Alles wat jy moet weet van vakansieklubs

vakansie-somer

Foto: Stevebidmead/Pixabay.com

Vakansieklubs, of tyddeel soos sommige mense dit noem, is veronderstel om verbruikers se kommer oor waar hulle volgende gaan vakansie hou te besweer, maar gee eerder aanleiding tot talle klagtes. Verbruikers kla hoofsaaklik oor die verkooppraktyke van tyddeelmaatskappye en die feit dat hulle dikwels nie plek kry by die plekke op die tye wat hulle wil hê nie.

Die Nasionale Verbruikerskommissie het in 2013 ʼn ondersoek na verskeie tyddeelmaatskappye aangekondig. Volgens Trevor Hattingh, woordvoerder van die kommissie, is die ondersoek voltooi in 2014 en in 2015 is twee van die klagtes na die Nasionale Verbruikerstribunaal verwys wat verband hou met Univision Holiday Club en die Club Leisure Holiday Group. Die sake is egter in November teruggetrek weens tegniese tekortkominge in die sake, maar die kommissie wys daarop dat dit nie beteken hulle het nie ʼn sterk saak nie. Die sake sal weer na die tribunaal verwys word wanneer die nodige wysigings aangebring is.

“Die kommissie kan nie tans sy strategie oor hoe hy klagtes oor vakansieklubs gaan hanteer bekend maak nie, maar ons vergader binnekort met die betrokke rolspelers in die bedryf, soos die inkomstediens, die nasionale kredietreguleerder en die eiendomsagente-sakeraad om aspekte oor tyddeelooreenkomste op te klaar, soos die interpretasie van die inkomstediens oor die heffings wat verbruikers moet betaal,” het Hattingh gesê.

Hierdie samesprekings sal die kommissie help om kort- en langtermynplanne te maak oor die hantering van klagtes oor die bedryf, wat ʼn gedragskode vir die bedryf en ʼn ombudsman kan insluit. Volgens die Wet op Verbruikersbeskerming kan maatskappye wat die wet oortree, administratiewe boetes van tot 10% van hul jaarlikse omset of R1 miljoen kry, wat ook al die hoogste is.

Volgens Hattingh het die kommissie net tussen Augustus en November verlede jaar 139 klagtes oor tyddeelvakansies ontvang.  Suid-Afrika se tyddeelbedryf beloop omtrent R3,5 miljard met 400 480 klublede by omtrent 183 oorde en 341 295 eienaars van tyddeelprodukte. Omtrent 26 000 mense werk in die bedryf.

Klagtes handel hoofsaaklik oor die feit dat verbruikers nie kan bespreek vir plekke in tye wat hulle wil hê nie, moontlik omdat te veel mense plek by dieselfde plek gekoop het, as gevolg van misleidende reklame en inligting, onregverdige kontrakvoorwaardes, maatskappye wat weier om kontrakte te kanselleer en die aard van kontrakte wat nie voldoen aan artikels 14, 41 en 48 van die Wet nie.

Artikel 14 maak dit vir die verbruiker moontlik om ʼn ooreenkoms te kanselleer wanneer die vaste termyn verval, sonder ʼn boete of heffing, behalwe vir die bedrag wat nog uitstaande is op die laaste dag van die ooreenkoms, deur die klub skriftelik 20 sakedae kennis te gee. Die klub kan dan ʼn kansellasieboete hef vir enige goedere, dienste of afslag wat verskaf is en die verbruiker moet al die geld terugkry wat vooraf betaal is vir goedere of dienste wat hy nog nie ontvang het nie.

Die maatskappy kan ook die ooreenkoms kanselleer 20 sakedae nadat die verbruiker skriftelik ingelig is dat indien die verbruiker nie die ooreengekome bedrag betaal het nie of nie voldoen aan die voorwaardes van die ooreenkoms nie, die kontrak gekanselleer sal word.

Die klub moet ook die verbruiker in kennis stel, op skrif of enige ander manier waarop dit gehou kan word, binne 40 tot 80 sakedae voordat die ooreenkoms verval, dat dit gaan verval en of die prys dieselfde gaan bly indien die verbruiker die ooreenkoms hernu.

Artikel 41 verbied maatskappye om enigiets bekend te maak oor ʼn belangrike aspek van die goedere of dienste wat vals, misleidend, oordrywend, of verdigsel is, of wat ʼn dubbele betekenis het of verbruikers kan mislei deur nie belangrike inligting te verduidelik nie.

Artikel 48 verbied maatskappye ook om goedere of dienste te verskaf teen pryse wat onregverdig of onbillik is, of teen voorwaardes wat onregverdig en onbillik is.

Bedryfsregulering

Die Vacation Ownership Association of Southern Africa (VOASA) is die bedryfsliggaam vir die vakansieklubbedryf en meen sy vermoë tot selfregulering en bedryfsbeheer is só goed dat die departement van handel en nywerheid “vertroue het in sy deurlopende vermoë om ʼn volwasse en groeiende bedryf te bestuur en te lewer wat vertroue inboesem by alle rolspelers en wat positief beskou word deur die meerderheid verbruikers”.

VOASA was eers bekend as die Timeshare Institute of Southern Africa (TISA) wat in 1990 gestig is om om te sien na die belange van die bedryf. VOASA het 184 lede en verteenwoordig meer as 190 organisasies in agt lidmaatskapkategorieë. Die vereniging se gedragskode is opgestel saam met die sakepraktykekomitee van die departement van handel en nywerheid. Volgens VOASA is sy gedragskode in 2014 deur sy lede aanvaar. VOASA tree as bemiddelaar op in dispute tussen verbruikers en hul lede.

VOASA-gedragskode

Volgens die VOASA-gedragskode mag lede, filiale en werknemers nie

  • enigiets doen om tyddeel te adverteer of te bevorder wat die bedryf in oneer bring of die publiek se vertroue in die bedryf skend nie;
  • uitsprake, aanbiedings, beskrywings, literatuur of dokumente gebruik vir reklame of promosie wat valse of misleidende inligting bevat nie;
  • belangrike inligting uitlaat wat verbruikers kan mislei nie;
  • inligting gebruik wat teenstrydig is of wat verbruikers moeilik sal verstaan nie;
  • oordryf om vakansies of tyddeel te verkoop nie; en
  • verbruikers inlig dat die aanbod net geldig is vir ʼn beperkte tyd om druk op hulle uit te oefen om te teken nie.

Ander bepalings is:

  • Alle aanbiedings moet daarop dui dat tyddeelprodukte ʼn belegging is in toekomstige vakansies en nie vir uithuur, beleggingswins of kapitaalwins by herverkoop bedoel is nie.
  • Kontrakte moet ʼn voorwaarde bevat dat verbruikers die reg het om te kanselleer binne vyf werksdae nadat die kontrak onderteken is.
  • Verbruikers moet ʼn afskrif van die kontrak kry en niemand mag die verbruiker keer om professionele advies te kry nie.

Oppas!

Verbruikers wat tyddeelvakansies wil koop moet seker maak dat:

  • die ontwikkelaar of bemarkingsagent lid is van ʼn reguleringsliggaam wat deur die departement van handel en nywerheid aangewys is;
  • hulle werklik ʼn vakansie wil koop vir die toekoms en nie net ʼn belegging nie;
  • die ooreenkoms voldoen aan die Nasionale Kredietwet, die Wet op Verbruikersbeskerming, die Wet op Aandeleblokke of die Wet op Deeltitels;
  • hulle seker is hulle verstaan al hul verpligtinge;
  • die verkoopskontrak voorsiening maak daarvoor dat die deposito in ʼn trustrekening gehou word;
  • die gebou voltooi is ooreenstemming met artikel 7 van die Wet op die Beheer van Deeltitelskemas;
  • hulle al die dokumente deurgelees het en verstaan watter soort produk hulle koop en al hul vrae beantwoord is indien hulle nie alles verstaan het nie;
  • hulle ʼn vakansie kies wat by hul lewenstyl pas;
  • hulle verstaan wat die moontlik vir omruilings is;
  • hulle ʼn afskrif van die kontrak kry op die dag wat hulle dit teken. Die kontrak moet kennisname van bekendstelling (Acknowledgement of Presentation), terme en voorwaardes en waar van toepassing, ʼn gebruiksooreenkoms en bestuursreëls insluit, sowel as ʼn voltooide en getekende afskrif van die kontrak; en
  • hulle ʼn prokureur wat die nodige kennis het, vra om die verkoopsdokumente na te gaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Kiepie ·

Die gemors begin wanneer jy probeer om hierdie vakansie-punte in die opemark van die hand te sit. Eers dan besef jy dit het absoluut geen herverkoopwaarde nie en jou enigste keuse is om of aan te hou om die jaarlikse heffing te betaal (selfs al kry jy nooit ‘n geskikte plek in ‘n tydgleuf wat jou geval nie) of om maar die verlies te aanvaar en jou lidmaatskap sonder enige vergoeding te laat verval. Die ergste is dat die vakansieklub dan weer hierdie selfde punte aan nuwe lede verkoop sonder om jou enigsins daarvoor te vergoed. Die situasie is so erg dat Gumtree en OLX deesdae gaan meer advertensies vir vakansie-punte toelaat nie aangesien hulle te veel klagtes daaromtrent ontvang.

Eliza-beth ·

Mense val vir die vreeslike “wonderlike” dinge wat hulle kammig kan doen/plekke waar hul kan gaan bly as hul inkoop in die tipe goed. Onthou tog altyd” If it sounds too good to be true, it probably is!”

Antoinette ·

Indien ek enige voornemende koper van tyddeel kan raad gee – bly weg sover as moontlik. Hardloop eerder. Hulle belowe jy sal enige tyd ook in skoolvakansies plek kan kry. Ek was ‘n aap gewees om tyddeel te koop in 2010. Dis nou 2016 – ek kon nog nooit plek kry van my keuse vir die skoolvakansies nie. Maak ook nie saak hoeveel beswaar jy aanteken nie – hulle lag jou net uit.

Jan maak n Plan ·

Ek stem volkome saam met al drie die boonste kommentare. Hierid eis een van die grootste wettige slenters op straat vandag. Ek weet nie van een persoon wat tevrede was met sy koop nie. ‘n Vakansie wat jy uit jou eie sak uit betaal en self reel is in teen deel baie goedkoper en het baie minder probleme.

Anton ·

Wil iemand hulle portefeulje , met 15 punte, aan jou, wat 10 het, vererf of sommer net gee, het jy twee portefeuljes en nie een met 25 punte nie. dis mos absurd. Nou kan jy nog steeds nie gaan vakansie hou nie. Punte by oorde styg eleke jaar so moet gereeld bykoop om te kan vakansie hou.

Alicia ·

Ek behoort al vir 13jaar aan die Holiday Club. Steeds baie tevrede. Die vakansie oorde is in puik toestand. waaroor gaan die klagtes?

Rina Pretorius ·

Ek het so n vakansie punte stelsel pakket gekoop en R30 000 daarvoor betaal, as ek wou bespreek is die plekke gereeld vol en kan ek nie plek kry nie alhoewel ek n goue lid veronderstel was om te wees, ek het op die einde van die dag die pakket verkoop vir ‘n skamele R3000, R27000 in die water gegooi, ek sal dit nooit ooit weer oorweeg om so iets te koop nie,

Rina Pretorius ·

Wat maak ‘n mens as jy nie meer die paaimente kan betaal nie soos in my suster se geval, hulle wou nie die pakket terugvat nie en het haar op die ITC gaan sit. Sy kan nie die punte gebruik nie want sy het nie meer ‘n kar om te kan ry nie so wat moet sy in die geval doen

Gert Grobler ·

Daar moet n stelsel in plek geplaas word sodat huidige eienaars van punte dit kan adverteer en verkoop teen n aanvaarbare, mark gedrewe prys. Soos ek dit verstaan kan jy gladnie onslae raak van jou punte nie en as jy bloot stop om te betaal lys hulle jou op ITC. Wat gaan gebeur as ek doodgaan en my nageslag stel glad nie belang om dit oor te neem nie?

Anna-marié ·

Ons wil ons Holiday Club kanseleer! Het dit omtrent al 20jaar, gebruik nooit ons punte nie, kan nooit met vakansie gaan nie want ons het nooit geld nie en kan doodeenvoudig nie meer ons maandelikse paaiement bekostig nie. My man se salaris is net te klein en hy was ‘ n tyd sonder werk!

Anna-marié ·

Ons wil ons Holiday Club kanseleer! Het dit omtrent al 20jaar, maar gebruik dit nooit. Kan dit nie meer bekostig nie, hoe maak ons?

Francis Linstrom ·

As enige persoon jou bel om te se jy kan n groot prys wen, sommer oorsee ook, deur net vir 1 uur na n AANBIEDING te luister,WEET VIR N FEIT DAT DIT EEN VAN HIERDIE TYDDEEL SKEMAS IS. Ons is eenkeer gevang en het toe punte gekoop. Toe probeer hulle weer en my man val toe daarvoor. Hulle het toe nog die vermeteldheid gehad om vooraf te vra, wie dink dit is n foefie. My hand het soos blits opgeskiet en sommer reguit gese, ek gaan ons nie weer laat vang met slimpraatjies waarvoor jy vir die res van jou lewe en klink my al jou nageslagte ten duurste gaan betaal nie. As boere kon ons nooit mnde vooraf bespreek nie en het al derduisende aan jaarlikse heffings betaal. Hoop hierdie dien as n waarskuwing aan almal wat dit lees.

Bielie ·

Dit verstom my dat mense ‘n lewenslange kontrak met jaarlikse geldelike verpligtings. ‘n Vakansie is ‘n luuksheid waarsonder jy kan klaarkom indien jy nie geld het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.