onthou die gebeure nog goed, jy is ‘n ongelooflike mens en baie spesiaal. VERDWYN maar liewer van die radar skerms af, verweg. DIE soort mense sal jou weer wil opsoek met geen goeie bedoelinge nie. GLO MY ASB.

SNEL ·

Ek onthou haar verhaal en wat sy moes deurmaak. Wat n dapper vrou. Sy het behoorlik geveg om aan die lewe te bly. As ek nou weer hier lees; 37 keer in die maag gesteek, en 17 keer, 17 KEER, wat hulle haar keel gesny het en sy lewe, dan besef ek net weer, dit moes beslis n wonderwerk gewees het dat sy lewe. Goeiste, dat iemand met daardie beserings nog kan lewe en praat daaroor is wonderlik. Jy is n baie dapper vrou!! Hoop regtig nie daai twee kom ooit uit die tronk uit nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.