Allergies? Dís dalk hoekom!

Dit is al weer daardie tyd van die jaar; waar baie van ons rondloop met krapperige neuse en opgeswelde oë weens hooikoors en ander allergieë.

Ná ʼn onlangse studie deur Pharma Dynamics is daar nou meer duidelikheid oor die oorsake van allergieë in Suid-Afrika.

Nicole Jennings, woordvoerder van Pharma Dynamics, het gesê ʼn allergiese reaksie vorm wanneer die liggaam die wanpersepsie het dat iets wat nie skadelik is nie, wel skadelik is.

“Hierdie oorreaksie deur die immuunstelsel lei tot ʼn allergiese reaksie. Dit kan voorkom as ʼn uitslag, koors, hoofpyn, swelling, naarheid, ʼn loperige of toe neus, en kortasemigheid,” het sy gesê.

Die studie het bevind:

  • 36% van mense ervaar ekseemtipe simptome wanneer hulle juweliersware dra.

“Mense wat allergies is vir juweliersware, is moontlik eerder allergies vir nikkel. Nikkel word gebruik as die basis vir goedkoper juweliersware wat dan later met goud of silwer bedek word. Mense wat hierdeur geraak word, kry gewoonlik ekseem op die plekke waar die nikkel aan die vel raak, soos vingers, oorlelle, polse en nek,” het Jenning gesê.

  • 25% van mense is allergies vir ʼn sekere tipe vrug.

“Vrugte soos aarbeie, kiwi’s, perskes, appels, piesangs en sitrusvrugte veroorsaak gereeld allergieë wat in sekere gevalle fataal kan wees. Simptome vir dié allergieë sluit in velreaksies, swelling in die mond en asma.”

  • 21% van mense kry ʼn uitslag anders as sonbrand wanneer hulle te veel tyd in die son deurbring.

“Verskeie grade van sonallergieë bestaan, sommiges is oorerflik, maar ander ontwikkel wanneer dit aan sekere faktore blootgestel word. As jy lei aan ʼn sonallergie moet jy sonbeskermende klere dra en jou daaglikse blootstelling aan die son beperk.”

  • 17% van mense lei aan ʼn toestand genaamd pressure urticaria, wat beteken dat hulle nie stywe klere kan dra, op iets kan sit of teen iets kan leun vir lang tydperke nie.

“Dié ongewone allergie kan voorkom nadat iemand te lank gesit of gestaan, of stywe klere gedra het. Die hande, voete, boude, bene en gesig word hierdeur geraak. Dié allergie kom gewoonlik tussen mense se 20’s en 30’s voor,” het Jennings gesê.

  • 17% van mense het allergiese reaksies teenoor lugverkoelers.

“ʼn Aanhoudende hoes of nies in ʼn lugverkoelde gebied kan ʼn teken wees dat die filter vervang of skoongemaak moet word om te voorkom dat stof versprei wat allergieë veroorsaak.”

  • 16% is allergies vir sigaretrook.

“Die chemikalieë in sigaretrook kan oë laat water en jeuk en dit kan ook jou lugweg irriteer,” het sy gesê.

  • 15% ervaar allergiese simptome wanneer hulle skulpvis soos mossels en oesters eet.
  • 15% is allergies vir alkohol.
  • 13% sal ʼn uitslag kry wanneer hulle aan koue temperature blootgestel word.
  • 9% is allergies vir haarverkleuringsmiddels.
  • 7% se monde en keel swel nadat hulle sjokolade geëet het.
  • 6% kla oor hoofpyn, hartkloppings of velprobleme wanneer hulle koffie drink.
  • 6% slaan uit, hoes of nies wanneer hulle met hout werk.
  • 5% is allergies vir gaskoeldrank.
  • 3% ervaar rooiheid, swelling of afskilfering wanneer hulle vals naels aansit.

Jennings het gesê hoewel baie van hierdie allergieë slegs klein persentasies mense beïnvloed, kan dit steeds baie ongemak vir dié mense beteken.

“Die feit dat amper 20% van deelnemers óf gehospitaliseer moes word óf behandeling in die noodeenheid moes kry, toon die erns van die probleem en hoe dit die gehalte van hul lewe beïnvloed,” het sy gesê.

Jennings het ook gesê dit is belangrik om die verskil tussen ʼn sensitiwiteit en ʼn allergie te herken.

Terwyl albei problematies is, is ʼn sensitiwiteit ten opsigte van iets nie lewensgevaarlik nie, maar ʼn allergie kan wel wees. Simptome van ʼn sensitiwiteit kan maagkrampe, die gevoel van opgeblaas wees, bewerigheid en angstigheid insluit. Allergieë aan die ander kant veroorsaak naarheid, braking, kortasemigheid, duiseligheid en moeilikheid om iets te sluk.

“Mense moet nooit die simptome van ʼn allergiese reaksie ignoreer nie. Indien dit nie behandel word nie, kan dit vinnig erger word. Selfs as jy nog nooit allergies was vir iets nie, is dit heeltemal moontlik om later in die lewe allergies te word vir iets,” het Jennings gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae