Ons word dikwels daaraan herinner dat ons elke dag voluit moet benut, want die lewe is kort. Dat ons die mense vir wie ons lief is moet waardeer. Dat ons in die oomblik moet leef. Carpe diem.
Maar meestal gaan dit by die een oor in en die ander uit, want ons is almal tog so doenig met ons eie dinge.
Ek het verlede week net weer besef hoe vinnig die lewe kan verander. Hoe die gemaklike hier en nou binne ’n enkele oomblik vir altyd verwoes kan word.
Ek en my stapvriend het ewe heerlik met ’n buurman staan en gesels oor sy komende voëlkyk-uitstappie op Robertson. *Dirk was so opgewonde oor die paar dae in die natuur. Dié gawe man diep in die sewentig is ’n bekende en geliefde gesig op die dorp. Hy is vroeg soggens en laat smiddae met sy retriever *Rex op straat om die eerste sonstrale oor Maanskynkop te geniet en die laastes te groet. En Dirk het altyd ’n vriendelike woord vir sy medestappers.
Hy het my pad al vele kere gekruis en die opregte belangstelling wat uit hom straal wanneer hy vra hoe dit gaan, raak my elke keer. Ek het al so dikwels gedink: wat ’n beskaafde man!
Maar terug na ons lekker gesprek voor Dirk se oprit en die heerlike voëlkykvooruitsig. (*Sy vrou, Sally, het ander planne gehad vir dié paar dae.) Dié oudboer vertel ons toe sommer ook van die interessante geskiedenis van sy imposante huis en die twee uile wat hulle ’n paar jaar gelede in die groot hoekboom op sy erf tuisgemaak het. Iets wat vir hom en Sally matelose plesier besorg.
Maar Dirk moet sy viertrek pak en ons honde begin al rondtrippel. (So met die wegstap, wonder ek of daardie indrukwekkende Afrika-visarend ook sy vlerke naby Dirk sal lig. Ek hoop so.)
Skaars drie dae later pieng my foon; nog ’n boodskap op ons buurtwaggroep maar dié keer is dit nie ’n kort verslag oor die pas afgehandelde patrollie nie. Dis om die nuus bekend te maak dat Sally ’n paar uur gelede in ’n motorongeluk dood is.
Dirk se maat en metgesel van die afgelope meer as 50 jaar.
Ek het vir ’n paar minute met die foon in my hand gesit; te geskok om te beweeg. Volgens die buurtwagboodskap het ’n vragmotor Sally se voertuig op die Stanford-pad getref. Die kort beriggie word vergesel van ’n foto van die grutoneel.
Dit het my drie dae gevat om die moed bymekaar te skraap om aan Dirk se deur te gaan klop. Hy was in sy oprit aan die werskaf. Sy dik bos grys hare wat gewoonlik so netjies gekam is, het soos maanhare om sy kop gestaan. Sy gesig was bleek en sy oë so vol smart dat dit moeilik was om oogkontak te maak.
Steeds was hy beskaafd en bedank my opreg vir my besoek. Nadat ek vir die soveelste keer sê: “Ek is so jammer,” kyk hy my waterpas in die oë en sê: “Wat ek die meeste mis, is om langs Sally wakker te word…”
Met die trane wat vlak lê roep ek my honde. Ons stap verder, maar Dirk se hartseer is ons skaduwee.
En ek dink opnuut: die lewe kan binne ’n oogwink verander.
*Name verander om identiteit te beskerm.
- Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM. Lizma kan elke Vrydagmiddag 12h45 op Die Kwik Styg op RSG gehoor word. Sy is die aanbieder en regisseur van die reeks oor klimaatsverandering.
Wat ‘n mens net weer laat besef,wat jy is,is jy uit genade en wat jy het is aan jou geleen.My vrou se een vriendin het ook verlede week haar man afgestaan aan selfdood.Elke dag is net genade uit die hand van ons Meester.Baie sterkte vir jou buurman.
Ek was ñ paar jaar terug in ń mynongeluk. Dit was sekondes en my en ons huisgesin is net so verander. Met genade en baie gebede het ek bly leef. My lewe het baie verander na die tyd en ek weet nou wat dit is om lief gehê te word en liefde te gee. Die Heer is groot