Alles wat jy koop het ʼn versweë waarborg

krediet-koop

Foto: Jarmoluk/Pixabay.com

Verbruikers weet gewoonlik dat alles wat hulle koop, ʼn waarborg het, maar is nie heeltemal seker oor wat hierdie waarborg behels nie. As jy egter nie weet wat die bepalings van die Wet op Verbruikersbeskerming oor versweë waarborge is nie, kan jy nie daarop staatmaak dat dit nagekom sal word nie. Ina Opperman verduidelik wat ʼn versweë waarborg is en hoe jy kan seker maak dat hierdie waarborg nagekom word.

Volgens artikel 56 (1) van die Wet op Verbruikersbeskerming is daar ʼn versweë bepaling in elke transaksie of ooreenkoms, waarin goedere aan ʼn verbruiker gelewer word, dat die produsent of invoerder, verspreider én die kleinhandelaar elkeen waarborg dat die goedere voldoen aan die vereistes en standaarde van artikel 55, tensy dit verander is teenstrydig met die instruksies of nadat dit die produsent of invoerder, verspreider of kleinhandelaar se beheer verlaat het.

Artikel 55 van die Wet op Verbruikersbeskerming handel oor die verbruiker se reg op veilige goedere van goeie gehalte, wat bepaal dat verbruikers die reg het om goedere te ontvang wat gepas is vir die doel waarvoor dit gemaak en van goeie gehalte is, in goeie werkende toestand en sonder enige defekte, vir ʼn redelike tydperk bruikbaar en duursaam sal wees en aan enige toepaslike standaarde kragtens die Wet op Standaarde of enige ander openbare regulasie voldoen.

Jy het dus die reg om te verwag dat die gehalte van elke produk wat jy koop, gewaarborg is en dat dit ook veilig is, doen wat dit veronderstel is om te doen, goed werk, geen defekte het nie en ʼn redelike tyd sal hou.

Duur van versweë waarborg

Jy kan goedere, volgens artikel 56, binne ses maande nadat dit gelewer is, aan die verskaffer teruggee sonder om ʼn boete te betaal en dit doen op die verskaffer se onkoste en risiko, indien dit nie aan die vereistes en standaarde in artikel 55 voldoen nie.

Wat is jou regte?

Wanneer jy goedere teruggee omdat dit nie aan die versweë waarborg voldoen nie, moet die verskaffer volgens artikel 56 die gebrekkige, onveilige of defektiewe goedere herstel of vervang of jou geld terugbetaal.

Indien ʼn vervaardiger die produk of ʼn onderdeel daarvan herstel en dit word nie binne drie maande reggestel nie of jy ontdek ʼn verdere gebrek, defek of onveilige kenmerk, moet die verskaffer die produk vervang of jou geld terug betaal.

In ʼn uitspraak vroeër vanjaar in die Gautengse hof vir verbruikersbeskerming, het die voorsitter, prof. Riëtte du Plessis, gesê die versweë waarborg is van krag bykomend tot die vervaardiger se waarborg.

Dit beteken dat, indien ʼn produk ʼn waarborg van twee jaar het waarbinne die vervaardiger die produk sal herstel, jy meer regte het gedurende die eerste ses maande daarvan. ʼn Kleinhandelaar kan byvoorbeeld nie weier om ʼn produk te vervang omdat dit ʼn waarborg van die vervaardiger het nie.

Hierdie artikel is van toepassing selfs op tweedehandse of gebruikte produkte, maar hou in gedagte dat jy nie kan verwag dat ʼn tweedehandse of gebruikte produk so goed sal werk soos ʼn nuwe een nie.

Wanneer jy ʼn produk teruggee

Die verkoper moet die onkoste betaal om produkte waarmee daar fout is, terug te kry. Jy moet kan verduidelik waarom jy dink die produk is van swak gehalte en bewys dat jy dit in die laaste ses maande gekoop het.

Wanneer jy produkte teruggee weens ʼn probleem met die gehalte daarvan, hoef jy nie ʼn kwitansie te wys nie, maar jy moet kan bewys wanneer en waar jy dit gekoop het en hoeveel jy betaal het. ʼn Kwitansie is die beste manier om dit te doen.

Die verskaffer moet genoeg tyd kry om te bepaal of daar fout is, maar daar is nie ʼn bepaalde afsnytyd om jou probleem op te los nie. Verskaffers moet egter billik wees met hoe lank dit neem.

Wanneer is die versweë waarborg nie van krag nie?

Hierdie versweë waarborg en jou regte daaroor geld saam met enige ander versweë waarborg of voorwaarde in die gemene reg, die Wet op Verbruikersbeskerming of enige ander openbare regulasie en ʼn uitdruklike waarborg of voorwaarde van die produsent of invoerder, verspreider of kleinhandelaar.

Die versweë waarborg is nie van krag op produkte wat jy op krediet koop nie, maar hierdie produkte moet steeds van goeie gehalte wees en jy kan eis dat die produkte herstel word, maar jy kan nie ʼn omruiling of terugbetaling eis nie. Jy kan produkte wat op krediet gekoop is, net teruggee in terme van die kredietooreenkoms.

As jy ʼn produk as ʼn geskenk gekry het, is die versweë waarborg ook nie van krag nie. Net die persoon wat vir die produk betaal het, kan dit teruggee vir ʼn terugbetaling, vervanging of herstelwerk.

Produkte en goedere wat jy op ʼn veiling koop word nie deur artikel 56 gedek nie.

Onthou!

As verbruiker moet jy altyd verantwoordelik optree en jy het ʼn plig om nie hierdie artikels van die Wet op Verbruikersbeskerming uit te buit vir eie gewin nie.

Aangesien mense by wie jy produkte koop gewoonlik verkies om klagtes in Engels te hanteer, onthou dat ʼn versweë waarborg in Engels ʼn “implied warranty of quality” genoem word.

Kla hier:

Verbruikers kan kla by die Nasionale Verbruikerskommissie of provinsiale kantore vir verbruikersake oor bestellings wat nie afgelewer word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Justice ·

Totdat jy die Verbruikersraad probeer skakel om ‘n klagte te le – dit is ‘n nagmerrie van die begin af en daar is nie ‘n einde. Hulle is treurig verby – ‘n absolute mors van tyd en die belasting betalers se geld. Die Nasionale Kredietraad (NCR) is nog erger. Hul onbekwame personeel en ek sluit hul regsgeleerdes in word absoluut deur die Banke beheer. Geen hulp hoegenaamd vir die man op straat – hul sukses syfers spreek vanself. Die verbruikers en kredietwette is uitstekend – die personeel is egter pateties een tipiese staatsamptenare.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.